Deur dr Lyzette Hoffman, uitvoerende redakteur: “Acta Theologica”, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van die Vrystaat (UV)
Een van die belangrike vaardighede wat ’n teologiestudent moet aanleer, is om “kontekstueel” te wees. ’n Tipiese vraag in ’n werkstuk sal wees: “Pas … toe in jou konteks / ’n gemeente se konteks vandag.” Studente moet ook leer om “kontekstueel” te preek. Die konteks is belangrik vir die werklike verstaan en toepas van begrippe. Dit bring ons dan ook by die konteks van Advent waar die kerkjaar inbeweeg.
Jesus se koms na die aarde het God op ’n baie tasbare vlak “kontekstueel” gemaak. In Filippense 2:6-7 lees ons: “Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” Trouens, Jesus het so eg “gewoon mens” geword dat baie mense nie eers besef het hoe besonders Hy eintlik is nie.
Filippense 2:6 getuig dat Jesus besonders was voor Sy geboorte in Bethlehem. Hy, die Ewige, Almagtige, Onvergelykbare – in die “Gestalte van God” – het uit liefde gekies om “kontekstueel” te word – ingeperkte mens te word. Hy was besonders terwyl Hy op aarde geleef het (vers 7-8). Die besondere lê veral ook daarin dat Hy so “gewoon” deel was van die lewe dat baie mense niks besonders van Hom verwag het nie.
Laastens herinner Filippense 2:9-11 ons dat Jesus, Seun van God en ware mens, ná Sy opstanding “uitermate” verhoog is. ’n Naam bo elke Naam. Jesus is die mees besondere persoon wat ons ooit persoonlik sal ken, verhoog bo alles en almal. Eendag sal elke knie voor Hom moet buig. Elke tong sal (met vreugde of met spyt) moet erken “Jesus is die Here”!
Die uitdaging aan elke kind van die Here, met of sonder allerlei kwalifikasies, is om kontekstueel te wees. Maak die Here sigbaar, leef Sy liefde en genade uit in jou konteks.
| Verskaf: Dr Lyzette Hoffman, uitvoerende redakteur: “Acta Theologica”, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van die Vrystaat

