Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Tekste en preekmaak: Waar kop en hart ontmoet

Deur dr Nina Müller van Velden, dosent in Nuwe Testament aan die Fakulteit Teologie en Religie, UV.

In ’n onlangse nagraadse klasaanbieding is ek deel van ’n gesprek oor deeglike preek-voorbereiding – daardie proses waarbinne ’n prediker vingers skuur met die Bybeltekste in verskillende vertalings, selfs verskillende tale (as Hebreeus en Grieks deel van jou opleiding was), die verskillende interpretasie-moontlikhede wat voorgestel word, en tegnologiese hulpmiddels wat hierdie proses kan vergemaklik. Ons gesels prakties, wenke word uitgeruil, metodes voorgestel. En notas vergelyk oor wie dit gereeld regkry om reeds VDM (voor-Donderdagmiddag) ’n volronde pakkie gereed te hê om mee kansel toe te draf …

Die trant raak op ’n stadium meer persoonlik. Hoe ontmoet “kop” en “hart” in die preekmaakproses? Preekmaak is immers nie die skryf van ’n tematiese praatjie of opkikker-spreekbeurt nie. Ook nie bloot ’n akademies-teologiese oefening vir boekvrate nie. Dit vra in die eerste plek dat ’n mens die teks lees as ’n diep afhanklike gelowige, wat deur die Lewende Woord ’n ontmoeting met God het. Soms is hierdie ontmoeting maklik en vinnig; ander kere vra dit ’n spreekwoordelike “stoei” met die teks. Dan, met die kundigheid verwerf in teologiese opleiding, die kommentare byderhand, die insig wat grondtale en vertalings met voetnotas bied, die verdere verdieping. Uiteindelik dan ook die vraag: nou wat vir vandag? Hoe word die Woord verkondig op so ’n manier dat dit grondvat, relevant is tot die hier-en-nou van die lewe in 2025?

Die gesprek het weggestuur van maklike antwoorde. Eerder eerlik gedeel, as medegelowiges met mekaar. Daar is wel benadruk dat beide “kop” en “hart”, kennis en ervaring, intellek en spiritualiteit, deel is van ons menswees voor God. Ons word juis op alle dimensies ingenooi in die werk van die Gees – nie net met ons denke, of net met ons emosies nie. Daarom mag ons onsself elmboogdiep in tekste ingrawe met die hulpmiddels tot ons beskikking, die bes moontlike lees van tekste opsoek, ons opleiding en tradisie ernstig opneem. En terselfdertyd, hand-aan-hand, onsself ondergeskik bly stel aan God self wie se Woord dit is: bereid wees om opreg te vra: “Here, hoe wil U gehoor word, deur my, hierdie week?” Die nodige tyd en stilte en ruimte skep om te hoor, te sien wat God deur die Woord toelig, ook in my eie lewe.

Preekmaak is waar hart en kop ontmoet. En waar ons as predikers die voorreg het om met ’n hand-aan-hand-verhouding tussen die twee die rol, roeping en verantwoordelikheid van “verkondiger” – “proclaimer”, te vervul. Van die Goeie Nuus: hoop vir soekendes, genade vir desperates, lewe vir platgeslanes, vergifnis en heling vir gebrokenes.

Foto (verskaf): Dr Nina Müller van Velden, dosent in Nuwe Testament aan die Fakulteit Teologie en Religie, UV.