Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Geloofsvorming en teologiese studie

Deur dr Lyzette Hoffman, uitvoerende redakteur van “Acta Theologica” en Dekaanskantoor van die Fakulteit Teologie en Religie, UV

Studente meld vanuit verskillende agtergronde vir teologiese studie aan. Sommige wil eendag voltyds in die bediening staan, ander wil by ’n nie-regeringsorganisasie (NRO) gaan werk, nog ander oorweeg dalk om navorsing te doen of in die akademie in te gaan.  Wat teologiese studie egter anders as ander studierigtings maak, is die feit dat dit aan jou “binnekant” ook verander.

Studente leer nie net oor die Bybel, teologiese begrippe, antieke tale en praktiese vaardighede in die bediening nie. Hulle vorm hulle denke oor die “Gans Andere”, word in die proses gevorm in dit wat hulle glo en hoe hulle glo. Sodat hulle weer ander op hierdie ontdekkingstog kan lei.

Een van die modules in die tweede jaar, “Geloofsvorming”, wil studente begelei om persone van alle ouderdomme te help om in hulle geloof te groei. Die studente leer onder meer van Ontwikkelingsielkunde, teorieë oor Ervaringsgerigte Leer, Fases van Geloofsvorming en die Teologie van Jeugbediening. Studente het geleer van groepwerk terwyl hulle as groepe ’n Bybelles moes uitwerk aan die hand van Kolb se leersiklus.

Die oomblik van waarheid het aangebreek met die aanbied van daardie Bybelles aan hul klasmaats.  Hoeveel punte sal hulle toeken vir julle kommunikasievaardighede? Is julle lesplan bruikbaar vir die bepaalde ouderdomsgroep wat julle gekies het?

Hoewel die studente uit verskillende agtergronde en spiritualiteite kom, bied modules soos hierdie geleentheid om ook in jou eie geloof te groei. As teologiese  student word jou geloof gevorm deur nuwe kennis, mede-gelowiges op jou pad, ervarings in jou lewe.  

Geloofsvorming is ’n reis. ’n Voortgaande reis en ontdekking – ook wanneer jy klaar is met jou amptelike teologiese studies en geseënd genoeg is om in die bediening te beland. Mag ons reis nooit ophou nie!

 | Verskaf deur dr Lyzette Hoffman: Tweedejaarsgroep, Fakulteit Teologie en Religie, UV.