Gedurende die eerste week in Oktober het ons susterskerk wat onstaan het uit die bediening aan die Indiërbevolking hier in Suid-Afrika, die Reformed Church in Africa (RCA), hul sinodesitting in Hillton, Natal gehou. Dr Nico Mostert, direkteur van Vennote in Getuienis, het dit op 4 en 5 Oktober bygewoon.
“Dit was ’n goeie sinodesitting,” vertel Nico. “Die RCA is ’n kleiner-wordende denominasie met net agt voltydse leraars waarvan twee binnekort sal aftree – iets wat vir die toekoms van die RCA groot uitdagings inhou.
“Nog iets wat ernstig bespreek is, is die verskynsel dat baie van die lidmate nog nie weer na die bywoning van dienste teruggekeer het nie; ’n probleem waarmee die NG Kerk ook te kampe het.
“Ander sake op die agenda wat in diepte bespreek is, was die uitdaging ten opsigte van die RCA se voortbestaan, gemeentes wat nie leraars het nie (hoofsaaklik omdat gemeentes dit nie meer kan bekostig nie) en krimpende lidmaatgetalle wat die uitdaging nog groter maak.
“Gelukkig is ds Theo Francis nog leraar in Kaapstad, ds Bhim (emeritus) in Gqeberha en in Durban is daar drie jong leraars, di Akash Sirpal, Warren Naidoo en Brendan Chettiar. Ds Wessel Cronjé is leraar by ’n vierde gemeente daar en help uit by een van twee gemeentes wat vakant is.
“Ds Kovilan Moodley is die leraar by ’n gemeente in Johannesburg en dan is dr Victor Pillay die leraar van ’n gemeente in Pretoria.
“By die gemeente in Kimberley is daar ’n lekeprediker, Dillyn Pillay, aangestel wat onder toesig van Kovilan Moodley werk en waar Nico soms uithelp.
Nico vertel verder: “’n Ander krisis is dat daar nog nie weer studente uit die RCA aangemeld het vir teologiese opleiding nie. Om hierdie probleem te probeer oplos, is die moontlikheid bespreek om dalk die voorbeeld van die NG Kerk te volg wat nou vier teologiese bane, naamlik (buiten voltydse/deeltydse gemeenteleraars) ook dié van bedienaars, diensleraars en standplaasleraars in werking gestel het om die nypende tekort aan NG Kerk-leraars in gemeentes te help verlig. “
Op 30 November sal Nico die RCA se kuratorium-vergadering bywoon waartydens bogenoemde vier bane van die NG Kerk bespreek sal word en hoe dit dalk in die RCA geïmplementeer kan word sodat hulle ook kan begin met die opleiding van diensleraars, moontlik ook standplaasleraars, met gemeenteleraars wat die oorsigtelike werk kan doen.