Leierskap bepaal hoe doeltreffend enige organisasie funksioneer – vanaf jou nasionale- of plaaslike regerings, tot jou opleidingsinstansies en hospitale. En dit geld natuurlik ook vir die kerk.
Vra jy vir ds Jan Venter, sameroeper van die Leierskap Netwerk van die NG Kerk Sinode Vrystaat waarom so ’n netwerk van belang is vir die kerk, antwoord hy as volg: “Dit is vir enige organisasie van kardinale belang om ’n sinvolle en deurlopende gesprek oor leierskap te hê, des te meer nog vir die kerk.”
Venter verduidelik: “Die kerk is nie ’n korporasie of maatskappy nie, maar sou geklassifiseer kon word as ’n vrywillige diensorganisasie. Gevolglik moet die kerk, anders as maatskappye, baie swaarder leun op die ontwikkeling van verantwoordelike, weldeurdagte en effektiewe leierskap ten opsigte van elke faset van haar funksionering. Die Leierskap Netwerk wil graag help om hierdie soort gesprekke te inisieer en te stimuleer sodat daar genoeg blootstelling, inligting en geleenthede ten bate van leierskapsontwikkeling sal plaasvind.”
Venter waarsku egter dat die kerk in die verlede swaar geleun het op die modernistiese strukturele elemente van funksionering. “Dit kan ook nie anders nie, omdat ons strukture en metodiek baie sterk deur die modernisme gevorm is,” verduidelik hy. “Sedert die laat sewentigs het die samelewing se nadenke oor leierskap begin wegskuif van die meer strukturele– of meganiese benadering na ’n meer organiese, diensgeoriënteerde benadering. Sekulêre skrywers soos Greenleaf, Wheatley en Scharmer het bydraes begin lewer oor die leier as ‘servant’ en die meer spirituele of geestelike wese daarvan. As kerk het ons wat dit betref egter (verbasend genoeg) agtergebly en het ons dringend nodig om die wesenlike van leierskap organies en diensgeoriënteerd te verken, omdat ons in waters vaar waar die strukturele benadering ons al hoe meer op die rotse gaan laat beland.”
So, hoe gaan dit ons help as kerk? Hierop antwoord Venter: “Leraars, gemeenteleiers en lidmate sal ontsaglik baie baat vind by ’n hernude gesprek oor leierskap wat nie resepmatige lysies en teoretiese modelle bespreek nie, maar wat die dieper spirituele en funksionele aspekte van leierskap op ’n eenvoudige en praktiese manier aan die orde stel. Soos dissipelskap die basiese DNS van kerkwees behoort te wees, behoort Christelik-gefundeerde, organiese, funksionele leierskap die basiese DNS van ons funksionering te wees.”
Gelukkig kan enige lidmaat direk by hierdie Leierskap Netwerk baat vind. Venter verduidelik: “Aanvullend tot hierdie gesprek is die Clarens Hermitage in die skilderagtige Oos-Vrystaat. Die Hermitage wil ’n lewensgebaseerde ruimte wees waar mense die spirituele kern van lewe en leierskap kan ontdek en beleef. Dit bied ’n ruimte waar leierspanne en ook individue na behoefte nuwe paaie kan begin uitkerf en ontdek.”
Hou gerus in die volgende maande die nuwe webwerf van die Vrystaat Sinode dop. Daar sal ’n gespreksruimte geskep word waar enigeen kan deelneem aan hierdie gesprek. As daar leraars, gemeenteleiers of lidmate is wat belangstel om deel van die gesprek te wees, kan die Leierskap Netwerk via die webwerf gekontak word sodat julle kan begin saamgesels.
Kontak ds Jan Venter by j.a.n.venter@icloud.com vir meer inligting.

