Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Net nog ‘n Plain Joe

Geskryf deur ds Joe Müller van NG Gemeente Bethlehem-Oos

Ek hou niks daarvan om iets oor myself te sê nie, maar ter wille van die beter-leer-ken gedeelte sal ek poog om iets neer te pen. Ek is een van ‘n tweeling, gebore op 10 Junie 1983 in Moedersbond Hospitaal (vandag Femina). My ouers sê ek is ‘n volle 5 minute ouer as my tweelingbroer (maar hoe sal ek weet).

In die jaar wat ek vyf geword het, het ons Brakpan toe verhuis vanaf Silverton, weens my pa se werk in die SAPD. Daar het ek my skoolloopbaan voltooi en in 2002 het ek ‘n Diensjaar vir Christus gaan doen genaamd C-Kruis. Daar het ek tot bekering gekom en die roeping ontvang om Teologie te gaan studeer. My roepingsteks was uit 1 Timoteus 4:13: “Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee.”

Ek het my BTh-Graad voltooi in 2006 aan die Universiteit van Pretoria en kort daarna ook my MDiv-Graad in 2008 by dieselfde instansie. My eerste beroep was na Kroonstad, waar ek vir sewe jaar in NG Gemeente Kroonheuwel-Noord predikant was en absolute vreugde uit my eerste gemeente geput het. Ek kon nie vir ‘n beter leerskool in die praktyk gevra het nie!! Daarna is ek in 2016 na NG Gemeente Bethlehem-Oos beroep, waar ek tans predikant is. My kollega het in Junie hierdie jaar afgetree en ons is in ‘n beroepingsproses op die oomblik. Met die COVID-19 pandemie en die Grendeltyd waarin ons nou is, word die proses bietjie belemmer, maar ons sal hopelik volgende jaar in 2021 weer ‘n gedugte span van twee wees in die gemeente wees.

Op sinodale vlak het ek op JONK gedien saam met ds Francois Lamprecht en in JONK het ek op die #Imagine Bestuurspan saam met ds Christo Nel gedien. Hopelik sal my volgende kollega die toue daar verder trek. Dit was voorwaar ‘n groot voorreg om op #Imagine te dien, maar soms weet jy wanneer dit tyd is om eers aan te beweeg. Ek is ook op die Vennote in Getuienis se sinodale span as verteenwoordiger van my Ring en geniet elke oomblik daarvan.

Ek is mal oor visvang (nie vlieghengel of bass-hengel nie). PAPGOOI!!! Die lekkerste vorm van visvang ooit. Ek speel bietjie gholf ook en hou deesdae baie van boeklees. In my vrye tyd spandeer ek genoeg tyd met my vrou, Retséh en met ons twee seuns Hendré (7 jaar) en Johanru (2 jaar). Ek is ‘n gesinsman wat baie lief vir my huis is.

Verder dien ek Jesus met oorgawe, hou baie van lag en grappies, maar ondersteun ook waar ek kan. Die bediening is absoluut my passie en my dag is nie voltooi as ek nie iets vir iemand kon beteken nie. Ek sien uit na nog baie jare in die Vrystaat Sinode (as die gemeente dit met my sal uithou – HAHA).

116 | Maatskaplike NOODLYN