Deur ds Richi Kemp, leraar van NG Gemeente Bethlehem-Eureka
“So sê die Here, julle Verlosser, die Heilige van Israel: Om julle ontwil stuur Ek iemand teen Babel en laat Ek al sy inwoners, die Galdeërs, vlug met dieselfde skepe waarop hulle hulle vroeër beroem het. Ek is die Here, julle heilige God, die Skepper van Israel, julle Koning. So sê die Here, Hy wat ‘n pad gemaak het deur die see, ‘n deurgang deur die magtige waters, Hy wat strydwaens en perde laat optrek het, ‘n leër op volle sterkte na sy ondergang toe. Hulle kon nie weer opstaan nie, dit was klaar met hulle, hulle is soos ‘n lamppit uitgedoof. Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”
Jesaja 43:14 – 19
Daar is baie mense wie se motors net sowel nie ’n truspieëltjie hoef te hê nie. Hulle kan nie minder omgee wat agter hulle gebeur nie. Tog is daar baie mense wat in die truspieëltjie leef. Hulle is vasgevang deur iets wat in die verlede gebeur het. Hulle sug gewoonlik met genoegdoening en praat van die goeie ou dae!
Die Israeliete was in ballingskap in Babilon, maar hulle was eintlik nog gevangenes van hulle verlede. Aan die een kant was hulle vasgevang in hulle skuldgevoelens oor die verlede. Hulle is nie sonder rede in ballingskap nie. Hulle het hardnekkig bly sondig nadat die Here hulle voortdurend met groot geduld deur Sy profete gewaarsku het. Uiteindelik het Hy geen ander keuse gehad as om hulle te straf nie. Jerusalem en die tempel is vernietig en die room van die bevolking is in ballingskap weggevoer. In hulle mismoedigheid dink en praat hulle nie oor die toekoms nie. Hulle dink eerder terug aan hulle volk se roemryke verlede, toe die Here hulle met mag uit Egipte verlos het en saam met hulle deur die Rooisee getrek het. “Those were the days!”
In dié gedeelte bring die Here aan hulle ’n wonderlike boodskap van hoop:
Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen …
Hy begin in die gedeelte om hulle te herinner aan wat Hy gedoen het toe Hy honderde jare gelede hulle voorouers uit Egipte verlos het. Hy herinner hulle aan die wonderwerke wat Hy gedoen het, maar dan kom sê Hy eintlik vir hulle: “You ain’t seen nothing yet!”
Dink aan die verlede, leer uit die verlede, word bemoedig deur die verlede, maar moenie in die verlede leef nie.
Hulle kan vergeet van hulle mislukkings en sonde, want waar die Here ons vergewe het, vergeet Hy dit.
Die Here roep hulle om aan te beweeg ná hulle mislukkings. Hy roep hulle egter ook om aan te beweeg en nie net aan die wonderwerke te dink wat Hy gedoen het toe Hy hulle uit Egipte bevry het nie. Hy is nog ver van klaar, “the best is yet to come!”
Hy openbaar aan die volk dat Hy op die punt staan om iets nuuts te doen. Hy gaan hulle teruglei uit ballingskap, na hulle eie land toe. Hy gaan hulle help om Jerusalem en die tempel te herbou en ’n nuwe lewe te begin. Dis egter nie al nie, Hy gaan gou Sy seun stuur om hulle finaal van sonde te verlos.
Die probleem is dat, solank ons by die verlede vasval, ons nie kan vorentoe kyk nie. Ons kan ook nie sien wat reeds besig is om te gebeur nie.
“Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom.”
As Israel net ophou terugkyk, sal hulle sien dat dinge reeds aan die gebeur is, dat die winde van verandering reeds aan die waai is. Die Here kom as’t ware en draai hulle koppe om, sodat hulle die toekoms met verwagting kan sien aanbreek.
Aan die begin van ’n nuwe jaar is dit ook Sy boodskap aan ons. Moenie by die verlede stilstaan nie. Dalk is jy nog vasgevang is jou mislukkings en sonde. Dalk hou een of ander trauma of hartseer jou gevange in die verlede.
Dalk is jy nog vasgevang by die oomblik van jou bekering. Dalk het daar geestelik nie veel met jou gebeur nadat jy die Here aangeneem het nie. Ons kan nie van gister se geloof vandag leef nie.
Die gevaar is natuurlik dat ’n kerk of ’n gemeente ook in die verlede kan vasval. Leef ons nog soos ’n kerk wat glo die beste lê nog voor?
Dikwels, as mens by ’n kerkgebou instap, voel dit amper of mens ’n tydkapsule betree. Mens is skielik terug in die sewentigs. Die muurbehangsels is gemaak deur mense wat al lank nie meer met ons is nie. Die letters van die gemeente-visie is verdof en besig om af te dop. Die slim TV of die dataprojektor is gewoonlik die aanduiding dat die gemeente darem tog die tegnologiese era betree het.
Die NG Kerk het voorwaar ’n roemryke verlede, maar ook ’n paar dinge wat ons laat bloos. Die voortreflikhede van ons verlede en die mislukkings uit die verlede mag ons nie gevange hou nie. Ons moet glo dat die Here op die punt staan om iets nuuts te doen.
Dis tyd om minder in die truspieëltjie te kyk en met verwagting te fokus op wat aan die gebeur is en selfs met verwagting na die toekoms te kyk. Vir ons as kinders van God is die beste nog aan die kom. God is besig om alles nuut te maak. Vir ons wag die Hemelse heerlikheid, maar tussen hier en dan is die lewe gelaai met verassings om elke draai.

| verskaf: Ds Richi Kemp, leraar van NG Gemeente Bethlehem-Eureka.