Tydens die afgelope twee maande het gemeentes die kans gekry om te vertel hoe dit met hulle gaan en wat hulle tans as brandpunte in die kerk beskou. Daar is na elke kerkkantoor ‘n vraelys in hierdie verband gestuur.
Uit die reaksie van gemeente het dit duidelik geword dat daar op twee vlakke kommer in gemeentes in die Vrystaat is. Die een vlak raak die voortbestaan van die gemeente en die pos van ‘n predikant in ‘n gemeente. Dit raak dus die bediening in sy kern. Die tweede vlak van kommer is in terme van brandpunte oor etiese sake, gereformeerde identiteit en hoe die kerkverband verstaan en hanteer moet word.
Dit is duidelik dat daar ‘n geleentheid geskep moet word om hierdie saak te hanteer en aan te spreek. In die lig hiervan word daar ‘n sinodale konferensie in Bloemfontein gehou waarna predkante, kerkraadslede en lidmate uitgenooi word. Die doel van die konferensie is om die pastorale kant te hanteer en behoorlik op die tafel kry, kans te gee vir predikante en gemeentes om te kom sê hoe hulle voel en hoe hulle dink die sinodale strukture hulle kan help. Ons wil ook geleentheid skep waar predikante net weer met mekaar kan in kontak kom en met mekaar kan saam kuier en gesels. Die gedagte is om na aanleiding van die gesprek ‘n taakspan saam te stel wat die sinode volgende jaar kan bedien met ‘n verslag oor hoe dit met gemeentes en predikante gaan en hoe die hele aspek van gemeentebediening in ‘n post-Covid-tyd hanteer moet word.
Die twee brandpunt is meer leerstelling van aard en na die verslae deeglik bestudeer is, word die volgende twee temas op die tafel gesit vir gesprek:
- Skrifgesag en etiek – hier word twee inleiers gebruik om verskillende standpunte op die tafel te sit en dan sal daarna kans gegee word vir kommentaar, vrae en gesprek.
- Gereformeerde Identiteit en kerkverband – hier word weer twee kante van die saak belig en word daar dan ook weer kans gegee vir vrae, kommentaar en gesprek. Aan die einde van hierdie sessie sal ‘n kerkregskenner repliek lewer op wat haalbaar is en wat nie haalbaar is nie.
Die laaste sessie sal handel oor die kerk wat ons in ‘n post-Covid-tyd behoort te wees en sal nader sny aan ons roeping as kerk in die Vrystaat.
Die gedagte is dat al hierdie sessies gebruik word om ons gedagtes te prikkel. Na alfloop van die konferensie sal daar geleentheid geskep word vir diegene wat betrokke wil raak by verdere nadenke oor die onderwerpe en sal taakspanne geskep word om die Sinode in sitting volgende jaar met ‘n verslag te bedien. Dit gaan dus ten diepste daaroor dat die Moderamen en die Ontwerpspan ‘n geleentheid wil skep waar enigiemand van lidmaat tot predikant betrokke kan raak by die opstel van ‘n verslag vir die sinode sodat almal die ervaring het dat hulle stemme en standpunte gehoor is.
Daar word dus ‘n vriendelike, maar dringende beroep op u gedoen om teenwoordig te wees by die sinodale konferensie. In die komende dae sal u kennis ontvang van die sprekers oor elke onderwerp, sodra hulle almal vasgemaak is, asook inligting oor hoe om te registreer vir die konferensie en wat die koste verbonde aan die konferensie is.
Predikante en skribas word gevra om hulle e-posse en WhatsApp’s ook dop te hou vir verdere inligting.
Dr Carin van Schalkwyk | Moderamen: Skriba