Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Dit het die bloed van Christus gekos!

“Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God…”

– Efesiërs 1:7 (AFR83)

Einde Maart 2023 – ons staan aan die vooraand van Goeie Vrydag en Paassondag. Ons herdenk die dood en opstanding van Jesus Christus.

In Efesiërs 1 bring Paulus lof aan God die Vader wat ons in Christus geseën het. Hy noem die seëninge wat die gelowige in Christus ontvang het, een vir een!  Paulus huiwer ook nie om taal te gebruik wat die leser daaraan herinner waar die sondeval van die mens ons voor God gelaat het nie. Die vryheid van lewe deur God gegee, is verbeurd verklaar. Die mens het ‘n slaaf van die sonde geword.  Is verlossing daarvan enigsins moontlik? Ja, maar slegs as die losprys betaal sou word!

Vers 7 en 8 kondig aan: “Deur die bloed van Sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het”. Paulus verduidelik langs watter pad vryheid van sonde verkry is. Wat vroeër ’n geheim was, het God deur Christus bekend gemaak.

Vers 10:  “Sy (God se) bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus”. ’n Voorneme om die hemelse sfeer van God en die aarde as sfeer van die sondige mens, gesien as twee vyandige wêrelde teenoor mekaar deur die toedoen van die mens, met mekaar te versoen. Hoe?

Dié geheim is bekend en die wil van God is deur Christus tot uitvoer gebring.  Christus, die Gesalfde, het die twee wêrelde bymekaar gebring! Vrede en harmonie tussen God en mens het gekom, maar moet ook nou daar wees tussen God se kinders onder mekaar – juis hier waar die kerk van Jesus Christus vandag leef!

Dit het die bloed van Christus gekos!

Foto verskaf:  Ds Fanus Henning, leraar van NG Gemeente Aandbloem.