Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Aan die stuur van ons Sinode

Deur Mariëtte Odendaal

Ons weet almal hoe belangrik dit is dat die regte mense in bestuursberoepe aangestel moet word. Dit geld nie net vir ons plaaslike regerings, boere, skoolhoofde, projek- en finansiële bestuurders nie, maar ook veral vir die bestuur van ons NG Kerk Sinode Vrystaat.

Tydens die afgelope 55ste Sinode wat vanaf 7 tot 10 Junie in Nampo naby Bothaville plaasgevind het, is die volgende vyf nuwe dagbestuurlede (interimkomiteelede) van die moderamen deur afgevaardigdes van 149 gemeentes (wat ongeveer 70,000 lidmate verteenwoordig) vir die volgende vier jaar verkies:

Voorsitter: Ds Christo Weideman, leraar van die NG Gemeente Kroonheuwel-Noord en voorsitter van die STK (Sinodale Taakspan Kerkorde), wat ds Jan Lubbe opvolg.

Ondervoorsitter: Ds Riaan van Zyl, leraar van die NG Gemeente Bethlehem-Wes. Dr Dawie Botes was sy voorganger.

Skriba: Dr Leon M Foot, uitvoerende amptenaar van Bedieningsbegeleiding. Hy volg ds Hannes du Plessis op.

Aktuarius: Dr Leon Oosthuizen, leraar van die NG Gemeente Langenhovenpark, wat ds Christo Weideman opvolg.

Addisionele Lid: Ds Charles James, leraar van die NG Gemeente Pellissier. Ds Adrie Potgieter was sy voorganger.

Voorsitter: Ds Christo Weideman, leraar van Kroonheuwel-Noord en voorsitter van die STK (Sinodale Taakspan Kerkorde), wat ds Jan Lubbe opvolg.
Ondervoorsitter: Ds Riaan van Zyl, predikant van Betlehem-Wes. Dr Dawie Botes was sy voorganger.
Skriba: Dr Leon Foot, uitvoerende amptenaar van Bedieningsbegeleiding. Hy volg ds Hannes du Plessis op.
Aktuarius: Dr Leon Oosthuizen van die Gemeente Langenhovenpark wat ds Christo Weideman opvolg.
Addisionele Lid: Ds Charles James van die NG Gemeente Pellissier. Ds Adrie Potgieter was sy voorganger.

Mag die Here aan julle elkeen die wysheid gee vir elke besluit wat geneem moet word, moed vir elke uitdaging en sagmoedigheid vir elke gesprek. Mag Christus se liefde die basis van julle leierskap wees, en die Gees se stem die rigtingwyser op elke nuwe pad wat as eenheid saam gestap moet word. Mag julle diens aan die Sinode Vrystaat ’n bron van hoop, eenheid en vernuwing wees — tot eer van God en tot seën van sy kerk.

En mag ons as navolgers van Christus ons nuwe leiers bystaan en ondersteun met entoesiasme en opregte omgee.

V.l.n.r.: Ds Christo Weideman (voorsitter), dr Leon Foot (skriba), ds Charles James (addisionele lid), ds Riaan van Zyl (ondervoorsitter) en dr Leon Oosthuizen (aktuarius)

Ontmoet ons nuwe moderamen-voorsitter,
DS CHRISTO WEIDEMAN

“Ek bly by my standpunt dat eenheid in die kerk van die eerste gemeente se dae af ononderhandelbaar was.”

Om aan die bopunt van ’n tafel die voorsitterstoel van enige organisasie in te neem, is gewoonlik nie ’n maklike taak nie – jy moet jou besigheid se uitdagings en sterk punte deeglik ken, die vermoë hê om almal se bydraes in ag te neem, maar dan ook met ’n ferm hand die verloop van vergaderings help bestuur tot voordeel van die héle organisasie; beslis nie ’n taak vir sissies nie.

Soos om in die voorsitterstoel van die moderamen te sit. Alle oë en ore is op jou leiding gerig.

Ds Christo Weideman, predikant by Kroonheuwel-Noord en vorige Sinodale Taakspan (STK)-verteenwoordiger, het ds Jan Lubbe op Maandag 8 Junie tydens die 55ste Sinode van die NG Kerk Vrystaat as nuwe voorsitter van die moderamen opgevolg.

Ons het met hom gaan gesels oor hierdie nuwe plek wat hy van nou af aan die moderamen-tafel moet inneem. Ons wou meer weet oor sy ‘kom-vandaan’, watter slaggate in die pad getakel moet word en hoe hy die Lig ‘voor in die wapad’ kan bly volg.

Christo, vertel ons meer van jou grootword- en universiteitsjare en by watter gemeentes jy al predikant was.

Ek is in Middelburg (Kaap) gebore en het my kinderdae in Reivilo, suidwes van Vryburg in Noordwes, tot Graad 5 deurgebring. Daarvandaan het ons gesin na Warmbad getrek waar ek gematrikuleer het.

Ek het my BA Admissie aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PUK) behaal en my BTh by Kovsies.

Ná my studies was ek deel van die laaste groep dienspligkapelane en was gestasioneer in Behtlehem waar ek aan die Gemeente Bethlehem-Wes verbonde was totdat ek in 1995 Vanderbijlpark toe beroep is. My voorganger daar was 17 jaar lank leraar van die gemeente. Die aand met my bevestiging het ek ewe arrogant gesê dat ek nooit so lank op een plek sal kan bly nie – toe hou ons liewe Heer my 18 jaar daar!

In 2013 is ek na Kroonheuwel-Noord beroep waar ek steeds as leraar dien.

Jy is nou die nuwe voorsitter van die moderamen. Wat behels dit alles kortliks?

Ek is maar nog baie onseker oor wat alles van my verwag word en wat dit alles behels; dit sal mettertyd kom.

As voorsitter sal dit my taak wees om leiding te neem en te gee aan moderamenvergaderings, waartydens sinodale besluite en opdragte wat vir die moderamen geoormerk is, uitgevoer moet word.

Dit behels visionering op verskeie gebiede, nadenke oor heelwat nasionale en provinsiale kwessies en natuurlik om voortdurend besig te wees met die vraag: Wat vra die Here van sy kerk – ook in die Vrystaat? Ons sal moet fokus daarop om dáármee besig te wees; nie met sake wat nie die Koninkryk van God dien nie.

Christo, wat beskou jy as van die grootste uitdagings in die termyn wat voorlê?

Ek bly by my standpunt dat eenheid in die kerk van die eerste gemeente se dae af ononderhandelbaar was.

Die talle tekste waarin eenheid, eensgesindheid, een van hart en siel, ensovoorts in die Woord voorkom, is genoeg om jou slapelose nagte te gee as jy sien dat die kerk soms nie so begerig is om hierdie opdrag van die Here uit te leef nie.

Trouens, dit was Jesus se laaste gebed vir die kerk voor sy kruisiging – minder as 24 uur voordat Hy aan die kruis sou hang. En soos Jesus in vers 20 van Johannes 17 bid: “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom.”  Dit is hier mos baie duidelik dat dit ook vir ons vir vandag bedoel is. Hoe kan ons dit nie as een van die belangrikste sake (en daarom ook as uitdaging) beskou nie?

Wat beskou jy as van kardinale belang om hierdie uitdagings te oorkom?

Ek glo eerlik dat as ons ernstig is om die waarheid van die Woord in die kerk uit te leef, dit op elke en alle terreine moet gebeur – ook in ons strewe om aan die Here se opdrag gehoorsaam te wees om as sy liggaam hier op aarde in eengesindheid saam te leef, te werk en te dien.

Ons lê baie klem op die waarheid as dit by sekere sondes kom wat ons nie moet toelaat nie, maar ek dink ons bly in gebreke om ook die ander deel van die waarheid – wat soms moeiliker is om te doen – ’n prioriteit in die uitleef van ons geloof te maak.

Om hierdie uitdagings te oorkom, sal dit van ons vra om Christus in élke opsig op sý terme te volg.

Wat gee jou hoop vir die kerk se toekoms?

Ons sing en bely mos gereeld: “Op vaste fondamente het God sy kerk gebou …” Die kerk se fondament is vas en seker. Daaraan is geen twyfel nie. God se Woord en elke belofte daarin vervat vir sy kerk, gee my hoop dat God nie klaar is met sy kerk soos die doemprofete graag op sosiale media verklaar nie.

En selfs al beleef baie mense die kerk as uitgedien, van die pad af, in die duister, nie meer soekend na die waarheid nie (soos die negatiewe sosiale kommentare wat onlangs oor die 55ste Sinode gemaak is) is ek oortuig daarvan dat die kerk – en by name dan die NG Kerk Vrystaat, steeds vir hierdie wêreld tot seën kan wees.

Ek beleef dit in elke stukkie barmhartigheid wat iewers gedoen word, elke Bybel wat aan iemand gegee word wat ’n ontmoeting met die Here in sy of haar eie taal moontlik maak. Ek beleef dit in elke persoon in Afrika wat teologie kan studeer omdat die NG Kerk Vrystaat met sendingwerk daar besig was. Dink maar spesifiek aan Zambië.

Ek dink ook aan hoeveel mense wat in rampe, vloede, brande, seer, trauma en dood – noem maar op – die liefde van die Here deur iemand van ons kerk ervaar het. Dít gee my hoop!

Watter boek(e) of persoon (persone) het al ’n groot invloed op jou as mens gehad en hoekom?

Die lys is lank en verander van jaar tot jaar soos daar nuwe helde in my lewe kom. Op die oomblik is dit mense wat op ’n besondere manier ’n impak op my lewe gemaak het: ’n Vrou wat haar man verloor het; ’n enkelma wat haar kind verloor het; jong ouers wie se kind met kanker gediagnoseer is en ten spyte van duisende onbeantwoorde vrae nie vir die kerk en die Here kwaad is nie, maar op ’n besondere manier ander wat ook seer het, bystaan en vertroos.

’n Span vrywillige caregivers (“engele”) wat by ons plaaslike kankerkliniek mense wat chemo moet ontvang, of wat vir opvolgafsprake moet kom, of wat die verskriklike nuus ’n eerste of dalk tweede keer moet aanhoor, bystaan, ondersteun en ’n pad saam met hulle stap – selfs tot met die laaste oomblikke hier op aarde – dís die nuwe helde in my lewe en van ons tyd en wêreld.

Ek is daarby geseënd met kosbare mentors in my lewe wat soveel vir my eie persoonlike ontwikkeling en geestelike groei beteken, asook die pad wat ek die laaste jare in die Vrystaat Sinode en op Algemene Sinode-vlak gestap het – dit sou dalk verkeerd wees om net ’n paar se name te noem.

Ek het Francis Kahn se boek, Letters to the Church, nou al etlike kere van Desember af deurgelees. Ek gebruik dit ook om hierdie jaar die gemeente weer op alle vlakke te laat nadink oor: Is ons nog kerk soos die Here dit bedoel het sy kerk (aan die hand van Handelinge 2 se weergawe van die eerste gemeente) moet wees? Hierdie boek het my denke oor kerkwees radikaal verander.

Wat doen jy om te ontspan; wat gee jou vreugde en energie?

Ten spyte van baie min tyd daarvoor, geniet ek dit steeds om in my houthuis met houtwerk besig te wees.

Ek geniet dit ook om nog steeds nuut te leer en te lees oor wyn en my versameling met goeie wyne aan te vul.

Dan probeer ek nog steeds ’n boek per week te lees; iets wat een van my prioriteite bly en my baie energeer.

Iets oor jou gesin?

Ek is nou 32 jaar getroud met Edith, ’n remediërende onderwyseres, wat nou die salaristjeks begin aftel tot sy volgende jaar aftree. Ons dogter, Rudéne, is ’n apteker in Pretoria en getroud met Hano wat ’n dosent by Akademia in rekenaarwetenskap is. My seun, Henco, is ’n wetenskap-onderwyser by Sasol High in Sasolburg.

Met die dat ons twee kinders nou hul eie lewens lei, is die huis maar stil en leeg …

__________________________________

Ds Christo Weideman kan gekontak word by christo@kroonheuwelnoord.ng.org.za

Ontmoet ons nuwe ondervoorsitter,
DS RIAAN VAN ZYL

“Vir my gaan dit uiteindelik oor diensbaarheid – om saam met ander te help onderskei waarheen die Here sy kerk lei en hoe ons Hom getrou kan dien.”

Net soos Moses iemand nodig gehad het om sy arms omhoog te hou toe hy nuwe krag en energie nodig gehad het, weet diegene in voorsitterstoele hoe nodig dit is om ’n Aäron aan jou sy te hê wat jou kan bystaan en bemoedig wanneer dit nodig is.

Ds Riaan van Zyl, predikant van die Gemeente Bethlehem-Wes, is tydens die afgelope sinodesitting as ondervoorsitter van die moderamen in die plek van dr Dawie Botes verkies.

Ons het met hom gaan gesels om meer oor hom uit te vind.

Riaan, vertel ons meer van waar jy grootgeword, skoolgegaan en op universiteit was, asook by watter gemeentes jy al predikant was.

Ek het grootgeword in Bothaville in die hartjie van die Vrystaat; die plek wat deur die jaarlikse NAMPO-landbouskou beroemd gemaak is.

Ek het my laerskoolopleiding aan Eben Dönges Primêre Skool voltooi en aan die Hoërskool Bothaville gematrikuleer. Daarna het ek aan die Universiteit van die Vrystaat studeer, waar ek die grade BA, BTh, MTh en later ook ’n MBA verwerf het.

Ek het my bediening in 2003 by die NG Kerk Arlington begin en daar gedien tot 2008. Sedert 2008 dien ek met groot dankbaarheid as predikant van NG Kerk Bethlehem-Wes.

Jy is nou die nuwe ondervoorsitter van die moderamen. Wat behels dit kortliks alles?

Dit behels dat ek onder andere saam met die voorsitter en die res van die moderamen leiding moet help gee aan die werk van die sinode. Dit sluit onder meer die ondersteuning van gemeentes en ringe, die uitvoering van sinodale besluite en die bevordering van samewerking tussen gemeentes en ringe in.

Vir my gaan dit uiteindelik oor diensbaarheid – om saam met ander te help onderskei waarheen die Here sy kerk lei en hoe ons Hom getrou kan dien.

Wat beskou jy as die grootste uitdagings in die termyn wat voorlê?


Een van die grootste uitdagings is om ’n positiewe beeld van die NG Kerk in die samelewing te help opbou; iets wat al baie skade gely het omdat daar dikwels ’n gaping is tussen wat gemeentes daagliks doen en hoe die kerk deur die publiek op mediaplatforms waargeneem word.

Verder leef ons in ’n tyd waarin mense toenemend vra hoe die kerk ’n konkrete en volhoubare verskil in gemeenskappe kan maak. Die uitdaging is nie net om die evangelie te verkondig nie, maar om dit ook sigbaar uit te leef.

Wat beskou jy as van kardinale belang om hierdie uitdagings te oorkom?


Ek glo dit begin by nederige afhanklikheid van die Here. Wanneer gemeentes gefokus bly op Christus, sy Woord en sy sending, volg die res vanself.

Ons het ook groter samewerking, geloofwaardige leierskap en ’n kultuur van diensbaarheid nodig. Die kerk se grootste getuienis sal altyd wees wanneer mense die liefde van Christus nie net hoor nie, maar ook sien en ervaar.

Wat gee jou hoop vir die kerk se toekoms?


My hoop lê nie in strukture, programme of menslike vermoëns nie, maar in die Here van die kerk. Deur die geskiedenis het die kerk uitdagings, veranderinge en selfs tye van onsekerheid beleef, maar Christus het getrou gebly aan sy belofte dat Hy sy kerk sal bou.

Wat my besonder hoop gee, is dit wat ek steeds in die plaaslike gemeente sien gebeur. Ek dien nou al sedert 2008 in Bethlehem-Wes, en selfs ná al hierdie jare sien ek steeds hoe die Here mense se lewens verander, geloof versterk en nuwe geleenthede vir bedieninge oopmaak. Ek sien jongmense wat ernstig na God soek, gesinne wat deur moeilike tye gedra word en gelowiges wat met opregte liefde dien waar die Here hulle geplaas het.

Dit herinner my telkens daaraan dat God nog nie klaar is met sy kerk nie. Solank Christus die Hoof van die kerk bly, het ons alle rede om met geloof, verwagting en hoop vorentoe te kyk.

Ek glo ook dat daar nog groei vir die kerk voorlê wanneer ons onsself opnuut beskikbaar stel vir God se werk en sy leiding vertrou.

As ek een boodskap aan die gemeentes van die Vrystaat kan gee, is dit die woorde van Spreuke 3:5-6: Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak.

Watter boek(e) of persoon (persone) het ’n groot invloed op jou as mens gehad en hoekom?

My ouma en my ouers het waarskynlik die grootste invloed op my geloofslewe gehad. Hulle het my geleer dat geloof nie net iets is wat ons bely nie, maar iets wat ons leef.

Verskeie skrywers en predikers het my denke gevorm, onder andere Tim Keller, John MacArthur, David Platt, Stephan Joubert en Billy Graham.

Die boek The Encore Effect het my besonder uitgedaag om doelgerig te leef en elke fase van die lewe as deel van God se roeping te beskou.

Nog iemand wat ’n groot invloed op my gehad het, was wyle dominee Piet Taljaard. Sy liefde vir mense, sy nederigheid en toewyding aan die evangelie het ’n blywende indruk op my gemaak.

Een van die aanhalings wat my lewe en bediening deur die jare help vorm het, is dié van John Newton: I am not the man I ought to be, I am not the man I wish to be and I am not the man I hope to be, but, by the grace of God, I am not the man I used to be.

Wat doen jy om te ontspan; wat gee jou vreugde en energie?

Ek geniet dit om fiets te ry, te oefen en te lees. Sport help my om te ontspan en nuwe energie te kry. Ek geniet ook goeie humor en moet erken dat ‘dad-jokes’ my waarskynlik meer laat lag as wat dit bedoel. 

Die grootste vreugde in my bediening bly egter om mense te sien groei in hulle verhouding met die Here. Ek geniet veral Bybelstudies, Bybelskole, pastoraat, huisbesoek en die voorreg om God se Woord te verkondig.

Iets oor jou gesin

Ek is getroud met Riëtte, ’n fisioterapeut, wat my nog deur al die jare met groot liefde en ondersteuning in die bediening bygestaan het.

Ons het drie dogters, naamlik Ané, tans ’n eerstejaarstudent by Kovsies, Nienke (Graad 10) en Karli (Graad 6). As gesin is ons diep bewus van God se genade en dankbaar vir sy trou deur al die seisoene van ons lewe. Wanneer mense vra waarvoor ek die dankbaarste is, is die antwoord eenvoudig: genade.

_______________________________________

Ds Riaan van Zyl kan gekontak word by riaan.vanzyl@connix.co.za

Ontmoet ons nuwe skriba,
DR LEON M FOOT

“Ons sal moet leer om ruimte te maak vir mense wat oor sekere sake anders dink as ek – uiteraard nie kernsake nie. Die kerk sal moeite moet doen om medegelowiges met verskillende sienings te akkommodeer, en om mense te help om dit te kan doen.”

Dis eers as ’n mens in tameletjiesituasies moet terugkrabbel om uit te vind wat nou eintlik presies op ’n vergadering besluit is of wat nou na kerkrade en gemeentes gekommunikeer is, dat jy die waarde van notulering en effektiewe kommunikasie snap.

Die man wat nou daardie werk by ons vorige skriba, ds Hannes du Plessis, oorgeneem het, is dr Leon Foot, PSD (Predikant in Sinodale Diens) vir Bedieningsbegeleiding en voormalige leraar by die Gemeente Welkom-Suid.

Ons het meer oor hom gaan uitvind.

Leon, vertel ons meer van jou grootword- en studiejare, asook jou loopbaan in die kerk.


Ek is in Kaapstad gebore en het in die suidelike voorstad Kenwyn grootgeword. Dit is tussen Youngsfield Militêre Basis en die Kenilworth Perderesiesbaan geleë.

Ek het my skoolloopbaan aan die Hoërskool Zwaanswyk voltooi en vanaf 1979 aan die Universiteit Stellenbosch studeer waar ek my BA (Admissie), BTh en Lisensiaat in Teologie behaal het. Direk daarna het ek my MTh (Kliniese Pastoraat) behaal en in 2013 my PhD. Laasgenoemde was aan die Universiteit van die Vrystaat en het gehandel oor wit NG Kerk-lidmate se siening oor apartheid.

Die enigste gemeente waar ek nog gedien het, was by die Gemeente Welkom-Suid.

Jy is nou die nuwe skriba van die moderamen. Wat behels dit kortliks alles?


Dis nou my tweede rondte as skriba, so hierdie keer weet ek meer wat vir my voorlê.

Die skriba is die skakel vir alle kommunikasie met en van die moderamen na gemeentes, kerkrade en ringe. Ek is ook daarvoor verantwoordelik om notules van alle vergaderings te hou; iets wat die meeste van my tyd in beslag sal neem, maar wat natuurlik onontbeerlik is.

Die skribawerk vereis ook amptelike kwessies soos die uitreik van aktes van die bevestiging van sinodale en gemeentelike poste, ensovoorts.

Wat beskou jy as die grootste uitdagings in die termyn wat voorlê?

 

Die NG Kerk (en ander Afrikaanse kerke) het ’n geskiedenis en tradisie waar ons glo almal moet eenders dink oor alles. Ons geskiedenis (byvoorbeeld die apartheidsjare) het ons van die res van die wêreld geïsoleer. Baie idees en sieninge waaraan ons ná 1994 blootgestel is, is vir ons vreemd. Nou begin ons verskillend dink – en sommige vind dit moeilik. Die volgende stap is dan om te redeneer dat, as jy anders as ek dink, jy verkeerd moet wees, want ek is mos reg!

Ons sal moet leer om ruimte te maak vir mense wat oor sekere sake anders dink as ek – uiteraard nie kernsake nie. Die kerk sal moeite moet doen om medegelowiges met verskillende sienings te akkommodeer, en om mense te help om dit te kan doen.

Ek dink ons as kerk het dikwels ’n verskraalde siening van die evangelie. Ons dink aan verlossing as ’n kaartjie na die hemel, eendag as ek doodgaan (a pie in the sky when you die). Ons dink nie genoeg aan die implikasies van die herstelde verhouding vir die hier en nou nie.

 

Wat beskou jy as van kardinale belang om hierdie uitdagings te oorkom?


Jaco Strydom het ons by die afgelope sinodesitting daaraan herinner: Die belangrikste saak moet die belangrikste saak wees. (The main thing is to keep the main thing the main thing). Dis ons uitdaging.

Die kerk is hier vir die wêreld – ons moet ’n verskil maak rondom ons. Beelde van lewende water, lig in die duisternis, ensovoorts is kragtige metafore wat ons in die Bybel vind om ons dit te help verstaan. Solank ons daarmee besig is, is ons op die regte pad.

Die uitdaging is om lidmate ook so te laat dink. Vir te lank het ons die kerk as ’n plek beskou waar ek “gediens” moet word, eerder as ’n plek wat my toerus vir my eie dienswerk buite die kerk. Vir te veel mense gaan Christenskap saam met ’n idee van om ’n plek in die hemel vir eendag te verseker. Maar wat van nóú?

Wat gee jou hoop vir die kerk se toekoms?


Ons verhouding met God, wat deur die sonde verbreek is, is deur Jesus herstel. As jy dit onthou, sal jou lewe anders wees.

Coenie Burger het by die sinodesitting gesê ons moet minder praat oor sisteme, planne, ensovoorts en baie meer oor God. As ons op Hom fokus, val al die ander goed in plek. Ons vergeet egter so maklik.

Manie Malan het ’n boek geskryf met die titel Toe het God. Ons moet dit onthou: God het die inisiatief geneem. Ek neem net met dankbaarheid en blydskap daarvan kennis. En dan verander my lewe.

Watter boek(e) of persoon (persone) het ’n groot invloed op jou as mens gehad en hoekom?

Ek lees baie – veral (outo-)biografieë oor besigheidsmense, sporthelde en ontdekkers. Ons almal stry dieselfde stryde. Die omgewing waarin ons dit doen, verskil net, maar uit elkeen se lewe kan ons iets leer.

Toe ek jonger was, het ek omtrent al John Maxwell se boeke oor leierskap gelees. Dit was baie vormend. Ds Manie Malan se baie eenvoudige skryfwerk is ook baie waardevol; ek gebruik nou nog van sy werk vir doopkategese.

Ek glo ons almal het mense wat ’n rol gespeel het in ons vormingsjare. In my geval was dit ’n besondere onderwyser, John Bonthuys, in my Graad 7-jaar en ’n dominee, Zach Blomerus, by wie ek belydenis afgelê het.

My ouers was vir my goeie rolmodelle. My pa was die toonbeeld van hulpvaardigheid en het altyd gehelp waar hy kon. My ma (91) was nog altyd diensbaar in die kerk. Toe ek ’n kind was, het sy die kerk se spysenierstalletjie by die Goodwood Skouterrein in die Kaap beman en later jare was sy die voorsitter van haar gemeente se bejaardeskomitee.

Ek glo ek kan by elke mens iets leer – baie van my kollegas het eienskappe wat ek probeer inkorporeer in myself.

Wat doen jy om te ontspan; wat gee jou vreugde en energie?


Ek is eintlik ’n bloukraag-dominee en doen graag staal- en houtwerk. Ek het al my kantoor se kaste en boekrakke self gemaak. Ek maak saam met Jaco, ons jongste seun, messe en slaan warm ysters met ’n hamer.

Ek neem ook graag foto’s en hoop om weer by die fotografieklub aan te sluit as ek nie meer voltyds werk nie.

Sedert 1977 is ek ’n radio-amateur en het al byvoorbeeld drie keer met die mense in die Amerikaanse pendeltuie gesels. Ek het egter in die laaste paar jare min tyd hiervoor gehad.

Daar was ook ’n tyd toe ek ernstig gedraf het, selfs ’n Comrades-marathon, maar dis lank gelede.

Iets oor jou gesin?


Ek en Sarie, ’n afgetrede primêreskool-onderwyseres, is al 43 jaar getroud en het drie seuns waarvan twee al getroud is. Marius, die oudste, is getroud met Jana en hulle woon in Kaapstad. Die middelste seun, Stefan, werk as ingenieur in Nederland en is in Januarie met ’n Nederlandse meisie, Marchje, getroud; die rede waarom ek by UV ingeskryf is om Nederlands te leer. Jaco is die jongste en woon steeds by ons in Welkom. Hy is die kreatiewe entrepreneur wat messe maak en skilder.

______________________

Dr Leon M Foot kan gekontak word by leon@ngkvs.co.za

Ontmoet ons addisionele lid,
DS CHARLES JAMES

“Ek sien oral in die Vrystaat gemeentes en gelowiges wat met groot toewyding die Here dien. Ek sien lidmate wat omgee, jongmense wat hulle geloof ernstig opneem en gemeentes wat kreatief na nuwe bedieningsgeleenthede soek.”

Ons almal weet hoe belangrik die mense is wat ’n ondersteunende rol in ons lewens speel en hoe maklik alles om ons kan intuimel as dit wegval. Ons weet ook hoe belangrik daardie ekstra oor en skouer is as ons moet klankbord en ’n hupstoot nodig het; dat dit iemand moet wees wie se wysheid en insig ons moet kan vertrou.

En dit is presies wat jy onder andere in die addisionele lid van jou moderamen-dagbestuur soek. Ds Charles James is tydens die onlangse sinodesitting in die plek van ds Adrie Potgieter in hierdie pos verkies.

Ons het met hom gaan gesels om meer oor hom uit te vind.

Charles, waar het jy grootgeword, skoolgegaan, en waar was jy op universiteit? By watter gemeentes was jy al predikant?

Ek is op 28 Februarie 1968 in Odendaalsrus gebore, maar het grootgeword in Nelspruit (Mbombela) waar ek my skoolloopbaan voltooi het. Dit was ook gedurende my hoërskooljare dat ek die Here se roeping tot die bediening beleef het.

Ná matriek het ek aan die Universiteit van Pretoria studeer waar ek my teologie-opleiding voltooi het. Later het ek ook ’n MDiv in Huweliks- en Gesinspastoraat voltooi.

My eerste bedieningservaring was as pastorale hulp by die NG Gemeente Hartbeesspruit in Pretoria. Daarna was ek vanaf 1995 tot 2006 medeleraar by die NG Gemeente Hugenoot in Bloemfontein. Sedert 2007 dien ek as leraar by die NG Gemeente Pellissier, waar ek tans ook as spanleier optree.

Jy is nou die nuwe addisionele lid van die moderamen. Wat behels dit kortliks alles?

Hierdie werk behels dat ek die moderamen-dagbestuur sal help leiding gee ten opsigte van sinodale werk tussen die vierjaarlikse sinodesittings.

As addisionele lid beskou ek my rol veral om saam met die ander lede te help onderskei wat die Here van ons NG Kerk in die Vrystaat vra, om gemeentes te ondersteun en om by te dra tot die strategiese gesprekke oor ons bediening.

Dit gaan uiteindelik daaroor om die kerk te dien en te help dat ons getrou aan ons roeping bly.

Wat beskou jy as die grootste uitdagings in die termyn wat voorlê?

Ek dink die grootste uitdaging is om relevant en missionaal te bly in ’n samelewing wat vinnig verander. Ons leef in ’n tyd van toenemende sekularisasie, ekonomiese druk en maatskaplike verdeeldheid.

Daarby ervaar baie gemeentes uitdagings ten opsigte van lidmaatbetrokkenheid, finansiële volhoubaarheid en die ontwikkeling van nuwe leiers.

Die vraag is nie net hoe ons die kerk in stand hou nie, maar hoe ons die evangelie geloofwaardig in ons gemeenskappe uitleef.

Wat beskou jy as van kardinale belang om hierdie uitdagings te oorkom?

Ek glo dit begin by ’n hernude fokus op Jesus Christus en ons roeping as dissipels.

Ons het gemeentes nodig wat bid, luister na die leiding van die Heilige Gees en wat bereid is om nuwe maniere van bediening te verken sonder om die kern van die evangelie prys te gee.

Goeie verhoudings tussen leraars, samewerking tussen gemeentes, toerusting van lidmate en die ontwikkeling van jonger leiers gaan ook van kardinale belang wees.

Wat gee jou hoop vir die toekoms van die kerk?

My hoop lê nie in strukture of strategieë nie, maar in die Here van die kerk.

Ek sien oral in die Vrystaat gemeentes en gelowiges wat met groot toewyding die Here dien. Ek sien lidmate wat omgee, jongmense wat hulle geloof ernstig opneem en gemeentes wat kreatief na nuwe bedieningsgeleenthede soek.

Die kerk het al baie uitdagende tye deur die eeue oorleef, en ek glo die Here is steeds besig om sy kerk te bou.

Watter boek(e) of persoon (persone) het ’n groot invloed op jou as mens gehad en hoekom?

Die grootste invloed op my lewe bly die Bybel en die Here Jesus Christus.

Verskeie mense het egter deur die jare ’n groot rol in my lewe gespeel, onder andere my ouers, verskeie mentors in die bediening en kollegas saam met wie ek kon leer en groei.

Wat boeke betref, het werke oor missionale kerkwees, soos Transforming Mission van David Bosch, en boeke oor dissipelskap en geestelike leierskap my denke sterk help vorm. Die gedagte dat die kerk nie net vir haarself bestaan nie, maar na die wêreld gestuur is, het my bediening diep beïnvloed.

Wat doen jy om te ontspan; wat gee jou vreugde en energie?

My huwelik met Carien gee my vreugde en energie. Ons deel ’n aantal stokperdjies, soos fietsry, kampeer en voëls kyk. Om tyd in die natuur deur te bring, help my om perspektief te behou en nuwe energie te kry.

Ek is ook baie lief vir 4×4-ekskursies. Vir ’n aantal jare jag ek per geleentheid met buitelanders wat my al na besonder mooi en ongerepte dele van Afrika geneem het.

Ek geniet ook goeie gesprekke met mense, die voorbereiding van Bybelstudies en om te sien hoe mense geestelik groei.

Die grootste vreugde bly egter om te beleef hoe God in mense se lewens werk.

Iets oor jou gesin?

Ek is sedert 1991 getroud met Carien. Sy is ’n wiskunde-onderwyseres aan die Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein.

Ons is geseënd met twee kinders, Anneri en Louis, wat albei onlangs getroud is. Anneri werk as geoktrooieerde rekenmeester in die Kaap en is met Christian van der Wath, ’n meganiese ingenieur, getroud. Louis is ’n siviele ingenieur en is getroud met Anja, ’n meganiese ingenieur en hulle woon in Citrusdal.

As gesin is ons baie dankbaar vir die Here se goedheid en vir die ondersteuning wat ons deur die jare in die bediening ontvang het.

________________________________

 Ds Charles James kan gekontak word by charlesjames@vodamail.co.za

Ontmoet ons addisionele lid,
DS CHARLES JAMES

“Die probleme binne die kerk het meestal met mense te make, maar dis nie die mense se kerk nie – dis God se kerk, en God sal nie sy kerk tot niet laat gaan nie. Ek glo God gaan ons nog verras met ’n paar groot dinge.”

Ons staan daagliks verstom oor die wanorde van menswees. Dit begin gewoonlik soggens as jy die radio aanskakel om na die nuus te luister terwyl jou hawermout op die stoof prut. Skakel jy jou rekenaar aan, word jy gebombardeer met Netwerk24 of Daily Maverick se jongste hoofnuus oor oorloë, bedrieërs en kansvatters; alles meestal die gevolge van menslike faktore te wyte aan respek vir jou medemens, jouself en ’n sin vir orde.

En dit is waarom die werk van ’n aktuarius as lid van die dagbestuur van ons kerk se moderamen van groot belang is – dit is die persoon wat moet sorg dat ons kerk in alle opsigte ordelik bestuur sal word; dat ons gemeentes en ringe binne die raamwerk van die Kerkorde sal funksioneer.

Die persoon wat sedert ons jongste sinodesitting in Junie op hierdie warm stoel by ds Christo Weideman oorgeneem het, is dr Leon Oosthuizen, predikant van die Gemeente Langenhovenpark. Ons het meer oor hom gaan uitvind.


Leon, vertel ons meer van jou grootword- en studiejare, asook waar jy al oral predikant was.

Ek het grootgeword in Wetton op die rand van die suidelike voorstede van Kaapstad. Ek het aan die Hoërskool Voortrekker (ja, daar is een in die Kaap ook), Kenilworth, gematrikuleer waarna ek my BA en BTh aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het. Intussen het ek ook ’n MTh daar verwerf en toe my PhD hier by Kovsies.

Nadat ek my BTh verwerf het, was ek eers dienspligkapelaan vir ’n jaar in die Vloot en daarna vir ’n jaar proponent in Port Elizabeth by die Gemeente Heideveld. My eerste beroep was na Plettenbergbaai, waar ek amper tien jaar bedien het. Daarna was daar ’n standplaasruiling en is ek na Langenhovenpark, waar ek nou al amper 24 jaar predikant is.

Jy is nou die nuwe aktuarius van die moderamen. Wat behels hierdie werk kortliks alles?

Die Sinodale Taakspan Kerkorde (STK), deesdae bekend as die Sinodale Diens Regte (SDR), fokus op die Kerkorde en Kerkreg. Ons ontvang dus baie navrae oor hoe kerkrade of predikante bepaalde sake kerkordelik korrek moet hanteer.

Ongelukkig moet ons ook soms bystand lewer wanneer daar tugsake en selfs regsake iewers ontstaan; iets wat baie wysheid, insig en deernis verg.

Aangesien die SDR net periodiek vergader, is die aktuarius die frontlinie van ondersteuning aan gemeentes en ringe in alle kerkordelike sake.

Wat beskou jy as die grootste uitdagings in die termyn wat voorlê?

Daar is tans baie woelinge in die NG Kerk; nie net in die Vrystaat nie, maar ook by die Algemene Taakspan Regte. Daar moet gekyk word hoe al die verskille en geskille aangespreek en opgelos kan word. Ek vermoed dit gaan ’n besige termyn wees.

Wat beskou jy as van kardinale belang om hierdie uitdagings te oorkom?

Daar moet openlike gesprekvoering tussen die partye plaasvind. Ons verskil oor baie sake van mekaar. Ek het self sterk gevoelens oor bepaalde sake waarmee ek beslis nie saamstem nie, maar ek glo ons kan oor dié sake ook saamstem om van mekaar te verskil.

Soms frustreer die stadige pas waarteen die NG Kerk beweeg, my. Aander kere is ek dankbaar dat ons nie halsoorkop besluite neem nie. Ek vertrou dat ons kan hande vat en juis deur samewerkende hande al die goeie werk wat oor jare opgebou is, suksesvol voortsit.

Wat gee jou hoop vir die kerk se toekoms?

Die probleme binne die kerk het meestal met mense te make, maar dis nie die mense se kerk nie – dis God se kerk, en God sal nie sy kerk tot niet laat gaan nie. Ek glo God gaan ons nog verras met ’n paar groot dinge.

Watter boek(e) of persoon/persone het ’n groot invloed op jou as mens gehad en hoekom?

Dis moeilik om ’n persoon of ’n boek uit te sonder. The Second Reformation van William Beckham het my ’n bietjie laat dink oor hedendaagse geloofspraktyke en mense se belewenis van die kerk.

Wat doen jy om te ontspan; wat gee jou vreugde en energie?

Die plek waar ek my bonsai-bome (’n paar honderd!) versamel, is die plek waar ek graag stil word. Die arme bome kry deesdae maar swaar, want ek het nie werklik tans genoeg tyd beskikbaar om die vereiste aandag aan hulle te gee nie, maar tot dusver het hulle darem oorleef. Teen die tyd dat ek aftree, het ek hopelik bome met baie potensiaal.

Ek hou ook baie daarvan om 4×4–roetes te ry. Ek kom egter te min daarby uit, maar so nou en dan is daar darem ’n geleentheid om in die veld op plekke te kom wat jy nie met gewone voertuie kan bereik nie.

Iets oor jou gesin?

Ek is getroud met Hermina, ’n wiskundedosent by Kovsies. Ons oudste dogter, Hannari, is ’n fisioterapeut en ons tweede kind, Carien, ’n arbeidsterapeut. Ons jongste kind, Gerhard, het landbou studeer en so pas begin werk.

____________________________________

Dr Leon Oosthuizen kan gekontak word by ooshuis@gmail.com