Skip to content Skip to footer

160 Geseënde jare van ‘n Kerkfamilie in die Vrystaat

 | verskaf: Ds Jan Lubbe

Deur ds Jan Lubbe, voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat

Vanjaar vier ons die 160ste bestaansjaar van die Vrystaatse Sinode van die NG Kerk; ’n besondere voorreg omdat dié band tussen gemeentes en gelowiges, ons vir meer as ’n eeu en ’n half deur oorloë, droogtes en vele ander krisisse help dra en tot diens aangespoor het. Ons was as kerkfamilie en in dié konteks, bevoorreg om leiers met wysheid en insig te kon hê, en wat self bely het dat Christus hulle tot diens in sy Kerk geroep het. VRYPOS het met vyf van ons vorige sinode-voorsitters wat nog leef, gaan gesels om te hoor hoe hulle hierdie uitdagende taak in hul onderskeie termyne beleef het.

Ons eerste gesprek was met prof Pieter Potgieter, voorsitter van die Vrystaatse Sinodes van 1987 en 1995, van die Algemene Sinode van 1994 én ook dekaan van die Fakulteit Teologie. Ons tweede gesprek was met prof Piet Strauss, voorsitter van die Sinodes in 1999 en 2005, asook die voorsitter van die Algemene Sinode in 2007. Die derde gespreksgenoot was dr Lourens Erasmus, wat as 41-jarige dominee aangewys was as voorsitter van die 2003-Sinode. Ons vierde gesprek was met dr Pieter van Jaarsveld, wat vir drie termyne as voorsitter van die moderamen van die Vrystaatse Sinode gedien het, van 2008 tot 2013 en weer van 2017 tot 2022. Die vyfde voorsitter met wie VRYPOS gesels het, was ds Helgard Janse van Rensburg wat in 2014 aangewys is en ook twee buitengewone sinodesittings gelei het, dié van 29 Julie 2014 en 17 Maart 2015. 

Ds Jan Lubbe, sedert die 2022-Sinode voorsitter van die moderamen van die NG Kerk Vrystaat (en ook voorsitter van die Buitengewone Sinodes in 2023 en 2024), sluit hierdie gedenkreeks gesprekke met ’n besondere bydrae af. Met nederigheid en passie deel hy sy hart oor wat dit beteken om werklik Kerk te wees – ’n gemeenskap wat lig dra, hoop bring en in liefde leef. Hy herinner ons daaraan dat ons roeping nie net ’n taak is nie, maar ’n gawe en geleentheid om God se liefde sigbaar te maak in hierdie deel van ons land. Hy gee ook terugvoer oor die afgelope moderamenvergadering wat op 25 Augustus by die gemeente Meyerhof in Bothaville gehou is. 

Die Kerk: imago Dei, imitatio Christi!

Ons is “beelddraers van God”. Só begin die Skrif en Skeppingsverhaal om oor die mens te vertel, en bied daarmee die heel basiese vertrekpunt vir ons Christelike mensbeskouing: God Drie-enig het die mens uit grond en gees tot aansyn geroep, “na ons beeld, as ons afbeelding” (Genesis 1:26-27). Selfs ná die sondeval, die gebrokenheid en vervreemding uit die Tuin, die broedermoord en die sondvloed, geld dié waarheid en waardigheid steeds: die lewe van ’n mens is kosbaar en heilig, want “na die beeld van God het Hy die mens gemaak” (Genesis 9:6). Die heiligheid van God en daarom ons respek vir die beeld van God in mense, kring uit na ál sy beelddraers; ook in die arme, die vreemdeling, die blinde en die dowe (Levitikus 19:1-17 e.v.). En wanneer Jesus oor dié respek vir lewe praat en die Wet uitlê, radikaliseer Hy die verbod op doodslaan deur ons motiewe, gedagtes en woorde daaragter aan te spreek: “Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is”; “en wie sy broer uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur” (Matteus 5:22). Nie vreemd nie dat Jakobus – moontlik die broer van Jesus en gemeenteleier in Jerusalem – die vroeë Joods-Christelike etiek só toepas: oppas vir jou woorde, jou “tong”, want “daarmee loof ons die Here én daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is” (Jakobus 3:8-9). Dit kan tog nie; vloek en seën oor die beelddraers van God, komende uit dieselfde innerlike bron nie!

Maar daar is méér hierin verborge. Wat ons verlede Maandag by die moderamenvergadering in Bothaville besef, is dít: Paulus skryf oor die “beeld van God” wanneer hy aan die gemeente in Kolosse dink! Dit het natuurlik álles met Christus Jesus te doen – Hý, so begin Paulus, “is die beeld van die onsigbare God” (1:15), Eersgeborene oor die Skepping, Eersteling uit die dood! ’n Loflied aan die Seun! ’n Gedagte wat ook by die Hebreërskrywer geleef het: Die Seun is die stralende “ewebeeld van die wese van God” (1:3)! Dit is asof ons Nicea se lieflike beryming hoor: “Lig uit Lig, God uit God … waaragtig … mens geword …” Dan skryf Paulus verder: Dié inkarnasie van God se beeld in Christus bly gebeur – weer en weer en weer – in “die kerk” …

“Die Seun is die beeld van die onsigbare God, …

Hy is die Hoof van die liggaam, die kerk.”

(Kolossense 1:15, 18)

Hoe gebeur dit? Hoe word die herskape beeld van God deur Christus, wéér sigbaar, konkreet in die geskiedenis van die mensdom? Paulus vervolg aan die gemeente:

“As julle dan saam met Christus opgewek is, streef na waar Christus (is) … aangesien julle die nuwe mens aangetrek het,

wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word.”

(Kolossense 3:1 en 10)

Dit is wanneer Paulus skryf oor die vernuwing van die beeld van God deur Christus ín sy liggaam, die Kerk, dat ons nie anders kan as om diepe introspeksie oor die NG Kerk in die Vrystaat, oor ons gemeentes, oor onsself as VDM’s en kerkraadslede en gedooptes te doen nie. Dat sekere dinge eenvoudig nie pas by die beeld van God in Christus in die Kerk nie: “woede, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering, onwelvoeglike taal …, onsedelikheid, onreinheid, wellus, begeertes, gierigheid, leuens …” (3:5-9). Dat daarteenoor, die beeld van God in Christus, in die Kerk, sigbaar word in “die nuwe mens”: geen onderskeid meer langs etniese of kultuur- of sosio-maatskaplike grense nie; maar waar Christus álles is en in  almal; en “innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld, verdraagsaamheid, vergifnis, liefde en vrede en dankbaarheid” beleef word (3:11-15)! Dáár leef “die woord van Christus in volle rykdom”; dáár klink “lering, wysheid, psalms en lofgesange” op (3:16)! Dít is die soli Deo gloria! Die beeld van God herstel en voortdurend aan’t vernuwe, ecclesia reformata semper reformanda secundum verbum Dei.

Wie van ons in die Vrystaat sou nie in só ’n geloofsfamilie en NG Kerk wou leef nie?

Die Moderamen saam met al die sinodale bedieninge het op hierdie weg van visionering vertrek, ter voorbereiding vir 2026 se Vrystaatsinode en die dekade verder vorentoe. Ons gedenk vanjaar 160 jaar van ons kerkverband hier tussen die twee groot eeue-oue riviere. Dankbaar vir God se genade wat bly voortstu – Hý is teenwoordig, en op weg. Die afgelope drie jaar het ons saam met die leierskappe van die VGK en NGKA nagedink: hoe lyk ons roeping as familiekerke hier? Hoe vat ons hande? Wat van die bedieningsnood in klein gemeentetjies, in die diep platteland of binnewyke van die stede en dorpe? Hoe bly ons dominees en kerkraadslede toerus en bemoedig vir ’n volhoubare bediening? Hoe neem ons “die fluistering in die stilte” van daardie Junie-week by Amanzi huis toe, kerk toe? Hoe herstel ons vrede waar daar stryd is, hoe bedien ons versoening waar daar verwydering is? Hoe versterk ons ringe, die éérste uitdrukking van kerkverband? Hoe moet ons die moderamen saamstel om verteenwoordiging én kundigheid (ervaring) – twee kern-elemente in leierskap en bestuur – te balanseer? Hoe konsolideer ons kragte om armoede en maatskaplike nood in die provinsie te verlig? Hoe ontwikkel ons netwerke om op die regte plek die regte behoeftes aan te spreek, hetsy ’n boorgat of broodmandjie of Bybelverspreiding? Hoe benut ons die entoesiasme van studente-in-bediening én die wysheid van seniors-in-bediening? Hoe getuig ons geloofwaardig teen dit wat verkeerd geloop het in die Vrystaat? Hoe ís ons lux in tenebrae?

’n Moderamenvergadering soos verlede Maandag in Bothaville is ’n veeleisende ervaring. Ons kan nie die moeilike vrae en realiteite van die NG Kerk in die Vrystaat systap nie; ons moet dit éérlik in die oë kyk; na mekaar blý luister. Saam na ’n welwillende weg deur hierdie tydsgewrig heen soek. En daaraan houvas dat só en hier – ín ons lewe as gemeentes en kollegas – die Heilige Gees besig is om die beeld van God te vernuwe, in ons elk individueel en in die liggaam van Christus tesaam, sy Kerk. In ons gedagtes en woorde teenoor mekaar, en in daaglikse deernis daarbuite. Na die beeld van ons Vader, in die nabootsing – imitatio – van Christus, ons Vóórbeeld.

Vir meer inligting kan ds Jan Lubbe by janlubbe1964@gmail.com gekontak word.

 | Verskaf: Ds Jan Lubbe, voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat.

  | Foto’s uit die NG Kerk Vrystaat Argief