Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Om gestremd te wees – ’n teologie-student vertel

Deur Mariëtte Odendaal

“Ek sorg byvoorbeeld dat ek elke semester, voordat ons klasse begin, weet waar die lesinglokale van my vakke op die kampus is. Ek gaan soek hulle een vir een en memoriseer dan daardie padkaart sodat ek kan weet hoe om van alle moontlike punte tot daar te kom.”

Nielbert Mostert
Siggestremde MTh-student

Nielbert Mostert is een van ’n drieling en is met 40% sig gebore. Toe die drieling vyf jaar oud was, het die gesin vanaf Johannesburg na Bloemfontein verhuis waar hy skoolgegaan en aan die Hoërskool Sentraal gematrikuleer het.

Ná skool het hy teologie aan Kovsies, die Universiteit van die Vrystaat (UFS), gaan studeer en is tans besig met sy MTh. Hy het onlangs sy BTh Honneurs-skripsie oor die Godsbeeld van die Gestremde voltooi.

Ons het by hom gaan inloer om meer te wete te kom oor hoe hy die lewe as siggestremde ervaar.

Nielbert, hoe het jy as kind van jou siggestremdheid bewus geraak en hoe het jy geleer om daarmee saam te leef?

“Omdat ek as kind daarmee gebore is, het ek nie regtig besef dat ek dinge op ’n ander manier raaksien nie. Dit was nie asof ek iets verloor het nie.

“Die feit dat ons drie kinders was en my ouers en familie my nie anders as die ander twee behandel het nie, het my baie gehelp om myself as normaal te beskou. Dit het my geleer om nooit my gestremdheid as ’n verskoning te gebruik nie, maar om my beste te lewer in alles wat ek doen. My broer en suster het my ook baie gehelp deur my aan te moedig en te druk om elke dag by te bly.

“Omdat dit my gewoonlik langer geneem het om sekere take te doen en te voltooi, het dit my vasberadenheid en deursettingsvermoë geleer. Ek dink dit is as gevolg hiervan dat ek ook geleer het om baie geduldig te wees.

“Elke uitdaging het ’n nuwe en unieke oplossing nodig gehad. Dit het my geleer om aanpasbaar te wees, asook om elke uitdaging gefokus aan te pak en opnuut kreatief na oplossings te soek.”

En nou is jy al ’n nagraadse student aan Kovsies. Vertel ons meer van jou uitdagings as student; iets waarvan ander mense dalk nie eens bewus is nie.

“As gevolg van my beperkte sig kan ek byvoorbeeld nie dinge van ver af in detail sien nie; iets wat ’n uitdaging is, veral as jy ’n student is en nie tot voor op die bord kan sien wat die dosent daar geskryf of geprojekteer het nie. Dit kan baie frustrerend wees.

“Nog ’n uitdaging is as die lesinglokaal om een of ander praktiese rede na ’n ander plek moet skuif waar ek nog nie was nie; dan is dit nogal ’n tameletjie om dit te vind.

“Ek sorg byvoorbeeld dat ek elke semester, voordat ons klasse begin, weet waar die lesinglokale van my vakke op die kampus is. Ek gaan soek hulle een vir een en memoriseer dan daardie ‘padkaart’ sodat ek kan weet hoe om van alle moontlike punte tot daar te kom. Ek moet byvoorbeeld weet hoe die pad van die biblioteek of van die universiteit se ingangshek af tot by my lesinglokale loop. The Centre for Universal Access and Disability Support (CUADS) waarvan ek later meer sal vertel, help my baie hiermee.

“Nog ’n uitdaging is dat ek soms sukkel om bykomende klasaantekeninge wat deur dosente uitgedeel word, te lees. In sulke gevalle gebruik ek dan ’n vergrootglas-funksie op my selfoon wat kan in-zoom en waarmee die skrif sodanig vergroot dat ek die woorde op die papier kan lees.

“Soos ek reeds genoem het – al hierdie uitdagings help my om gedurig na kreatiewe oplossings te bly soek. Die vasberadenheid en uithouvermoë wat ek genoodsaak was om van kleins af te ontwikkel, help my nou baie om my studie, wat algaande moeiliker raak, onder die knie te kry.”

Daar word natuurlik ook baie van Kovsies se kant gedoen om jou te ondersteun. Vertel meer.

“Ja, daar is heelwat hulpmiddels wat my lewe as student vergemaklik. Ek mag byvoorbeeld gebruik maak van The Centre for Universal Access and Disability Support (CUADS – sien hierbo) by die universiteit. Hulle help my om toetse te kan skryf. Dit werk so: Wanneer ek ’n toets moet skryf, word daar aan my ’n leser beskikbaar gestel wat die vrae vir my mondelings lees. Ek tik dan die antwoorde op my rekenaar. Ek kry ook byvoorbeeld ekstra tyd wanneer ek toetse skryf, aangesien die proses vir my langer neem. As ek klaar die toets geskryf het, stuur CUADS ’n hardekopie van my toets na die betrokke lektor, wat dan my antwoorde moet evalueer.

“CUADS het my ook met mobility training gehelp. Dit is ’n program wat jou help om jou weg op kampus te vind. Dit werk so: Aan die begin van elke jaar stuur jy jou klasrooster aan hulle met die versoek om saam met jou na elke lesinglokaal te loop. Dit help om jou pad vanaf die hek waar jy soggens afgelaai word, te vind na jou klas, die biblioteek en na al die ander belangrike plekke op kampus.

“Ons kampus is ook voorsien van spesiale paadjies vir blindes. Aan die begin van my studies het CUADS my gewys hoe om op daardie paadjies te loop; iets wat van groot hulp was om my weg op kampus te kon vind.

“Ek is ook baie dankbaar vir my dosente wat altyd bereid was om my te help wanneer ek om hulp gevra het. Hulle het meer gedoen as wat ek ooit kon verwag.

“My mede-studente het ook ’n groot rol gespeel om my te help vorder tot waar ek vanjaar met my MTh besig is. Hulle het my gehelp om tussen klasse te kan beweeg en om my naam op die register af te merk.”

Is daar nog leemtes waaraan aandag gegee behoort te word?

“Ek is baie dankbaar teenoor die universiteit en vir dit waarmee hulle my tot dusver mee kon ondersteun.

“Daar is egter nog altyd ruimte vir verbetering. Omdat elke gestremdheid uniek is, het elke situasie spesifieke uitdagings en vereis dit doelgerigte oplossings. Daarom is daar altyd nog meer mense nodig om hiermee te help. Ek stel voor dat die universteit baie meer mense as gestremdheidsondersteuners oplei om in hierdie behoeftes te help voorsien.

“Dit sal ook baie help as daar baie meer inligting oor gestremdheid op kampus versprei kan word. Die universiteit kan dit byvoorbeeld by verwelkomings- en ander programme inkorporeer sodat medestudente ’n beter begrip kan hê van hoe mense wat met ’n gestremdheid leef, hanteer behoort te word –  hoe om hulle welkom en bemagtig te laat voel.

“Dit sal byvoorbeeld baie help as studente ’n goeie verhouding kan bou met ’n student wat met ’n gestremdheid leef. As hulle daardie student met menswaardigheid behandel, sal dit so ’n persoon baie help om met selfvertroue op kampus student te wees.”

Ekstra leesstof oor gestremdheid:

 Healing Beyond the Cure

(oorgeneem uit Center for Action and Contemplation)

Vir meer inligting kontak:

Nielbert Mostert | nielbertm22@gmail.com 

Untitled design (18)
Nielbert Mostert

 | verskaf deur: Nielbert Mostert