Terwyl ons nou in Vrouemaand is, is dit goed dat ons bietjie kyk na die stand van vroue in Islam. Ek moet uit die staanspoor toegee dat daar uitsonderings is op die prentjie wat hierdie artikel teken. Die hartseer van hoe baie vroue in Islam behandel word, word egter hierin verwoord.
Wanneer jy in gesprek met ‘n Moslem oor sy godsdiens tree, is een van die sake wat hy normaalweg eerste wil regstel, jou veronderstelde idee van die stand van vroue onder hulle. Hulle sal jou ook dadelik daarop wys dat hulle heilige boek, die Koran, die enigste in die wêreld is wat ‘n hele hoofstuk afstaan aan Maria, die moeder van Jesus. Dit staan onder hulle bekend as die Surah Maryam (Arabies vir Maria). Dit is die negentiende hoofstuk van die Koran en bestaan uit 98 versies.
Die tradisionele Islamitiese ideaal vir vroue is vroulike beskeidenheid (versluierd en stil) en gehoorsaamheid (opofferend en onbaatsugtig). Eiewilligheid en ongehoorsaamheid deur vroue word gesien as ‘n ontwrigting van die natuurlike godgegewe orde van wederkerige man-vroulike pligte en verpligtinge in die gesin, sowel as om die wyer sosiale grense tussen leier-volger, man-vrou en privaat-publiek te oorskry[1].
Die meerderheid Moslemvroue regoor die wêreld, meer spesifiek dié wat in lande woon waar shari’ah as die hoofbron van reg geïmplementeer word, word steeds beskou as iemand met tweederangse status en het ‘n gebrek aan onderwys. Hulle ontvang onregverdige behandeling in gevalle van egskeiding en onderhoud, en ly ook onder ander geregtelike diskriminasie. Die getuienis van vroue dra minder gewig as dié van mans en vroue het minder regte in egskeiding, toesig oor hulle kinders, erflatings en vergoeding[2].
Baie Moslemvroue ly as gevolg van poligamie, kinderhuwelike, gedwonge huwelike en verkragting. Die hoë voorkoms van gesinsgeweld en seksuele aanranding word bevorder deur die shari’ah-gebaseerde ondergeskiktheid van vroue aan mans en deur patriargale kulturele tradisies wat as godsdienstig geag word, dit wil sê Islamities.
Voor die opkoms van Islam het vroue in Arabië feitlik geen wettige status gehad nie, omdat hulle bloot die eiendom van hul vaders of mans was. In teenstelling met die situasie van hierdie vroue, het die Koran hulle ‘n mate van beskerming in huweliksake gegee. Die Koran het dus, in sy oorspronklike konteks, ‘n aansienlike verhoging van vroue se status in daardie tyd meegebring, maar het geen verdere vordering in die daaropvolgende eeue gemaak nie[3].
Dit sal maklik (en nodig) wees om vinger te wys na Moslems in hoe hulle in die algemeen vroue behandel. Die vraag is egter, vir ons as Christene, hoe behandel ons vroue – algemeen gesproke, maar ook in die kerk?
[1] Shala Haeri, “Obedience versus Autonomy: Women and Fundamentalism in Iran and Pakistan”, in Martin E. Marty and R. Scott Appleby (eds.), Fundamentalisms and Society: Reclaiming the Sciences, the Family and Education, Chicago: University of Chicago Press 1993, pp. 182-183
[2] Ashgar ali Engineer, The Qur’an, Women and Modern Society, Kuala Lumpur, Malaysia: Synergy Books International n.d., pp. 75-84
[3] Sookhdeo, P. 2020. Understanding Living Islam. Isaac Publishing: Vienna VA