Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

#Imagine 2025 maak ’n verskil in tieners en hulle leiers se lewens!

Deur ds Christo Nel,
Sentrale #Imagine fees-koördineerder, Nasionale Uitvoerende Komitee

So kom #Imagine NAMPO van 4 tot 6 April al nader … en hoe nader dit kom, hoe meer sien ons dit word al natter! Ons staal onsself vir ’n sopnat naweek en inderdaad was dit sopnat, maar op die regte tye het die Here die reën sagter laat word en selfs plek-plek laat ophou.

’n Mamma sê ná #Imagine vir my die kinders kon nie ophou praat nie, maar hulle het nooit na die reën verwys nie! 

Die kinders slaap in sale en onder afdakke en almal slaap warm en droog! Dankie NAMPO!

In alle opsigte was #Imagine 2025 ’n perfekte #Imagine!

Alles loop seepglad en 1 203 mense is deel van die naweek: 890 tieners en 313 grootmense. Uit die Vrystaat het 449 tieners en volwassenes #Imagine bygewoon. Tieners loof en prys die Here soos net hulle kan. Die Ervaring- (Encounter) stasies verander lewens. Die sprekers deel die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put op treffende wyse en tieners kan identifiseer met haar en met Jesus se ingrype in haar EN hulle lewe.

In die werkswinkels leer tieners hoe om te bid en Bybelstudie te doen. Hulle leer oor plaaslike uitreike, hoe om vriende te help in krisistye en hoe om met kinders te werk in “#Imagine-kids” jeugweke. Ag, en sommer nog ’n klomp ander toerusting-werkswinkels. Hulle lag, neem deel aan die NAMPO-500 Kaskar-kompetisie en geniet mekaar se geselskap. Op vele geleentheid het tieners getuig: “Ons het nog nooit soveel liefde op een plek gesien nie!”

Sondagoggend kom getuig ’n versorger van kinders (ons beskerm haar identiteit). Sy is van ’n heel ander geloof, maar sy moes saamkom om die kinders te bring. Sy getuig van hierdie liefde, en daar voor 1 202 ander mense bely sy dat sy hierdie naweek Jesus ontmoet het en dat sy “convert” na Jesus toe! ’n Tienerdogter in ’n persoonlike gesprek, lees haar naam in Johannes 10:28 in: “Ek gee … die Ewige Lewe, en … sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Toe sy haar naam in die eerste plekkie moet insit, begin sy huil en besef – die Here gee ook vir HAAR die Ewige Lewe!

Daar is honderde stories. Kyk die Sondagoggend-video van die laaste sessie en die getuienis wat hierby aangeheg is.

By die “Care Team” (Sorgspan) het honderde kinders met iemand gesels oor die naweek en sommer net iets uitgesorteer met iemand of met die Here. Elke groep was kosbaar en tieners leer om hulle “dors” te les by Jesus, te “drink” uit die Fontein van die Lewe. Hulle word gemotiveer om Sondag terug te gaan en te gaan “deel” met vriende, familie, en andere oor wat die naweek met hulle gebeur het. Hulle leer ook om te gaan “golwe maak” waar hulle ook al kom in die lewe!

En met al die reën was “making waves” die perfekte tema vir die naweek!

Aan God al die EER!

Christo Nel is al vier jaar lank die fees-koördineerder van die Sentrale #Imagine Fees en is tans op die Nasionale Uitvoerende Komitee wat al die verskillende feeste saam koördineer. Hierdie jaar was daar ook ’n Wes-Kaapse fees in Bredasdorp en ’n klein Oos-Kaapse fees in Jeffreysbaai (vir die eerste keer ná Covid).

Die Nasionale Uitvoerende Komitee bestaan uit: Anriëtte de Ridder (PSD-Jeug, Wes-Kaap); Fouché de Wet (leraar in die Paarl); Teodor van der Spuy (leraar van Moreletapark); Barbara-Mari Jacobs (leraar in Port Elizabeth) en Christo Nel (leraar in Wesselsbron).

’n Groepleier se getuienis

Verbeel jou,
Imagine,
#Imagine.


Nogals ’n woord wat die laaste maand in ons huis ge-“trend” het!


Verbeel jou:
870 Tieners;
212 Volwasse “volunteers”;
121 Leiers;
Nampo Park, en
omtrent 100 mm reën.


Jy verbeel jou seker dis chaos … maar nee, dit is nie. Elke kind het ’n slaapplek. Elke 10 kinders het ’n leier wat by hul slaap. Dis ’n naweek van pret, plesier en “power-up” in jou geestelike wêreld.

Onbeskryflik! So baie mense.

Maar saam word gespeel.
Saam word ge-“praise and worship”.
Saam sielsvoedende sessies.
Bid saam met vriende en geestelike leiers.


Van 6 vm tot 12 nm word al die bostaande aktiwiteite ingewerk.


Saam word geëet. Binne 15 minute het 1 203 mense ’n vars kospakkie in die hand.

Daar is ’n hele handleiding saamgestel.
Daar is “encounter”-stasies;
Bid-stasies;
Care Sentrum;
ER 24;
Filmmakers;
Fotograwe;
’n “Charging station” vir jou foon;
Boorgatwater;
Werkswinkels vir byvoorbeeld sosiale media,
uitreike;
Gratis koffie en tee, en
my gunsteling: “Fun guys”!!!


Eintlik wil ek so baie vertel, maar dis net te groot om woorde te kry.

Met ’n hele span wat vooraf baie hard gewerk en beplan het, loop die naweek seepglad, maar ons weet ook dis net omdat die Here daar is. Daar waar een of meer in My naam vergader …


My wens is dat elke hoërskoolleerder ten minste een keer in sy/haar lewe ’n #Imagine kan bywoon. Die lekkerste vir my: “Love at first sight” is nie net vir verliefdes nie, dit is ook vir Christene wat mekaar die eerste keer ontmoet.



Gedeelde liefde.


Dis waarom #Imagine werk!

Ds Shaun Darker van NG Gemeente Welkom-Suid was ook daar en hy skryf toe die volgende gedig:

Imagine the Rain


We came to camp with dreams so bright,
Of sunshine days and stars at night,
But lo, the heavens did conspire—
And drenched our dreams in mud and mire.


They called it Imagine, bold and grand,
A youth camp set on farmy land,
Where teens would grow in faith and song—
If only the weather played along.


Devotions done beneath a tarp,
The patter of the rain a soggy harp.
A worship set in wellies worn,
With every note the skies would mourn.


We huddled close, soaked to the bone,
Our phones now dead, our snacks all gone.
We prayed for sun, and a clear view,
Or just one sock not wet through


The mud fights came as spirits sank,
Nampo now seated on the riverbank.
One guy baptised himself by chance —
A full-body plunge in mud break dance.



So thank you, rain, for tests and trials,
For mud-filled shoes and squishy smiles.
At Imagine, soaked but truly free —
God showed up, right there … for all to see!

 | verskaf deur: ds Christo Nel