Stadige en diep geloof
Psalm 1:1 (2020-vertaling)
“1 Gelukkig is die mens wat nie die raad van goddeloses volg, nie op die pad van sondaars gaan staan en nie in die byeenkoms van spotters sit nie”
Die Psalmdigter gebruik drie werkwoorde om die fokus vir die res van die Psalms te vestig. Eerstens word daar ‘geloop’, dan ‘gestaan’ en laastens ‘gesit’. In teenstelling met die leefstyl van goddelose mense moet die gelowige agter God aanloop. Die lewe is ‘n avontuur en God plaas ons elkeen op ‘n geloofsreis met hoogtes en laagtes. Daar kom stadiums waar ons tot stilstand gedwing word, juis sodat ons kan stilstaan en fokus op die dinge wat God vir ons wil uitwys op hierdie geloofsreis. Dit is immers makliker om te fokus op iets, wanneer jy gaan staan. En wanneer ons só gaan staan, dan nooi God ons om te kom sit by sy voete. Dit is hier waar ons aandagtig kan luister en ook saam gesels met God en ons mede-gelowiges.
Waarom is hierdie belangrik, sou jy dalk wou vra? Ons leef in ‘n deurmekaar en té besige wêreld. Dit is ‘n gejaag en ‘n stryd van die môre tot die aand. Dit sal gelowiges baat om weer tot stilstand te kom op hulle geloofsreis. Dit sal vir gemeentes baat om soos die ‘boom’ in vers 3 te word. ‘n Boom wat diep wortels en ‘n fyn aanvoeling vir God se nabyheid het. Dán kan die oorhaastige lewe maar kom, met droogtes en storms.
Gelukkig is ons wat loop, staan en sit saam met God.