Deur Mariëtte Odendaal
“As dit nie vir ’n sterk en gesonde ruggraat is nie, sal jy maar moeilik oor die weg kom – vra maar vir enigeen wat al met rugprobleme gesukkel het.
“So is ons sinodale kantoor in der waarheid die ruggraat van die NG Kerk Vrystaat se administratiewe en finansiële bestuur; ’n onontbeerlike deel van praktiese kerkwees.”
Die eerste twee artikels in ’n reeks van vyf oor die afgelope meer as dertig jaar se vyf saakgelastigdes, deesdae bekend as direkteur van administrasie en finansies, het in die vorige twee uitgawes van Vrypos verskyn. Ons het toe gesels oor die sinodale kantoordae van eerstens Piet Coetzer en tweedens Hennie van der Walt. In hierdie uitgawe gesels ons met Hennie se opvolger, André Esterhuizen.
Die volgende twee uitgawes se artikels sal gaan oor Hennie de Lange en die huidige direkteur van administrasie en finansies, Adriaan de Ruiter.
André, jy het vanaf 1 November 1979 in die sinodale kantoor begin werk en op 1 Januarie 2010 vir Hennie van der Walt as saakgelastigde opgevolg waar jy tot einde Desember 2014 gewerk het. Vertel ons egter eers meer oor jouself voordat ons oor jou jare by die sinodale kantoor gesels.
“Ek is op ’n koue wintersoggend in Junie op Odendaalsrus op die Vrystaatse Goudvelde gebore waar ek aan die Laerskool Odensia en Hoërskool Wessel Maree my skoolloopbaan voltooi het.
“As gevolg van ’n sportbesering kon ek ongelukkig nie dadelik ná skool verder gaan studeer nie en het na my militêre diensplig by die Landdroskantoor op Odendaalsrus begin werk.
“Drie jaar later het ek by die Saambou Nasionale Bouvereniging op Welkom begin werk, vanwaar ek eers na Kroonstad en daarna as rekenmeester na Parys verplaas is. Ek het daar gewerk totdat ek in 1979 by die personeel van die NG Kerk Vrystaat se sinodale kantoor aangesluit het. In daardie tyd het ek deeltyds gestudeer en ’n personeelbestuur-kwalilfikasie verwerf.
“Ek is in 1973 met Marcia van Niekerk getroud en ons is geseënd met drie dogters en vyf kleinkinders.
Ongelukkig het Marcia my reeds op 19 Mei 2023 ontval.”
Jou jare ervaring by die Saambou Nasionale Bouvereniging en veral as rekenmeester het jou sekerlik goed te pas gekom in die sinodale kantoor. Wat het hierdie sinodale pos hoofsaaklik behels?
“Ja, beslis, daardie ervaring was onontbeerlik! Ek het in 1979 aanvanklik as rekenmeester begin werk, waar ek hoofsaaklik verantwoordelik was vir die teboekstelling van die inkomste asook die administrasie van die Helpmekaar Studiefonds en ’n twaalftal ander beurs- en studiefondse.
“Mettertyd was ek ook verantwoordelik vir die volledige salaris-administrasie van die NG Kerk Vrystaat se sinodale amptenare asook vir die Amptenare Pensioenfonds.
“Op 1 Januarie 2007 is ek bevorder tot hoofrekenmeester in die plek van Hennie van der Walt wat op sy beurt bevorder is tot direkteur van administrasie en finansies. Op 1 Januarie 2010 is ek in Hennie se plek aangestel as direkteur tot en met my aftrede op 31 Desember 2014.”
In jou tyd moes jy ook by baie veranderinge, soos die rekenarisering van jul sinodale kantoorprosesse en die implementering daarvan aanpas, né? Vertel meer.
“Ja, dit is waar. Toe ek in 1979 in die kerkkantoor begin werk het, was alle werk nog met die hand en op tikmasjiene gedoen. Inskrywings in die kasboeke moes nog met ’n vulpen gedoen word.
“Daar is mettertyd besef dat die aankoop van ’n rekenaar onontbeerlik was. Die destydse sinodale kantoorkommissie het toe vir my en ds Dennis Oliphant van Bloemheuwel-gemeente in die laat tagtigerjare afgevaardig om ondersoek in te stel na die aankoop en implementering van ’n rekenaar. Na ’n besoek aan Johannesburg en verdere ander ondersoeke het die sinodale kantoorkommissie vir prof Theo McDonald van die Universiteit van die Oranje Vrystaat (UOVS) aangestel om aanbevelings te doen ten opsigte van die aankoop van ’n rekenaar vir die sinodale kantoor.
“’n Bestelling vir ’n paar rekenaars en ’n drukker is by die firma DCE geplaas en die rekenarisering het in alle erns begin. Na ’n aantal onsuksesvolle pogings het DCE egter besef dat die sinodale kantoor se boekhoustelsel en alles wat daarmee gepaard gaan, bokant hulle vuurmaakplek was en die programmatuurontwikkeling is gestaak.
“Gedurende 1993 is ek en Piet Coetzer na die NG Kerk Transvaal se sinodale kantoor in Pretoria waar ons begin onderhandel het vir die aankoop van ’n hoofraamrekenaar en programmatuur.
“Na ’n paar moeilike maande en harde werk deur al die personeel, is die totale administrasie van ons sinodale kantoor onder my leiding in die loop van 1994 op rekenaar oorgeplaas. Dit is met groot sukses gebruik tot ongeveer 2015 of 2016 toe daar noodgedwonge van programmatuur verander moes word.”
Jy was ook betrokke by die ontstaan van Vrypos, ons e-nuusbrief. Hoe het dit gebeur?
“Vrypos het in 2000 ’n baie nederige begin in my kantoor gehad toe ek nog rekenmeester was.
“Ds Marius Greeff, wat op daardie stadium die NG Kerk Vrystaat se inligtingsbeampte en ook korrespondent vir die Kerkbode was, het my versoek om met ’n sogenaamde ‘e-pos-inligtingsblad’ te begin en dit onder gemeentes en leraars te versprei.
“Die konsep was aanvanklik maar vir die gemeentes vreemd en die nuus was skaars. Die weeklikse oplaag was ook klein, aangesien daar nog nie baie leraars en kerkkantore was wat in besit van ’n rekenaar was nie en dus ook nie oor e-pos-adresse beskik het nie.
“Die Vrypos-mantel het later op wyle Thea Bosman se skouers geval, wat dit tot en met haar sterfte op ’n besondere wyse gehanteer en uitgebou het.
“Die naam, Vrypos, is saamgestel uit die woorde Vry (-staatse kerk) en (e-)Pos. Dit is vanjaar in sy 25ste jaargang en tans ’n kleurryke en omvattende publikasie onder redaksie van Celicia McLean.”
Wat sou jy uitsonder as van die gebeure wat tydens jou tydperk as saakgelastigde die grootste impak gehad het?
“Daar was heelwat, soos die subsidiëring van mediese premies aan afgetrede predikante wat tydens die sinodesitting van 1991 ingestel is, wat ongelukkig later gestaak moes word omdat die omvang van die subsidies nie in die lig van die ekonomiese toestande van daardie tyd volgehou kon word nie. Die besluit om dit te staak, is tydens die sinode van November 2011 geneem, maar dit was natuurlik ’n redelike lang proses om al die berekeninge te doen en te laat doen voordat die subsidiëring gestaak kon word. Die aktiewe leraars se verstreke asook toekomstige diens sowel as die afgetrede predikante se mediese voorsiening is toe aktuarieel verreken en gekwantifiseer; ’n groot en uitdagende taak.
“’n Ander belangrike gebeurtenis was die verandering van die NG Kerk Vrystaat se logo. Die vorige logo (Kerkseel) was al sedert 1925 in gebruik. Met die koms van die elektroniese eeu en die skep van ’n webblad vir ons sinode is daar toe gaandeweg besef dat ons sinode se logo vernuwe en gemoderniseer moes word. Met behulp van handelsmerkspesialiste en vele insette van ons onderskeie sinodale kommissies is daar in 2012 toe besluit op die huidige ontwerp wat tans in gebruik is.
“Die visionering en verandering van kommissies na eenhede was ook ’n belangrike proses wat in my tyd plaasgevind het. Na ’n omvattende en indringende visioneringsproses deur ons sinode in 2012 is daar besluit om die verskillende sinodale kommissies se fokusse beter te omskryf en ook die name van die kommissies te wysig sodat dit meer by die kernwaarde van elke kommissie se werksaamhede sal aansluit. Die woord ‘kommissie’ is vervang met die woord ‘eenheid’. Die SKAF (Sinodale Kommissie vir Adminstrasie en Finansies ) is byvoorbeeld verander na die Eenheid vir Ondersteuning. My posbenaming van DAF (Direkteur: Administrasie en Finansies) is dus verander na Direkteur van die Eenheid vir Ondersteuning.
“Nog ’n nuutjie was toe die sinodesitting vir die eerste keer nie in Bloemfontein plaasgevind het nie. Dit was in Junie 2013. Gedurende die beplanning van die sinodesitting van 2013 het dit al hoe duideliker geword dat die formaat van die sinodesitting waar al die afgevaardigdes in rye sit en volgens gemeente-ouderdom gerangskik is, verander moes word. Die behoefte om rondom ronde tafels te sit en deur middel van tafelgesprekke die agenda te hanteer, het al hoe sterker geword.
“Na ’n vrugtelose soektog na ’n geskikte saal in Bloemfontein het die keuse uiteindelik op die groot saal op die Nampo-terrein buite Bothaville geval. Die inwoners van Bothaville het ook hul huise as verblyf vir die sinode-afgevaardigdes oopgestel.
“Dan was daar die verkoop van die Sinodale Sentrum in 2013. Die opbrengs is op aanbeveling van die Raad vir Ondersteuning gedeeltelik aangewend om die mediese subsidie-verpligting aan afgetrede leraars te befonds ná die afskaffing van die subsidiëring van die mediese fonds.
“Daar is toe op 13 Augustus 2013 tydens ’n seremonie op gepaste wyse in die Sinodesaal afskeid geneem van die Sinodale Sentrum-gebou wat sedert 1964 die tuiste van die NG Kerk Vrystaat was.
“Die verkoop van die Sinodale Sentrum het gevolglik genoodsaak dat die kantoor hervestig moes word en die soeke na doelmatige kantore was ’n reuse-taak. Nadat verskeie terreine en geboue in die stad oorweeg is, het die keuse uiteindelik op Van Heerdenlaan 20 geval.
“Aangesien die geboue eers gedien het as die Susanna Coetzee Tehuis vir Ongehude Moeders en later as ’n gastehuis bedryf is, moes die kamers en badkamers omgebou en verander word na kantore en vergaderlokale. Dit is binne ’n maand afgehandel en die groot trek het gedurende September 2013 plaasgevind.”
Dan is daar seker ook merkwaardige en onwaarskynlike ervarings wat in so ’n sinodale kantoorgebou gebeur, né, André?
“Ja, daar was so ’n voorval toe die Sinodesitting van 2005 onverwags onderbreek is.
“Aan die vooraand van dié sinodesitting het die Cheetah-rugbyspan van die Vrystaat vriend en vyand verras deur die gevreesde Blou Bulle van Noord-Transvaal in die Curriebeker-eindstryd te klop; die gesogte goue beker kon daardie jaar in húlle trofeekas gebêre word!
“Die blydskap en verbasing onder die afgevaardigdes het geen perke geken toe ’n klompie spelers van die seëvierende span, met die Curriebeker onder die arm en deur die bemiddeling van een van die kerk se diensverskaffers, wyle Piet von Solms, die sinodesitting besoek het nie. Die spelers is terstond genooi om saam met die moderatuur en ander eregaste tee te drink terwyl die afgevaardigdes tougestaan het om met die beker afgeneem te word!”
Daar is natuurlik ook interessante karakters met wie ’n mens paaie kruis gedurende jou loopbaan.
“Ja, daar is ’n hele paar. Wyle ds Roelf van Vuren was die organiserende sendingsekretaris in die destydse Sendingkantoor saam met die bekende ds David Snyman wat die sendingsekretaris was. Oom Roelf (soos ons hom genoem het) het die gewoonte gehad om daagliks, wanneer hy nie lus was vir werk nie, van een kantoor na die ander te stap en ’n grappie te vertel. Dan het hy vir sy eie grappie so lekker gelag dat jy nie kon help om op die ou end eintlik vir sy gelag te lag nie. Daarna het jy weer vir hom ’n nuwe grappie vertel en na hy klaar gelag het, het hy dadelik geloop om weer vir iemand anders die nuwe grappie te gaan vertel.
“Dan was daar wyle dr Leon Ferreira, wat die argivaris van ons sinode was. Hy het die gewoonte gehad om, wanneer hy met verlof gegaan het, so twee of drie dae voor sy verlof begin, nie meer werk toe te kom nie, want, het hy altyd gesê: ‘Ek moet voorberei vir my verlof.’ Hy was baie lief vir jag en het daarom gereeld Namibië besoek wat die voorbereiding vir sy verlof natuurlik al hoe belangriker gemaak het.
“Hy het ook graag tydens sinodesittings verdwyn. Toe daar eenkeer na hom gesoek is om die Argiefkommissie se verslag te kom voordra, is hy uiteindelik by die Hypermark opgespoor waar hy heel rustig gesit en konsertina speel het saam met sy Vrystaatse Boereorkes!
“Wyle Hannes van Dyk was as saakgelastigde ’n baie streng kantoorhoof, maar hy het tog groot pret daarin gevind om iemand onverwags skrik te maak – en dan lekker daaroor te lag.
“Die toenmalige jeugsekretaris, ds Johann Smit, is vandag steeds ’n lewenslustige persoon wat veral tydens sinodesittings bekend was vir sy lewensgetroue sketse. Na sy aftrede het hy genoeg tyd gehad om die oorspronklike swart en wit sketse onder hande te neem en hulle ’n bietjie kleur gegee.
“Dr Pieter van Jaarsveld en dr Leon Foot kan ek uitsonder as twee persone wat ’n besonder betekenisvolle bydrae tot en invloed op my loopbaan gehad het. Hulle was tydens my dienstyd as direkteur onderskeidelik die voorsitter en onder-voorsitter van die Eenheid vir Ondersteuning.
“Dan moet ek darem ook net noem van die onbekende ‘spook’ wat veral na-ure in die gebou rondgewaal het. Deure is oop- en toegemaak en was veral op die tweede vloer by tannie Judy Botha by die Jeugkantoor baie bedrywig.”
Kontak
Vir meer inligting kan André by andre@msnet.co.za gekontak word.
| verskaf deur: Mnr André Esterhuizen










