Deur mnr Hennie van der Walt, voormalige direkteur van die Sinodale Kantoor
1 Korintiërs 12:26
“As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”
Wanneer mense vir 42 jaar plus saam werk in een kantoor, dan beleef jy mekaar se lief en leed in meer as een opsig. Jy beleef mekaar se troudae, kinders grootmaak, kinders se huwelike, jy ken jou kollegas se broers en susters, en verneem selfs van kleinkinders se geboortes. Meer nog, as kind van die Here, is jou “beroep” in die kerklike organisme nie maar net nog ’n werk nie. Jy kom meer onder die indruk van bepaalde werk in diens van die Here, en dit maak van jou en jou kollegas ’n hegte en egte familie. Saam werk julle aan die normale administrasie, sinodeverslae, agendas, handelinge, voorbereidings en logistiek vir sinodes, soms reël en bied julle saam jeugkampe aan. Alles dinge wat ’n hegte band bind wat amper meer is as om net broers en susters te wees.
Wanneer so ’n broer of suster deur ’n tyd van beproewing gaan, dan ervaar jy iets van Paulus se stelling: “As een lid ly, ly al die lede saam.” Dit was dan ook die afgelope tyd ons ervaring (nie net vanaf Februarie tot 19 Mei 2023 nie, maar ook vanaf September 2021) toe ons kollega, voormalige Direkteur: Admin en Finansies André Esterhuizen, se gade, Marcia baie ernstig siek geword het en ons ontval het. André het in 1979 by die Sinodale Kerkkantoor aangesluit. Marcia was toe skriba/kassier van ’n gemeente op Parys waar hulle voorheen gewoon het. Sy was tydelik deel van die Kerkkantoor-personeel, skriba/kassier van Fichardtkruin- en Pellissier-gemeentes en ook werksaam by die destydse Sondagskool Boekhandel. Om haar lyding te moes aanskou was ‘n pynlike ervaring. Maar as haar laaste woorde aan my was, met ’n glimlag op die gesig, “ek is nou in Jesus se hande”, is dit vertroostend. Nou kan ons maar net vir ons broer, sy kinders en kleinkinders bid en sê, mag julle so ’n bietjie op Jesus se skoot sit sodat Hy julle styf teen Sy bors kan vasdruk ter versterking en vertroosting. Ons bid vir Sy seën oor hulle.
Net ’n slotopmerking: om deel te wees van die sinodale personeel en gemeente- amptenare en personeel, is besonderse werk in diens van die Kerk van ons Here Jesus. U, ons, is deel van ’n besonderse familie met besonderse werk. Mag die Here vir u almal, elke dag en elke oomblik, seën en versterk vir en in Sy diens. Ons bid gereeld vir ons “familie”. Dankie dat u ook mekaar dra en vir mekaar omgee.
Groete en seënwense.