Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

So dominee, só gemeente … (Of, so gemeente, só die dominee?)

Deur ds Jan Lubbe, Voorsitter van die Kuratorium

Dis ‘n kouerige Maandagoggend in Julie. Deur die groot vensters van die raadsaal by die Sinodale Kerkkantoor in Van Heerdenstraat skyn ‘n welkome wintersonnetjie. Die vergadering van die Kuratorium se dagbestuur begin met ‘n kwaai WhatsApp: “Miskien moet jy weer Hosea 4 gaan lees en oordink, om die verval van die priesterdom in daardie tye te besef. Wat sê dit vir ons vandag?” So, ons open met Hosea 4, daardie hoofstuk uit die profeteboek met die bekende klag (en wat so dikwels misbruik word): “My volk kom om weens ‘n gebrek aan kennis” (4:6). Eindgerigswoorde. In 722 v.C. hét Samaria en Israel in die hande van die Assiriërs geval en as koninkryk uit die geskiedenis verdwyn. “Dit is die woord van die Here aan Hosea” (1:1, 2), begin die vreemde gelykenis oor die profeet en die prostituut. Vanaf Hosea 4 begin die uitleg van die gelykenis: Waar het dit skeefgeloop in dié verhouding tussen Israel en God? Die land verdor, diere kwyn, bloed vloei, bedrog gedy, liefdestrou  is weg, die Here voer ‘n “regsaak” (4:1-3). En wie is die eerste beskuldigde? “Dit is jou mense met wie Ek eintlik ‘n stryd voer, priester” (4:4). Profete struikel. “Omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp” (4:6).

“Hoe gaan dit met ons dominees?”, hang die vraag in ons vergadering.

Ds Peet Louw van Riebeekstad en voorsitter van die Steunspan Diverse Opleiding, wys daarop dat dié “kennis” (4:2, 6, 5:4, 6:6 – הַדָּ֑עַת ; jada) nie oor ‘n kurrikulum gaan nie, maar oor ‘n lewende, hegte en intiem-persoonlike verhouding met God. Dit is “kennis van God”, verwoord in die “wet van God”, sigbaar in ‘n nederig-dankbare wandel met Hom, ‘n deel in Sy troue sorg en ‘n deernisvolle leef met ander mense. Jy het dít “vergeet”, is die aanklag. Derek Kidner (in die klein kommentaartjie wat ons by ons opening bylees, “Love to the Loveless”, 1981) skryf:

“So a spiritually sightless priest is a mortal danger to himself and a disaster to others – for Hosea spells out in detail what Christ would one day sum up unforgettably in His saying on the blind who lead the blind (Mat. 1:14). Like people, like priest.”

Só die dominee, só die gemeente, sê ons vir mekaar, bewus van wie óns is. Van wie ons móés wees: Gód s’n. Ons nadenke oor die groot bedieningsnood in die Suid-Vrystaatse platteland, in woonbuurtkerke in Bloemfontein, Kroonstad en Sasolburg, in die Goudvelde … kom terug na dié vraag: Kén ons Gód? Hoe help ons as dominees mekaar hierin? Hoe hou ons ons fokus op Gód in dié oorlewingstryd vir kerke? Hoe berei ons studente voor vir ‘n egte bediening, en verankerd in ‘n geloofsverbintenis met God? Hoe loop ons saam met hulle dié pad? Wat is die essensie van ons teologiese opleiding hier in Bloemfontein?

Ons was bevoorregd om die nuwe dekaan van die Fakulteit Teologie en Religie, prof John Klaasen, by ons vergadering te ontmoet en saam te eet. Prof Klaasen is georden in die Anglikaanse Kerk, praat ‘n pragtige Afrikaans, geskool as praktiese teoloog en ‘n internasionale navorser oor teologie, versoening en gemeenskapsontwikkeling onder andere in Kanada, Noorweë en Malawi, “and in the non-rational tradition of knowledge”. Dáároor kon ons praat. Ja, oor kurrikulum-sake, die ontwikkeling van ‘n nuwe navorsingsentrum en die finansiering van opleiding, maar verál oor teologie as “kennis van God” (Hosea 4:2), oor die Skrif en ons belydenis van Christus in die opleiding, en oor die geestelike versorging van studente. Die ou bekende HMS 10 (die “preeklaboratorium”) is deur die Fakulteit omskep in ‘n veeldoelige liturgiese ruimte; ons wil ons studente op ‘n Woensdagoggend daar in die Coram Deo-ontmoeting sien en hoor sing. In die Emmaus-periode moet hul in ‘n kring sit, die Bybel lees, dit oordink, mekaar bemoedig, heenwys na God oor Wie dit alles gaan …

Dr Lyzette Hoffman het verslag gedoen oor dosentesake in die Fakulteit. Prof Francois Tolmie het demissie ontvang; dr Nina Müller van Velden is as sy opvolger in Nuwe Testament aan die gemeente Hugenoot verbind; prof Kobus Schoeman tree in Desember af. Verskeie dosente is betrokke in die Algemene Dosenteraad (landswyd) en in navorsingsprojekte van die Algemene Sinode. Ons kon saam besin oor die nuwe BDiv-kurrikulum (2025), oor die Nagraadse Diploma as oorbrugging vir tweedeloopbaan-studente, oor MTh-programme vir ons finalejaars en oor nuwe kortleerprogramme vir ouderlinge met erediensbevoegdheid (Bedienaars). Tans het ons 12 studente in die BDiv-program (die “dissipelskapsjare” in die Seminarium), 5 in die MTh-program (“apostolaatsjare”), 4 in bedienaarsopleiding, 3 diensleraars en 2 studente besig met ‘n colloqium doctum. Drie steunspanne is by die begeleiding van hierdie verskillende groepe studente betrokke, en ons het van hulle af terugvoer oor elke student se akademiese vordering en kerklike vorming gekry. In Augustus en September word al hierdie studente weer in twee retreats by Menuha saamgetrek, onder leiding van di. Johan David, Gerhard Meyer, Wouter van Velden, Thania Botha en Peet Louw, en dr Johan Nel van die Seminarium. Dit lyk of daar in Oktober vanjaar 8 kandidate vir legitimasie gaan aanmeld, en ons is ook reeds in gesprek met 5 eerstejaarstudente vir 2025 …

Dít is egter te min om te voorsien in die bedieningsbehoeftes in die NG Kerk Vrystaat. As dagbestuur het ons daarom wéér besin oor die bekendstelling van ons opleiding en werwing van geskikte studente … nee, oor die ROEPING wat God in ‘n mens se hart lê. Die NG Kerk Vrystaat sal die voorsiening van VDM’s in gemeentes moet prioritiseer. Mnr. Tertius Botha van ons Beurskomitee was ook in die vergadering; daar is vanjaar R1,2 miljoen aan beurse en die ondersteuning vir ons teologiese studente uitbetaal; ons hét fondse om alle kandidate wat aanmeld en met hul opleiding vorder, te help. Volgende jaar in April gaan ons “Sondag van die Goeie Herder” benut om in alle gemeentes ‘n oproep te laat uitgaan: Die Woordbediening regdeur die Vrystaat het VDM’s nodig – ouderlinge, tweedeloopbaan-lidmate, voltydse studente, leraars met volle bevoegdheid – kom, kom help! En die hande van jongleraars en dominees lankal in die bediening, moet deur ons VBO-Steunspan gevat word; die verfrissing én verdieping van ons kennis, verstand én hart is dringend nodig.

Want – só het ons mekaar bemoedig – Gods Woord deur die profeet Hosea praat ook van herstel. Van verootmoediging en ‘n lang tyd van luister en ‘n terugkeer na die Here; van dou op die landskap en geur in die Libanonberge en ‘n koringoes en wingerde (Hosea 3 en 14). Laat ons daarom bid vir alle dominees, ons kollegas en ons teologiese opleiding.

 | verskaf: Die Dagbestuur van die Kuratorium. (V.v.l.n.r.) Mev Anelia van den Blink (Administratiewe Beampte: Opleiding en Ontwikkeling), ds Jan Lubbe (Voorsitter: Kuratorium), prof John Klaasen (UV Dekaan van die Fakulteit Teologie en Religie), ds Gideon Lamprecht (Skriba) en dr Johan Nel (Bestuurder: Seminarium). (A.v.l.n.r.): Dr Lyzette Hoffman (Uitvoerende Redakteur: Acta Theologica verbonde aan die Fakulteit Teologie en Religie), Ds Gerhard Meyer (Steunspan Studentebegeleiding: Voorgraads/Dissipelskapsjare), Dr Deon Serfontein (Voorsitter: Steunspan Akademiese en Kerklike Evaluering), Dr Leon M Foot (Uitvoerende Amptenaar: Bedieningsbegeleiding), Ds Peet Louw (Voorsitter: Steunspan Diverse Bane/Bedienaars en Diensleraars) en Ds Johan Labuschagne (Steunspan Studentebegeleiding: Nagraads/Apostolaats- en Gemeentejaar).

 | verskaf deur: ds Jan Lubbe.