betrokke by Geloofsvorming en Jeugbediening in die Departement Praktiese en Missionale Teologie
Twintig opgewonde teologie-studente vertrek op 19 Maart na Nampopark, Bothaville vir #Imagine. Hierdie jaarlikse jeugkamp lok honderde tieners vanuit die Vrystaat, die Noord-Kaap en Noordwes. Om presies te wees was daar 1175 kampers uit 58 dorpe, van 165 kerke. Onder hulle was 101 groepleiers en 164 vrywilligers. Die teologie-studente het as vrywilligers gegaan om ‘n werkswinkel vir die tieners aan te bied.
Die werkswinkel getiteld “Daardie moeilike gesprekke” wou tieners toerus om hulle vriende in moeilike tye by te staan. Temas soos depressie, tiener-swangerskap, selfmoord, stres, boelies en verslawing is aangepak. Die tieners het van stasie tot stasie beweeg en gesien hoe die studente die temas met rollespel uitbeeld. Opgewonde gesprekke en oor-en-weer-vrae het gevolg. Die tieners is geleer om die stappe van Gerard Egan se boek The skilled helper te gebruik om ‘n gesprek met ‘n vriend aan te knoop. Die eerste vraag is: “Wat gaan op die oomblik in jou lewe aan?” Dan moet jy jouself afvra wat wil jy verander. En laastens moet jy besluit op aksiestappe om iets te begin verander. Die terugvoer van die tieners was oorweldigend positief. Die interaksie met mense nader aan hul ouderdom was vir hulle baie verrykend. Die werkswinkel se doel was nie om ‘n volledige beradingskursus te wees nie, maar het vir die tieners ‘n stuk gereedskap in die hand gegee om hul vriende te kan bystaan.
Die Skrifgedeelte van die naweek was Lukas 19:1-10 – die verhaal van Saggeus wat Jesus graag wou sien. Jesus het vir Saggeus raakgesien. Dit het sy lewe verander. In aansluiting daarby die besef: Jesus sien ons raak. Ons sien mekaar raak – “sawubona”. Deur die loop van die naweek het die teologie-studente ook iets raakgesien by die tieners – groot nood onder baie van hulle. Hartseer oor ouers wat hulle seermaak, dinge wat ander by die skool vir hulle sê, die “gemak” waarmee iemand verslaaf kan raak, onnoembare dinge wat in huise gebeur.
“Dit het my geestelike lewe na ‘n nuwe vlak getransformeer.” “Ek het my roeping herontdek.” Dit is sommige van die getuienisse van die studente wat die naweek meegemaak het. Vir die studente was hierdie naweek ‘n besondere blootstelling aan praktiese jeugwerk en jeugpastoraat. Hulle leer die teologiese konsepte en die teoretiese agtergrond in die klas. Maar dit is juis praktiese ervarings soos hierdie wat studente opnuut laat besef hoekom hulle teologie studeer. Die studente het ‘n ryk geestelike belewenis gehad deur die lofprysing en aanbiddingsgeleenthede in die gesamentlike byeenkomste. Die puik organisering van die kamp het hulle ook ‘n idee gegee wat alles daar ingaan om so ‘n groot geleentheid so glad te laat verloop.
Die Fakulteit is trots op haar studente wat tydens #Imagine ‘n verskil in tieners se lewe kon maak. Dit is waarvoor studente voorberei moet word – om ander raak te sien en in die proses instrumente in God se hand te wees.
| Verskaf: Depressie-groepsgesprekke
| Verskaf: Selfmoord-groepsgesprekke
| Verskaf: Boelie-groepsgesprekke