As studenteleraar hoor ek die afgelope jaar twee relatief gereelde opmerkings, nie net in sosiale kringe nie, maar ook in meer amptelike kerklike vergaderinge. Twee opmerkings wat mens ‘n oomblik verder laat dink oor dié kenmerk van die kerk: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh 13:35). Opmerking 1 (hoopvol): “Ons is eintlik een groot familie; die olifant in die vertrek is ons vreemdheid vir mekaar.” en, opmerking 2: “Ons kan nie toelaat dat die moeilike en (te verstane) komplekse aspekte van die gesprekke oor eenheid en eenwording ons plaaslike verhoudinge belemmer nie.” Opmerkings wat ons óók onder teologie studente gehoor het…
Oom Andries Hoffman getuig êrens uit sy skatkis van ervaring dat mooi samewerking telkens uit mooi verhoudings begin het. En so, in die saam droom oor moontlike verdieping in ons verhoudinge en samewerking binne die kerklike begeleiding en vorming van teologie studente, het ‘n groep van ons ontdek dat ons stadig maar seker beweeg van vreemdelinge na kennisse; mense wat eerlik kan wees oor die olifant in die vertrek. Die ontdekking (opmerking 1, dankie Luther!) dat ons nog heeltyd eintlik een groot familie is en dat die vreemdheid verdwyn soos wat ons intensioneel tyd saam spandeer. ‘n Beweging na ruimtes van moontlikhede rondom vriendskap. En in hierdie proses, met ‘n groeiende sensitiwiteit vir mekaar se eie ervarings in gedeelde verhale, dat ons nie kan toelaat dat ons onderlinge verhoudinge as mentors en studente deur moeilike kontekste belemmer word nie (opmerking 2). Ons het saam geskryf aan ‘n dokument oor moontlike ruimtes vir blootstelling aan mekaar en besluit om so ‘n ruimte te skep: om saam te gaan kamp op Mooigenoeg, saam te eet, te rus, te swem en te leef – al is dit net vir ‘n naweek!
Die naweek word toe – in die tweede jaar van inperking en isolasie – 16 tot 18 April, kort ná Paasfees en op pad na Pinkster. Dis dalk net ‘n “Mooigenoeg” tyd vir koinonia. En so daag ongeveer 40 studente en mentors op uit drie van ons vier familiekerke, met slaapsakke, verwagtings en sommige met bordegoed. ‘n Kamp met ‘n eenvoudige tema: “Van vreemdelinge na vriende”. Vrydag ontmoet ons mekaar speel-speel. Saterdag ontdek ons vertel-vertel die dieper kontoere van ons stories. Sondag vier ons saam-saam ons eenheid in Christus. Iets oor die Vrydag: Bereidwillige harte oor ‘n wye spektrum van ouderdomme het die kamp omraam met hul energie en wysheid. Dis so lekker om die Here te dien en te ontdek dat ons harte saam klop oor die grote Modimo wat ons dien. Jy kon dit hoor en ervaar in ons sang uit die nuwe gesamentlike Liedboek van ons familie (koop dit!). Saterdag, en die mooi verhaal van Tannie Linda Cornelissen (voorsitter van die VGKSA Kuratorium) in gesprek met dr. Nico Mostert en Oom Andries, wat ‘n spieël voor ons ophou: wie ons is, ten diepste, lê verborge en gekoester in wie God is. Sondag: ‘n gesamentlike erediens en boodskap waarin leiers uit die drie familiekerke ons oproep. Hoe is dit moontlik dat as ons dan een familie is, ons nog as vreemdelinge teenoor mekaar staan? Christus en sy kruis open die weg waarop Hy ons voorgaan; dat Hy ons broer is en ons as aangenome kinders in die groot genade van God en sy familie toevou. Nagmaal. Sang. Groot glimlagte en die uitruil van selnommers met die groet. Dankbare harte.
As laaste ‘n woord oor Gereformeerdheid: Ecclesia reformata semper reformanda est secundum verbum Dei (the reformed Church must be always reforming according to the Word of God). Kerke van die Reformasie is altyd besig om hulself weer te ondersoek, hul lering te oorweeg en bereid wees om te groei in die ortodokse Christelike geloof soos geopenbaar in die Bybel. Wie is ons dan: Vreemdelinge, vriende, familie? Dis hoog tyd vir só ‘n reformasie, dankbaar dat ons Johannes 13:35 het. Christus, in alles en almal. Hier is ons een.
Ds Chris de Vries | Voorsitter: Steunspan Begeleiding (Kuratorium van die NG Kerk Vrystaat).