Hier volg ‘n brief ontvang vanaf ds Arnau van Wyngaart, leraar in Eswatini (Swaziland):
Kollegas, mag ek langs hierdie pad vir julle vra vir voorbidding vir Eswatini (Swaziland). Soos wat ek hier skryf, is Eswatini letterlik besig om te brand. Daar is die afgelope jare sporadies opstande teen die regering en veral die rojale regeringstyl van die koningshuis. Dit wil lyk asof die huidige situasie met Covid-19, die gebrek aan werksgeleenthede en die aspirasies van ‘n groep jongmense die perfekte storm veroorsaak het. Wat aanvanklik begin het as protesoptrede teen die koning en die regering, het nou verder uitgebrei na doodgewone wetteloosheid. Groot winkels (Spar, Pick n Pay, Boxer en ander) is op verskeie plekke in die land geplunder en verbrand. Plantasies, veral rondom die suidelike dorp Nhlangano, is aan die brand gesteek en is besig om te brand. MTN is opdrag gegee om hulle torings af te skakel (van gisteroggend af) en dit is moeilik om enige nuus te ontvang. Die internet is vanoggend vir ongeveer ‘n uur aangeskakel en ek het toe probeer om soveel moontlik nuus te kry oor wat op die grond aan die gang is. Maar keer op keer is daar boodskappe wat deurkom van kerklidmate wat vra: “Please pray for us. The situation is desperate.”
Ons moes ons kerk se kleuterskole sluit sowel as die kombuise waar ons daagliks ongeveer 500 kinders kos gee. Met die kruidenierswarewinkels wat geplunder en verbrand is en ook gesluit is, is daar ook nie ‘n manier waarop mense kos in die hande kan kry nie.
Bid asseblief saam vir vrede in die land.