Met hierdie artikel oor die Sikhs kyk ons vir ’n laaste keer na splintergroepe in Islam, of godsdienste wat vanuit Islam ontstaan het. Die aantal sektes en groeperinge in Islam is te veel om te tel en almal is ook nie relevant vir ons in die Suid-Afrikaanse konteks nie.
Soos die Baha’is is die Sikhs ook ’n onafhanklike godsdiens, maar albei se wortels lê diep in Islam, wat ’n kort studie daaroor vir ons belangrik maak ter wille van ons reeks oor Islam. Sikhisme se ontstaan kan teruggevoer word na sy stigter, Guru Nanak (1469-1539), wat buite Lahore gewoon het in wat nou Pakistan is. Nanak was ontnugter met beide klassieke Hindoeïsme sowel as Sunni Islam. Nanak was blootgestel aan die voortdurende oorloë tussen dié twee godsdienste. Verder het hy die gevegte tussen die verskillende sektes van Hindoeïsme sowel as tussen die Sunni’s, Sjiïete en Soefi-Moslems gesien. Vir hom het hierdie situasie nie godsdiens voldoende verteenwoordig nie[1].
Nanak het die honderde miljoene gode wat deur Hindoes aanbid is, verwerp en het homself met ‘n oneindige, vormlose god geassosieer wat alles wat bestaan, deurdring en voorafgaan, bekend as Vahiguru. Die woord beteken “Wonderlike Heer” in Punjabi, die taal van sy geboorteland in Noord-Indië. Hindoe-luisteraars was heel gemaklik daarmee, omdat Nanak se god by die Hindoe-konsep van panteïsme gepas het. En omdat hierdie god net een was, was Moslem-luisteraars ook gemaklik daarmee, aangesien Islam radikaal monoteïsties i.[2]
Nanak het die leringe van die mistikus Kabir (1440-1518) gevolg. Sommige van sy leerstellings is saam met Nanak en ander Sikh-goeroes se leerstellings, tesame met sommige Hindoe- en Moslemgeskrifte, in die Sikhs se geskrifte, Granth (die Boek), vervat. Sikhisme bevat onvermydelik elemente van beide godsdienste, spesifiek Bhakti Hindoeïsme en Moslem Sufisme.[3]
Sikhisme het ontwikkel in ’n omgewing waar mense baie vyandig teenoor hulle was. Die Sikhs het in ’n vegtervolk ontwikkel. Hul algemene manlike van “Singh” beteken leeu. ‘n Toegewyde Sikh dra te alle tye nie net ’n tulband nie, maar ook ’n simboliese swaard. Dit is deel van Sikh’s se sogenaamde vyf K’s: kesh – ongesnyde hare, kangha – kam, kirpan – swaard, kara – staal-armband, en kachch – ’n kort broek om gemaklik te wees tydens gevegte.[4]
In Sikhisme is aanbidding en redding gesamentlike pogings om dieselfde doel te bereik. Die bereiking van verlossing is nie die doel van ’n Sikh nie, maar eerder geestelike vereniging met hul god. Sonde word nie gedefinieer as die verbreking van die konkrete wette van god nie, maar word eerder gesien as enige struikelblok in die vereniging met hul god, soos wêreldse obsessies.[5]
Sikhisme leer daar is vyf euwels wat ware aanbidding blokkeer, naamlik ego, woede, hebsug, gehegtheid (attachment) en wellus. Die eiesinnige Sikh wat nie ware aanbidding bereik nie, is gedoem om terug te keer na hierdie lewe deur reïnkarnasie. Die noodsaaklike element van hierdie godsdiens is ook die naam van die godsdiens, aangesien Sikh In Punjabi dissipel of toegewyde beteken[6].
Dit is belangrik om jou Bybel byderhand te hê wanneer jy Sikhs besoek, aangesien hulle ook hul geskrifte met groot respek behandel.[7] Vermy dus om jou Bybel onder jou arm te dra, of om dit in jou sak te sit. Dit is ook belangrik om versigtig te wees om nie ‘n Bybel wat jy gemerk het vir persoonlike studie te gebruik nie. Sikhisme het ‘n groot belangstelling in die vasstelling van waarheid. Jy kan dus verduidelik dat Jesus dit duidelik gestel het dat Hy ‘die weg en die waarheid en die lewe’ is (Johannes 14:6).
[1] Hindson, E. en Caner, E. 2008. The Popular Encyclopedia of Apologetics. Harvest House Publishers: Eugene, Oregon.
[2] Hindson, E. en Caner, E. 2008. The Popular Encyclopedia of Apologetics. Harvest House Publishers: Eugene, Oregon.
[3] Barret, D.V. 2001. The New Believers. Sterling Publishing Co: New York.
[4] Barret,D.V. 2001. The New Believers. Sterling Publishing Co: New York.
[5] Hindson, E. en Caner, E. 2008. The Popular Encyclopedia of Apologetics. Harvest House Publishers: Eugene, Oregon.
[6] Hindson, E. en Caner, E. 2008. The Popular Encyclopedia of Apologetics. Harvest House Publishers: Eugene, Oregon.
[7] Evangelicals Now, September 30, 2019. Reaching the Sikh with the Gospel.