Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“Wie sou kon raai dat speel nie net vir kinders is nie?”

Deur ds Melissa Jacobs,
leraar van NG Gemeentes Lindley en Arlington

“Wie sou kon raai dat speel nie net vir kinders is nie?”

Ek het die voorreg gehad om die Spelterapie-kursus, aangebied deur Excelsus en dr Siegfried Louw, in Randburg by te woon gedurende die week van 28 Julie tot 1 Augustus 2025.

Tot my groot verbasing was hierdie kursus ’n heerlike praktiese ervaring, waar ons nie net iets van die spelterapie-tegnieke kon sien en beleef nie, maar dit ook op mekaar kon oefen. Die terapie, beter bekend as Gestaltterapie, maak gebruik van verskeie tegnieke wat fokus op die persoon, die hier en die nou.

Aanvanklik, met groot opgewondenheid, het ek ingeskryf vir beide die Inleidende sowel as die Gevorderde kursus, want ek het gedink: “Ek gaan leer hoe om kinders te help.” Wie sou kon raai dat speel toe nou nie net vir kinders is nie, maar dat volwassenes – selfs predikante – net so lekker speel en soveel daarby baat vind?

Ons het verskeie tegnieke prakties gesien en geleer, soos onder andere die Roosboom-tegniek, Leë Stoel-tegniek, Monster-tegniek, Sandbak-tegniek en nog vele meer. Verder het die Gevorderde kursus voortgebou op die Inleidende tegnieke, maar spesifiek gefokus op die gebruik daarvan in trauma-ontlonting, verhoudingsberading en familie-trauma.

’n Leersame week, as jy my sou vra – alhoewel ek die enigste Vrystater was! Die kursus is werklik een wat ’n mens in jou gereedskapskis kan plaas en gebruik – nie net met kinders nie, maar met lidmate regdeur die bank in pastorale versorging. En die beste van alles: dit krap nie diep nie; dit fokus op die hier en nou – en dan gebeur daar iets. Amper soos ’n heilige oomblik.

Ons het as groep die week saam gegroei, saam mekaar se seer beleef en saam vir mekaar seën toegebid. Wie weet, dalk is daar in die nabye toekoms weer só ’n geleentheid – nie te vêr nie, maar dalk sommer net onder ons neuse.