Met Vrouemaand op hande, wil ek graag hulde bring aan elke vrou wat op haar onderskeie manier ‘n bydrae lewer op alle gebiede van die samelewing.
Vrouens kan nie in boksies gesit word nie, elke vrou is uniek geskep na die beeld van God en daarom is sy genoeg.
Sy kan haar roeping op verskeie maniere uitleef met waagmoed, dapperheid, deernis en wysheid. Alhoewel die wêreld daarbuite ‘n verwagting skep waaraan vroue moet voldoen, hoef sy nie aan die volmaakte beeld te voldoen nie. Sy kan met vrymoedigheid haar drome uitleef omdat die Een wat liefde en genade beliggaam, die wêreld in Sy hande hou.
Elke vrou bring iets uniek na die tafel wat kosbaar en waardevol is. Ons is geskep met unieke eienskappe wat ons moet gebruik om ons rol te vervul. Vroue ervaar dinge met hart en siel wat ‘n ander dinamika na die tafel toe bring.
Sy stuit vir niks en hanteer situasies met krag en deernis. Sy kan vanuit ‘n paar bestanddele ‘n koningsmaal optower. Party vroue is beskore om lewe in die wêreld te bring wat sy met onvoorwaardelike liefde grootmaak. Indien ‘n vrou in ‘n saak glo, sal sy veg daarvoor in ‘n opregte en meedoënlose wyse.
Mag elkeen in Vrouemaand dink aan die vroue wat ‘n besondere rol gespeel het in hul lewens en aan hulle hulde bring:
Te danke aan jou, kosbare vrou – van die spieëltafel waar jy, pragtige vrou, moeite doen.
Na die kombuistafel waar jy, mamma, die heerlikste disse voorsit.
Na die koffietafel waar jy, hartsvriendin, luister na my seer en vreugdes.
Na die klaskamer waar jy ons kinders toerus met vaardighede vir die lewe.
Na die raadstafel waar jy, leier, wyse besluite neem.
Na die teatertafel waar jy, dokter/verpleegster, met sorg jou pasiënte opereer en versorg.
Na die draadtafel in die tuin waar jy, liefdevolle ouma, ons bederf met stories.
Tot by die nagmaaltafel waar jy, Dominee, saam met my bid tot ons Hemelse Vader.
Te danke aan jou kosbare vrou, wat jouself na die tafel toe bring – weet ek hoe lyk opregte, onvoorwaardelike liefde en empatie vir haar medemens.
Te danke aan jou, kosbare vrou, weet ek waar om my krag vir elke dag te kry.
Ons eer elke vrou vir wie sy is!