Deur ds Jan Lubbe, voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat
Die dam op Menuha is vol. Daar kom die voëls van die veld hul dors les, ook volstruise en wildsbokke. In die groen gras op die rand van die water langs, wei wit boerbokke met hul rooi koppe. ’n Prentjie van rus, bo uit die kapel, Psalm 23.
Die afgelope twee dae was verteenwoordigers van ons NG Kerk in die Vrystaat op Menuha; eers die visioneringspan wat met geloofsonderskeiding wou luister en soek na die pad waarop ons nou vorentoe geroep word, en gister, die Moderamen. ’n Voorlaaste vergadering vir die huidige termyn, want oor 120 dae – vier maande – open die 55ste Sinode van die NG Kerk Vrystaat by NAMPO, anderkant Bothaville. Sal daar ook dan rus wees, vir “elkeen wat moeg en oorlaai is”, en ’n nuwe roeping vir ons NG Kerke in hierdie landstreek?
Twee profetiese tekste uit die Ou Testament het ons aandag getrek, en uiteindelik harte verkwik en ons hande en knieë versterk. Die eerste – ad fontes (“terug na die bron, die fontein”) – was Jesaja 60 en 61, waaruit al vir ’n honderd-en-sestig jaar die leuse of roeping van ons Sinode Vrystaat kom, daardie “Lig in die Duisternis”. Dit kom uit die derde boekdeel van Jesaja; die volk het teruggekeer uit ballingskap, die bevryding het gekom, en tóg is alles nie wel – orals nog die puinhope, verliese van gister en twyfel oor môre. Dan kom die aankondiging: “Staan op, laat jou lig skyn! Ja, oral is daar donkerte oor die aarde, maar hier skyn die Here!” (Jesaja 60:1-2). Die versekering, “die Gees van die Here is op sy Gesalfde …” (61:1-2). Tien keer volg daar die uitdrukking “in plaas van” – tekenend van die wending wat God bring: “In plaas van …” verlatenheid en haat, weer trots en vreugde; versiering in plaas van stof op die kop, lofprysing in plaas van ’n verslae gees, in plaas van vernedering, jubeling (60:15,17; 61:3,7)! ’n Genadejaar wat aanbreek, ná al dié gebrokenheid en verlies; ja, “die Here sal vir jou ’n ewige lig wees, en jou routyd, verby” (60:19-20)! En ons gedagtes gaan onwillekeurig na die sinagoge in Nasaret, waar Jesus ná die Skriflesing daardie Sabbat sê dié woorde is vandag vervul so al horende vir julle (Lukas 4:18-21)! En na sy uitroep by die tempel in Jerusalem: “Ek is die lig vir die wêreld!” (Johannes 8:12).
Soos ons daar in die kapel sit, vra ons mekaar af: Wat sou die “in plaas van’s” wees wat ons as kerke in die Vrystaat nou in hierdie profetewoord moet hoor? Almal dra by wat hul in die stiltetyd in die veld gelees en gedink het: Lig, in plaas van donkerte, dag, en nie nag nie; in plaas van gebrokenheid, ’n genadejaar; heling in plaas van die lyding; leef in plaas van net oorleef; groei in plaas van kwyn; vertroue in plaas van hierdie verlammende vrees; veiligheid in plaas van die lelik praat; oopgaan en omarm in plaas van die kwaadword en wegstoot; “óns” in plaas van altyd net “dis húlle/julle”.
Maar gaandeweg – toe ons gesprekke oor die kwaai hitte nou daarbuite begin gaan; oor die droogte vir gesaaides; oor beeste wat met bek-en-klouseer siek word en nie kan drink nie; oor kommer van siekes en bejaardes én dokters wat beleef dat mediese dienste in die Vrystaat ernstig begin tekortskiet; oor die ontsaglike druk op onderwysers en skole om te doen wat hul moet; oor dienslewering en infrastruktuur wat ineenstort; oor besighede wat ondergaan; oor die angstigheid onder ons mense en die verlange na hoop – gaandeweg het ons besef, daar is ’n dieper dors …
En toe kom die ander teks by – Esegiël 47: ’n Stroom water uit die heiligdom, uit die teenwoordigheid van God; aan die oostekant, die sonopkomskant, die nuwe dag. ’n Stroom water wat net al sterker vloei, dieper, sonder keer – God se lewegewende water. ’n Stroom water wat bome langs die oewers voed, groeikrag en blare en vrug gee. ’n Stroom water wat die woestynlandskap omtower, wat die brak-en-sout van die Dooie See, vars laat word, drinkbaar. ’n Stroom water wat vis lok en vissers en hul mense voed, sleepnette vol. ’n Stroom water wat wel steeds kuile en moerasse ken, en dele ook verbygaan sodat daar steeds sout ontgin kan word. Al die prentjies van seën al langs die waters, soos Psalm 104 sing! Die punt is, in plaas van die dorheid en dood, gee God water van genade, troos, reiniging en lewe. En toe Jesus, vir die vrou by die Samaritaanse put, sý wat vernedering en moedeloosheid ken: “Wie van die water drink wat Ek hom gee, sal nooit weer dors en ’n fontein word van water wat opborrel tot die ewige lewe” (Johannes 4:14). Elkeen wat “dors na geregtigheid”, die geseëndes (Matteus 5:6).
Wéér ’n keer gryp die Woord van die Here ons aan. Ons sing Psalm 42 se “Smagtend soos in dorre streke, hoor my Here, na U roep”. Ons bid Lied 284 se “Laat Heer, u vrede deur my vloei.” Ons jubel Lied 488 se “Helder skyn u lig vir die nasies, ’n vreugdeglans …” In die gees en gemoed van die Moderamen het daar verligting gekom; ’n koers nou, rigting 7 Junie 2026 wanneer ons Sinode open. Daar is baie werk om te doen ter voorbereiding van die Sinode – daarvoor is die spanne aangewys. Daar is die dink- en skryfwerk wat moet gebeur; nog oorleg oor die strukturering van die Moderamen en ons sinodale werk, en veral die groot rol wat ringe sal moet speel om gemeentes op die platteland en in randstad te ondersteun; te verseker dat die Woord en sakramente, gebede en hoop oral bedien sal kan word. Die opleiding en begeleiding van leraars om in ’n nuwe tyd en konteks die Woord te kan bedien, is ’n prioriteit; ook kerkraadslede – terloops (en vir u gebede): volgende week open ons kerklike opleidingsjaar, met 36 studente by ons Seminarium ingeskryf! En dit is begrotingstyd, in die sinode en vir kerkrade. En dan is daar die uitdagings wat lidmate beleef, én dominees. Die kommer oor 2026, die nood aan reën, die dreiging van bek-en-klouseer …
Só het ons teruggedraai, na binne, na waar die Woord en Gees spreek, en ons hoor van lig en water, wat lewe gee; Gód se lig en water, wat ons ontvang, mee saamgaan, help deel. Gestuurdes: “Julle is die lig vir die wêreld” (Matteus 5:14). “Ek was dors, en julle het vir my iets te drinke gegee” (Mateus. 25:35).
Hoor die uitnodiging: “Almal wat dors het, kom, kry, verniet …” (Jesaja 55:1).
Ontvang die seën: “Die Here sal die lig van sy aangesig oor jou laat skyn, en aan jou vrede gee!” (Numeri 6:24-26).
Opregte groete in Hóm, Christus, ons Here.
Ds Jan Lubbe
Voorsitter: Moderamen van die NG Kerk Vrystaat
| Foto verskaf : Ds Jan Lubbe Voorsitter: Moderamen van die NG Kerk Vrystaat

