Departement Ou en Nuwe Testamentiese Studies, Fakulteit Teologie en Religie, UV
Die akademiese jaar beweeg spoedig einde se kant toe. Die kampus raak al hoe stiller en die verkeer al hoe minder. Namate die laaste nasienwerk afgehandel word, raak die vooruitsig van rus toenemend ’n werklikheid. Te midde van beplanning vir 2025 is daar ook geleentheid om terug te kyk op 2024. Ek vra myself af: wat het ek geleer by studente hierdie jaar? Waar het ek God raakgesien in die lesinglokaal? Hoe het geloof en kopkennis mekaar ontmoet?
Die voordeel daarvan om vir meerdere jaargroepe te doseer, is dat die groei en ontwikkeling van studente jaar na jaar sigbaar raak. My hoogtepunt was sonder twyfel die ontmoetings met die finalejaar- (vierdejaar-) BDiv-groep. So in die pylvak van hul studiereis – ses maande tot die toeknoop van hierdie hoofstuk – raak die onderskeiding van roeping al meer prominent. “Wat volgende?” “Watter tipe bediening?” “Voltyds of deeltyds?” “Wat vra die Here van my?” “Waar kan ek ’n verskil maak?” “Kan ek enigsins ’n verskil maak?”…
Binne die kontoere van akademiese gesprekke in lokaal HMS10 maak die studente hart oop en vra vrae. Met die woord-en-daad Jakobusbrief, die aansporing te midde van lyding in die Petrusbriewe, en die ontledigde Christusbeeld van die Fillippense-brief betree ons saam heilige grond. Ek het allermins al die antwoorde. Hulle is nuuskierig oor perspektiewe en raad. Ons kyk waar ons die konneksies kan maak tussen hart, kop en hand. Tussen studentelewe en die werklikhede tuis. Tussen die beskermde omgewing van kampus en die nood in die wêreld. Kry ’n blik op mekaar se diverse kerk-ervarings. Hoor dat sommige meer ontvanklik is vir diegene met teologiese kwalifikasies, ander nie. Dat sommige in ruimtes gaan beweeg met ’n openheid vir mans én vroue om leiding in gemeentes te neem, maar ander nie. Bedink maniere om ’n bedieningsroeping uit te leef sonder ’n aanstelling of ’n beroep na ’n gemeente. Dalk ’n Bybelstudiegroep? Vrywillige betrokkenheid by ’n jeugaksie? Besoeke aan bejaardes of siekes? Oor en oor die herinnering: die Here gaan jou nie los nie. Getrou was die Skeppergod tot hier, en Sy getrouheid staan vas. Moenie isoleer nie – saam met medegelowiges hoor ons Sy stem, onderskei ons, vind ons leiding. Ek herhaal weer en weer: jy is geseën met unieke gawes. Die Here wil jou gebruik. Stel jou oop om verras te word deur die Gees. Maak erns met jou verhouding met die Here.
Ek preek vir myself. Word uitgedaag. Prewel biddend. Dra die gesigte voor my aan die Here op.
By Hebreërs 11:1 staan ons lank stil. Sien die helde- en heldinnegalery en word herinner aan ons geloofsouers en -grootouers wat die pad voor ons geloop het. “Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ’n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.” Getrou is die Here. Gister. Vandag. En môre.
Departement Ou en Nuwe Testamentiese Studies, Fakulteit Teologie en Religie, UV.