Deur Mariëtte Odendaal
In jou geestesoog sien jy Maria met die pasgebore baba, Jesus, in haar arms, met Josef en die herders in ’n halfmaan om die jong ma en Kind, hul oë vasgenael op die krip, dof verlig deur ’n lantern wat aan ’n balk hang. Op die agtergrond staan ’n paar staldiere en ook ’n lammetjie of twee saam met die herders uit die veld.
Dit is die prentjie waaraan ons waarskynlik sal dink as ons vanjaar weer “Stille nag, heilige nag …” tydens die Kersfeesdiens of saam met ons familie om ’n versierde boom met flikkerende liggies sal sing; daar waar ons weer in die verbeelding sal inkyk op die krip in die stal van Betlehem.
Maar hierdie Baba met sy rosige wange en krulkoppie, toegedraai in doeke, het uit daardie stal wegbeweeg en grootgeword.
As volwasse man het Hy kritiese vrae aan sy eie geloofsgroep begin vra; altyd gemeet aan hoe hul lewenswyse strook met liefde, vergifnis en nederigheid.
Die moeilikheid het begin toe Jesus veral vir die randfigure in sy gemeenskap begin opkom het; vir diegene wat nie in die samelewing gereken was nie. Ook toe Hy vreesloos die owerhede en sy magsbehepte geloofsleiers aangevat het. Dit het hom uiteindelik aan die kruis laat beland.
Ons sien wêreldwyd hoe sogenaamde ‘navolgers van Jesus’ mense openlik bedrieg, beledig en geen respek vir weerloses en die wet het nie, maar steeds in gewildheid toeneem. Dis asof die mensdom se morele kompas vermorsel word deur ’n oormag van wolwe in skaapsklere; meestal in leiersposisies met geweldige mag en lewensbepalende mandate wat ’n enorme effek op miljoene menselewens het.
En dis in hierdie stukkende wêreld waar ons wat sê “Ons volg Jesus” ernstig na onsself moet gaan kyk. Staan ek nog by die krip van Betlehem, veilig in die sagte lig van die warm stal, of het ek al die pad buitentoe gevat oor die ruwe klippe van onbekende stegies, afdraaipaaie en persoonlike kruise om waarlik te verstaan wat dit beteken om Jeus in alle opsigte te volg?
Is ek nog dieselfde mens as verlede jaar hierdie tyd, met dieselfde insigte, worstelinge en verwyte, of het ek in Christus die afgelope twaalf maande ietwat wyser geword en my deur Hom laat leer? Het daar iets in my getransformeer om met sagter en deernisvoller oë na die mense om my te kyk; om Christus te laat ‘ontstaan’ daar waar ek mens is – of bly ek gestagneer soos ’n soutpilaar?
Jesus se geboorte in Betlehem was maar net die begin. Mag ons Hom met ’n nuwe, dringende opregtheid leer volg na buite, weg van ons veilige ‘stalle’ soos nog nooit vantevore nie. Mag ons vreesloos bly veg en opstaan vir reg en geregtigheid; die wêreld het dit nog nooit so nodig gehad soos nou nie.
Mag ons toelaat dat Hy ons leer hoe om hemel op aarde te help skep – dit gaan nie in ’n stal gebeur nie, maar deur die swaarkry en lyding van transformasie – om te sterf aan jouself; om met nuwe oë en ’n nuwe hart jou lewe elke dag in liefde en met deernis te leef; gereed om op te staan vir dit wat reg is.