Deur dr Lyzette Hoffman, uitvoerende redakteur: Acta Theologica, Fakulteit Teologie en Religie, UV
“Ons dade moet dít uitdruk waarvoor ons hoop,” het aartsbiskop Thabo Makgoba die gehoor mee aangespoor tydens die Tutu-Jonker Gedenklesing by die Fakulteit Teologie en Religie op 23 Oktober 2024. Aartsbiskop Makgoba het verskeie ere-doktorsgrade, onder andere van die Universiteit van die Vrystaat. Die tema van hierdie jaar se gedenklesing is “Hoop, vergifnis, en profetiese getuienis in reaksie op armoede”. Hoop lê nie in die eerste plek in historiese gebeure nie, maar in die beweging van die Gees van God en die Opgestane Heer. In Suid-Afrika kan ons hoop vind deur tekens van goeie dinge wat gebeur, raak te sien. Hoop is die dryfkrag om probleme by die naam te noem, oplossings te identifiseer en mense tot aksie te mobiliseer.
Dr Eugene Fortein, Departement Historiese en Konstruktiewe Teologie aan die UV, het in sy repliek op aartsbiskop Makgoba gesê dat dit moeilik is om hoopvol te bly in die townships. Calvyn het gesê dat as jy God se kinders wond, jy Hom eintlik wond. Die Belydenis van Belhar wil die Here se kinders juis daaraan herinner dat die Here op ’n spesiale manier teenwoordig is by mense in nood. Uiteindelik lê ons hoop in Jesus – die Gewonde. Paulus getuig in 2 Korintiërs 4:7-9 “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.”
Hoop kan ’n heel praktiese gestalte kry soos om kwaliteit water te voorsien aan mense in nood. Die Amsterdam Centre for Religion and Sustainable Development het betrokke geraak by die voorsiening van kwaliteit water in Amsterdam, Kaapstad en Jakarta. Die sentrum is verbind tot ’n waterprojek in die Wes-Kaap vanaf 2021–2030. Prof Jan Jorrit Hasselaar van die Vrije Universiteit (VU), Amsterdam, is direkteur en stigter van die sentrum in Amsterdam en het hul projekte van hoop tydens die lesing gedeel. In 2024 het die sentrum by ’n nasionale veldtog van hoop in Nederland betrokke geraak, waar die jeug ook soms sonder hoop voel. Verder het hulle hierdie jaar ’n konferensie met die tema “Redes vir Hoop” aan die VU aangebied. Hasselaar het Desmond Tutu aangehaal: “Hope is being able to see that there is light despite all of the darkness”. Daar is ’n besondere band tussen die Vrije Universiteit en die twee persone wat die gedenklesingreeks geïnspireer het: Aartsbiskop Tutu het die VU verskeie kere besoek en Willie Jonker het sy doktorsgraad aan hierdie universiteit verwerf.
Die Tutu-Jonker gedenklesingreeks is in 2011 deur die Fakulteit Teologie en Religie aan die UV begin. Die breë tema van die gedenklesings is versoening, hoop en vergifnis. Die lesingreeks is vernoem na Aartsbiskop Desmond Tutu en prof Willie Jonker weens hulle prominente rol in versoening in Suid-Afrika. Hul nagedagtenis kan nie net bespreek word by gedenklesings soos hierdie nie, maar moet voortgesit word op die lang reis na hoop, geregtigheid en versoening in ons land en wêreldwyd.



|Verskaf deur: Dr Lyzette Hoffman