As wat aan die verbygaan was, van heerlikheid gestraal het, veel meer nog sal die blywende van heerlikheid skitter. Omdat ons hoop hierop gevestig is, tree ons met groot vrymoedigheid op.
– 2 Korintiërs 3:11-12
In ons laaste vergadering van Vennote in Getuienis raak ons van een ding deeglik bewus: Alles in ons wêreld het verander. Soos verteenwoordigers van ons getuienis-vennote verslag doen, raak dit net duideliker – dinge werk nie meer soos in die verlede nie. Ons het nog nostalgie oor ’n era van honderde sendelinge en wonderlike projekte en kerke vol gelowiges, maar dis asof baie daarvan aan die taan is en nou op ‘n krisispunt staan – krisisse in verhoudings, leierskap, finansies en meer. Ons ou modelle en ou rolle is uitgedien en ons weet nog nie hóé vorentoe nie. Ons raak bekommerd oor die kerk, maar ook oor onsself. Wie is ons nog eintlik en wat moet ons doen? Dit steel ons vrymoedigheid (mag ek die Engelse woord ‘boldness’ gebruik?) as God se geroepenes in die wêreld.
Verlede Sondag gaan preek ek vir plaaswerkers by ‘n plaasskooltjie. Boere van ‘n nuwe distrik het dit gereël. Dis nog op die ou manier – die wit sendeling wat vir swartmense preek. Hulle daag drupsgewys op. Ons ken mekaar nog glad nie. Ons groet versigtig en kyk mekaar met suspisie uit. Maar eindelik kan ons begin. Ons is nog effe ongemaklik met mekaar, maar ek bring ‘n eenvoudige evangelieboodskap: God het ons volgens sy beeld gemaak, vir sy glorie. Ons het sy glorie verruil vir ons nuttelose afgode en ons sondige drange nagejaag, eerder as sy wil. So is ons totaal verlore, vol skande, pleks van glorie. Maar Jesus, in sy onpeilbare liefde, neem al ons vuil op Hom en dra ons straf. So kom herstel Hy ons sodat ons opnuut kan leef tot God se glorie.
Ons stap uit die ou klassie, saam opgewonde oor die evangelie. Alle suspisie en vooroordeel het verdwyn soos mis voor die son – die son van Christus se heerlikheid. En ek besef: Dis waar ons “boldness” lê: Nie in ‘n ou model of ʼn nuwe een nie. Nie in ʼn magsposisie of polities-korrektheid nie. Nie in geld of titels nie. Nee, ons “boldness” lê in Christus se “boldness”, in sy heerlikheid. En waar die heerlikheid van ons menslike planne en rolle kom en gaan, word sy heerlikheid net altyd meer.