Die eerste belangrike rede hoekom ons inligting oor ander godsdienste (ook Islam) moet inwin, is omdat God die wêreld se mense liefhet. Ons heg baie waarde aan mense se laaste woorde. Jesus se laaste woorde voor Sy hemelvaart was dat ons die Evangelie na al die nasies moet neem. In Matteus 28:19,20 vind ons hierdie bekende woorde van die Here Jesus, wat ons ook as die sendingopdrag ken: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
God het alle mense geskep en is lief vir hulle – dit sluit Moslems in. Ons lees byvoorbeeld in Psalm 145:9: “Die Here is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het”. Dat God Moslems liefhet, beteken nie dat Hy Islam liefhet nie. Islam is ‘n valse godsdiens en God haat valsheid, ook valse godsdienste.
Aangesien God lief is vir Moslems en Christus ook vir Moslems gesterf het, behoort ons hulle ook lief te hê. As ons die evangelie met hulle wil deel, is dit belangrik om hulle geloof en kultuur te verstaan.
‘n Tweede belangrike rede hoekom ons inligting oor Islam moet inwin, is dat Islam die tweede grootste godsdiens in die wêreld is. Ongeveer 22% van die wêreld se bevolking vandag is Moslems, teenoor 33% Christene (die grootste geloof). Daar is meer as 2 miljard Moslems in die wêreld vandag – dit is die vinnigste groeiende geloof. As huidige tendense voortduur, sal die geboortesyfer van Moslems dié van die Christene verbysteek teen 2030[1]. Indien dit die geval is, behoort Islam teen 2060 vir die eerste keer die Christendom verby te steek om die grootste godsdiens in die wêreld te word. Dit is alreeds ‘n baie goeie rede hoekom dit belangrik is om te weet wat Islam leer.
‘n Derde rede is dat Islam ‘n baie belangrike deel van die huidige en toekomstige politiese gebeure vorm. Bo en behalwe vir godsdienstige redes, is dit bloot vanuit ‘n politieke hoek belangrik om Islam te verstaan. Van die konflik in die Midde-Ooste tot terroriste-aanvalle in die wêreld, is Islam in die nuus. Jy kan nie vandag ‘n koerant oopslaan waar Islam nié ter sprake is nie. Ons kan nie die Evangelie in ‘n wêreld en aan ‘n wêreld verkondig wat ons nie verstaan nie.
Volgende keer kyk ons na nog redes oor hoekom dit so belangrik is om kennis oor Islam in te win.
[1] http://www.pewresearch.org/fact-tank/2017/04/06/why-muslims-are-the-worlds-fastest-growing-religious-group/