Deur Mariëtte Odendaal
Die boek Disability Inclusion in Africa – From Harmful to Life-Giving Theologies, het so pas op 23 Januarie by Langham Publishers verskyn. Dit is ’n boek wat ’n lang verwaarloosde onderwerp vanuit alle hoeke deur Afrika-studente bespreek.
Ons het met dr Nico Mostert, uitvoerende amptenaar van die NG Kerk Vrystaat se Vennote in Getuienis, wat ook die pa van ’n kind met ’n fisieke beperking is, daaroor gaan gesels.

| verskaf deur: dr Nico Mostert: Voorblad van die boek: “Disability Inclusion in Africa – From Harmful to Life-Giving Theologies”.
Nico, jy beveel hierdie boek baie sterk aan, en met goeie rede. Vertel vir ons kortliks wat die siening van die wêreldwye ekumeniese en evangeliese kerkgroepe oor gestremdhede in die verlede was en hoe dit mettertyd verander het.
“Ek is bevoorregd om deel te wees van twee wêreld-gespreksgroepe oor gestremdhede, naamlik die Wêreldraad van Kerke (WRK) wat die ekumeniese geloofsgroepe verteenwoordig, en die Lausanne-beweging wat die evangeliese geloofgroepe verteenwoordig.
“Die Wêreldraad van Kerke se werksgroep, die Ecumenical Disability Advocates Network (EDAN), het ten doel om gestremde mense met menswaardigheid te hanteer. Dit is dus nodig om gelowiges te sensiteer oor die teologie hiervan; hoe ons na gestremdes kyk en hoe ons dit behoort te verstaan sodat gestremdes met meer begrip en respek hanteer sal word.
“Daar was al lankal in hierdie geloofsgemeenskap ’n skuif in denke dat gestremdheid niks te make het met sonde of straf nie; dis deel van die skeppingsdiversiteit. Iemand met ’n sigbare of onsigbare beperking is deel van God se skepping. Ons moet as gelowiges dus leer om God in die leefwêreld van die mense wat met gestremdhede leef, raak te sien.
“Vir die Lausanne-beweging is hierdie siening egter nog iets nuuts. Verlede jaar was dit vir die eerste keer in die sestig jaar van Lausanne se bestaan dat daar tydens hul kongres in Seoel, Suid-Korea, ’n gespreksgroep oor gestremdheid begin is.
“Tot onlangs nog is gestremdheid deur hulle beskou as ’n gevolg van sonde. Gelukkig het daar intussen ook groot begripsverskuiwings ten opsigte van gestremdheid in hierdie geloofsgroepering plaasgevind.”
In die Afrika-konteks is daar egter nog ’n onbeholpenheid oor hoe om met gestremdheid om te gaan. Vertel meer, Nico, veral oor hoe bogenoemde boek ’n positiewe invloed hierop kan hê.
“In Afrika is daar oor die algemeen nog ’n sterk oortuiging dat gestremdheid die gevolg van sondige dade is waarmee die gode of voorvaders ongelukkig is en jou of jou nageslag as gevolg daarvan straf.
“Hierdie beskouing kom ongelukkig nog wyd voor en dan word hierdie mense wat in ‘onguns’ verval het baie sleg behandel. Hul gemeenskappe verwerp hulle tot verwaarloosde randfigure en in sommige gevalle word hulle selfs vermoor.
“Vir gelowiges in Afrika is dit dus ’n onderwerp van groot belang wat dringende aandag verdien en waarin die kerk ’n baie invloedryke rol kan speel.”
Ten slotte
Nico se seun, Nielbert, wat siggestremd is (Om gestremd te wees – ’n teologie-student vertel), het so pas sy BTh Honneurs-skripsie oor die Godsbeeld van die Gestremde afgehandel.
Daar is ook heelwat ander materiaal oor die onderwerp beskikbaar, asook oor die teologie van gestremdhede (the theology of disabilities).
Kontak vir dr Nico Mostert by missio@ngkvs.co.za vir meer inligting.