Deur dr Suzanne van der Merwe,
besigheidshoof en woordvoerder van Kroniese Kronieke
Wanneer broosheid en deernis ontmoet, ontvlam hoop
Hierdie artikel spruit voort uit Kroniese Kronieke se voortgaande navorsing oor die persoonlike ervaring van kroniese siekte, met die fokus op selfbestuur, versorger-ondersteuning, professionele begeleiding en die werks- en gemeenskapsruimtes waarin mense met kroniese siektes leef. Vanuit ’n waardegedrewe raamwerk wat ook binne geloofskringe aanklank vind, word wetenskaplike insigte en persoonlike verhale met mekaar in gesprek gebring.
Dr Suzanne van der Merwe
Besigheidshoof en Woordvoerder: Kroniese Kronieke
Intermezzo
Broosheid en deernis is twee begrippe wat dr Van der Merwe tydens Maskerade 2026 – ’n Simfonie van Eerlikheid en Hoop uitgelig het en dit vorm ’n natuurlike intermezzo ná die vorige drie artikels wat in Vrypos-uitgawes verskyn het, naamlik Narratiewe van ’n nuwe normaal met rumatoïede outo-immuunsiekte (ROS), Inflammatoriese dermsiekte (IDS) en Diabetes mellitus (DMT-1).
Deernis laat maskers val
Ons moet erken dat kroniese siekwees mense dikwels in ’n wêreld van maskers laat leef, want daar is ’n soort moegheid wat ’n mens nie maklik kan verduidelik nie en wat ander nog minder verstaan. Dit is nie bloot liggaamlike tamheid nie, maar moegheid wat gepaard gaan met uithou en aanhou – dag vir dag en nag vir nag. Dit is die moegheid van wakker word om weer dieselfde pyn en lyding te ontmoet; om te glimlag wanneer jy eintlik nie energie het nie en wanneer die donkerte diep en swaar is (Lamentoso, 2025:30, Swan en Van der Merwe).
Mense wat met ’n kroniese siekte hul lewensreis aandurf, bemeester dikwels die kuns om “normaal” te lyk sodat ander gemaklik kan voel. Sonder dat hulle dit noodwendig agterkom, begin daar dan ’n afstand groei tussen dit wat mense sien en dit wat werklik in ’n kronies siek persoon leef. Dalk is dit wat maskers eintlik is: nie valsheid nie, maar oorlewing, want menslike broosheid maak mense ongemaklik. Ons eie broosheid maak ons ook ongemaklik, of ons nou goeie gesondheid beleef of in skreiende siektepyn worstel.
Broosheid in Teksperspektief
Met hierdie erkenning tref dit my keer op keer hoe absoluut eerlik die Bybel oor broosheid is. Ek dink aan die Hebreeuse woord afar, wat in Afrikaans as stof vertaal word. Psalm 103:14 sê: “Hy, die Here, weet waarvan ons gemaak is; Hy hou in gedagte dat ons maar stof is.” Dit is geen veroordeling nie en ook nie neerhalend bedoel nie. Dit verwoord eerder ’n werklikheid van broosheid wat God in aanmerking neem, naamlik dat mense in wese broos en breekbaar is. Paulus neem die tema later op met die woorde: “Ons … is maar kleipotte wat maklik breek” (2 Korintiërs 4:7). Dit is duidelik dat God nie vergeet dat liggame moeg word en harte swaar raak nie.
Dalk vergeet ons dit juis maklik van mekaar. Ons raak haastig met mense se pyn. Ons raak ongeduldig met ons eie én ander se pyn en probeer lyding oplos omdat ons eintlik nie weet hoe om dit saam te dra nie. Tog haas die Bybel nooit by broosheid verby nie. Inteendeel, daar is soveel verhale van mense wat uitgeput geraak het: Elia wat onder die besembos gaan lê; Hanna wat huil sonder woorde; Job wat in stilte op die ashoop sit; Dawid wat psalms van klaaglied en gebed sing; dissipels wat aan die slaap raak. Die Bybel skram nie hiervan weg nie: menswees is om broos te wees. Tog bly menslike broosheid moeilik en ongemaklik, en kroniese siekwees met outo-immuunsiektes soos ROS, DMT-1 en Crohn-siekte eis ’n dubbele tol.
Deernis in Teksperspektief
Broosheid is ontblotend, en daarom dra ons maskers, totdat iemand jou met deernis ontmoet – egte deernis. Die Hebreeuse begrip vir deernis is rachamim, afgelei van die stam rechem, wat “baarmoeder” beteken. Dit laat ’n mens regop sit. Hoe diep is die betekenis daarvan dat God se deernis vir mense beskryf word met taal en beelde van ’n liefde wat dra, koester, beskerm, voed en naby hou. Dit is byna ondenkbaar teer. God skram nooit weg van menslike broosheid nie, maar dra dit, soos sy Seun later as brose mens die kruis na Golgota aangesleep en die broosheid van elke mens op sy skouers geneem het.
So ontmoet ons Jesus ook in die Evangelies wanneer Hy mense met deernis benader. Die Griekse woord splagchnizomai beskryf daardie deernis as iets wat Hom diep binne-in roer – só diep dat sy hele wese in beroering kom. Deernis in die Bybel is dus nie koue simpatie nie. Dit is nie afstandelike jammerte nie. Dit is liefde wat in die ingewande beweeg, wat die een mens in beroering bring oor die ander.
Jesus het nie klinies met brose mense omgegaan nie. Wanneer Hy die skare sien wat op Hom wag, word Hy innerlik geroer. Wanneer Hy die vrou by die put ontmoet, word Hy innerlik geroer. Wanneer Hy die melaatse aanraak, word Hy innerlik geroer. Die Seun van God staan nie op ’n veilige afstand van menslike pyn en brose siekwees nie. Hy beweeg nader, en juis daar begin maskers val.
Wanneer maskers val
Mense laat sak maskers waar hulle veilig genoeg voel om werklik gesien te word, soos wanneer Jesus se deernis ruimte skep vir waarheid. Dit is nie goedkoop genade of oppervlakkige aanvaarding nie, maar ’n ontmoeting waarin mense nie langer hoef weg te kruip nie. Ware deernis sê: “Jy hoef nie voor My weg te hardloop nie.” Dit laat ’n mens wonder of dit nie is waarna mense die meeste verlang nie – nie noodwendig dat iemand alles moet regmaak nie, maar dat iemand werklik teenwoordig sal wees; dat iemand nie wegkyk van die broosheid wat hulle konfronteer nie. Daar is immers iets ongelooflik eensaam daaraan om lank pyn te dra.
Mense raak dikwels moeg vir iemand anders se kroniese siekte lank voordat die persoon self daarvoor moeg raak. Gesprekke beweeg aan. Die wêreld hou aan draai, maar die siek persoon se liggaam en hart bly swaar, en dit is dikwels daar waar maskers permanent word, want kronies siek mense wil nie die atmosfeer verander nie. Hulle wil nie altyd “daardie persoon” wees wat oor pyn en moedeloosheid praat nie. Hulle wil ander nie ongemaklik laat voel nie. Daarom kies hulle eerder die glimlag wat die pyn maskeer; eerder om minder oor donker moedeloosheid te sê as om te probeer verduidelik en tog die ander te ontstel.
Deernis doen iets besonders. Dit gee mense toestemming om nie heeltyd sterk te wees nie. Dit is asof die liggaam selfs kan begin ontspan wanneer iemand veilig voel. Dan word dit makliker om te sê: “Ek is moeg. Ek is bang. Ek weet nie meer hoe om dit te dra nie.” Vreemd genoeg is dit nie die einde van hoop nie, maar dikwels die begin daarvan.
Hoop in Teksperspektief
Elpis – hoop – beteken nie oppervlakkige optimisme nie. Dit is nie “Alles sal seker uitwerk” nie. Dit is eerder ’n diep sekerheid dat liefde steeds teenwoordig is, selfs in broosheid; dat God nie verdwyn wanneer mense breek nie. Dalk is dit die wonder van Christelike hoop: dit word nie uit ontkenning gebore nie, maar waar iemand ontdek dat wegsteek agter ’n masker onnodig is.
Ek dink aan die mense rondom Jesus. Hoe baie van hulle het waarskynlik vir die eerste keer gevoel dat voorgee onnodig geraak het in die teenwoordigheid van sy deernis? Die blindes, melaatses, treurendes en elkeen wat die einde van hul krag bereik het. Jesus het mense laat voel dat hulle méér is as hul toestand en dat hulle nie weens hul broosheid self die probleem geword het nie. Hy het mense gesien, en nie net die wond, die siekte of die worsteling nie. Miskien is dit wat deernis uiteindelik doen: dit kyk verby die masker, verby die ooglopende funksionering en verby die maskerglimlag. Die seker wete bly: God sien ons steeds en dit bring hoop.
’n Roeping tot deernis
Ek wonder hoe ons gemeenskappe sou lyk as ons met ’n bietjie meer deernis sou leef; as ons minder bang sou wees vir broosheid; as ons sou ophou dink dat mense altyd sterk moet klink om geloofwaardige Christene te wees. Wat as ons leer dat teenwoordigheid soms heiliger is as antwoorde? Dat dit genoeg kan wees om by iemand te sit, te luister en nie van pyn weg te skram nie? Mense onthou dalk nie altyd wat ons vir hulle gesê het nie, maar hulle onthou wie hulle veilig laat voel het. Kronies siek mense weet by wie hulle nie maskers hoef te dra nie.
Dit bring hoop vir die kroniese reis van siekwees. Nie luidrugtige hoop nie. Nie triomfantelike hoop nie. Net hoop wat soos ’n klein vlammetjie opflikker, maar genoeg lig gee sodat iemand weer kan sien en vryer kan asemhaal; genoeg warmte sodat iemand nie meer só alleen voel nie. Miskien is dit een van die heiligste roepings van die kerk en van Christengelowiges: om mense van deernis te wees; mense by wie maskers stadig kan val; mense wat sag genoeg leef sodat kronies siek én “kronies” gesonde mense nie meer agter maskers hoef weg te kruip nie.
Oorweeg jy dit om jou verhaal met Kroniese Kronieke te deel?
Kontak dr Suzanne van der Merwe by suzanne@kroniesekroniekeonline.com
Vir meer inligting kan jy hul webwerf besoek.
Volg hulle op Facebook en YouTube.
Kry die Kroniese Kronieke-boek, Lamentoso, te koop op die aanlyn-winkel.
Volg dié skakels vir meer inligting oor rumatoïede en ander outo-immuunsiektes deur Kroniese Kronieke se webblad te besoek.
Volg hulle op Facebook (@kroniesekronieke) en YouTube (@KronieseKronieke).
Kry die Kroniese Kronieke-boek, Lamentoso, te koop op die aanlyn-winkel.

