Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

…selfs die fynste en kleinste krummeltjies is genoeg!

Onlangs was ek op ‘n kursus by Menuha (ek dink die meeste Vrystaatse leraars ken al hierdie terrein soos die palm van hul hande!) en wéér het ek besef watter groot voorreg dit is om in die bediening te kan wees! 

Ja, daar is sóveel goed wat daagliks ons energie tap en ons moedeloos en selfs briesend kwaad maak, maar elke keer kan ons terugkeer na ons Leidsman en ons leë beker voor Hom hou.

Sonder skroom of twyfel maak Hy, getrou, áltyd ons bekers weer oorlopend toe vol! 

Sien, dit wat ons as ‘dominees’ (ek hou nie baie van die woord nie, want uit geskiedenis wil mense jou dadelik op ‘n troon plaas, en dis die fout – in ‘n sekere opsig, maar dis wie ons is in hart en siel) doen, doen ons nie vir onsself, of uit onsself nie, maar alleen vir ons God. Hy wat elkeen van ons op ‘n besondere manier geroep het. Baie keer kyk ons dit mis. 

Wanneer ons dan in situasies beland waar ons uitgedaag of self dalk aangeval word (emosioneel, fisies of geestelik), wil ons uit onsself optree, en óns wil dinge op ‘n sekere manier doen… As bedienaar van God se Woord, en as God se kind, is dit baie gevaarlik, want sonder Hom is ons NIKS… 

Sonder Hom soek ons altyd na groter en groter dinge, dinge wat gelukkig maak, dinge wat betekenis gee, dinge wat sin maak…

As ons mooi oor God gaan dink en lees; watter wonders Hy regdeur die Woord gedoen het, sal ons besef dat dit nie eintlik eers kan sin maak nie – en dit gaan heeltemal téén meeste mense se grein in! 

In elk geval, elke keer wat ons dolleeg na God gaan en besef hoeveel genade en liefde en vreugde Hy elke dag in en déúr ons wil laat vloei, besef ons dat selfs ‘krummels’ wat van God kom, baie swaarder weeg as die groot dinge wat die wêreld bied! 

Selfs met ‘net krummels’ van God sal al hierdie aanvalle en uitdagings minder van ‘n klip-in-die-pad wees, en eerder ‘n geleentheid word om iets van God te beleef en te láát beleef!

Juis dan is ek mees gelukkig, omdat selfs die krummels genoeg is, want dit kom van God…

Dit wat van God kom gee lewe, dit verskaf onuitputbare vreugde, dit gee ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan en dit hou my voete stewig op die aarde en my oë gerig na Bo! 

Mag die krummels ook vir jou genoeg wees.

Mag die seën van Numeri 6 deur jóú ‘n werklikheid en belewenis word in jou roeping:

“Die Here sal julle seën en julle beskerm; 

die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 

die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!

NUMERI 6:24-26