Justo Mwale Universiteit:
Die oriënteringsklasse vir Juso Mwale Universiteit se eerstejaars van 2021 het op 11 Januarie begin. Sewentien het opgedaag. Twaaf uit die RCZ, drie van die CCAP Zambië en twee van die Evangelies Lutherse Kerk in Zambië. Onder die sewentien is drie dames.
Amptelik sou klasse op 18 Januarie begin het, maar weens Covid-19 het die regering alle skole en universiteite versoek om eers op 1 Februarie te begin. Om nie te veel werk te verloor nie, het ons begin met aanlynklasse en vir studente die werk uitgedeel en take gegee om in te handig. Vanaf 1 Februarie kon ons eindelik die studente in die klas kry. Om nuwe studente te leer ken met maskers op, is ‘n uitdaging.
Die regering het skole en universiteite versoek om klasse en kantore te saniteer. Om ‘n maatskappy te kry om dit te doen, kos ‘n fortuin. Toe koop die Universiteit self die chemikalië en kry iemand om ons te help om dit self te doen. Dit het gedurende die naweek van 13-14 Februarie gebeur. Op Maandag 15 Februarie kon ons nog nie die klasse gebruik nie. Gelukkig het JMU baie groot bome op die kampus. Elke student en dosent neem sy stoel op en gaan vind ‘n boom. Oop ruimte en baie veilig.
Die kerk in Zambië het hoeka ook onder ‘n boom begin, so ons sit daardie kerklike tradisie voort.
So onder die boom het ek en die eerstejaars ons lesings oor Prediking voortgesit. Ons gebruik die boek van Cilliers, J.H.: 2004. The living voice of the gospel. Revisiting the basic principles of preaching. Stellenbosch: SUNPRESS (a division of AFRICAN SUN MEDIA), oor die vier stemme in die prediking. Genadiglik het ons God se stem ook gehoor buite in die natuur en deur die genade het dit darem nie gereën nie, wat vreemd is, want ons is nou in die reënseisoen.
Groete, Dawid Kuyler