Deur Ethan Kleynhans, ’n eerstejaar-teologiestudent aan Kovsies
Kerkgeskiedenis, die verhaal van die liggaam van Christus deur die eeue, vanaf daardie opwindende oomblik van Pinkster, bied steeds volhoubare insigte wat betekenisvol is vir getroue gelowiges. Dit is waardevol om na die verlede terug te kyk en te leer hoe die kerk verskeie uitdagings, soos dwaalleer, vervolging en krimpende gemeentes, gehanteer het. In ons hedendaagse wêreld, waar ons steeds soortgelyke uitdagings in die gesig staar, is hierdie lesse van onskatbare waarde.
Die vroeë Christene het, ten spyte van intense vervolging, aan die Evangelie van ons Here Jesus Christus bly vashou. In oomblikke van teenspoed het hulle hul krag geput uit hul geloof. Een inspirerende voorbeeld is Polikarpus van Smirna, ’n vroeë kerkvader, wat selfs in die aangesig van die dood onwrikbaar aan Christus getrou gebly het. Hy het geweier om sy geloof te verloën, met sy moed versterk deur die gebede en ondersteuning van sy geloofsgemeenskap. Hierdie gemeenskapsband het getoon dat geloof, wanneer dit in liefde gedeel word, selfs die grootste vrees kan oorwin. Gelowiges vandag kan steeds hoop en volharding put uit hierdie voorbeelde van geloofsgedrewenheid.
Die Reformasie het ‘n herontdekking van sekere Bybelse waarhede meegebring, soos die genade deur geloof alleen. Hierdie beweging het die noodsaaklikheid van voortdurende selfondersoek in die kerk beklemtoon, nie net op individuele vlak nie, maar ook as ’n gesamentlike geloofsgemeenskap. Dit roep die vraag op: Wat leer die kerk vir haar lede, en is dit in lyn met die Heilige Skrif en die tradisie van die vroeë kerk? Dit is van kritieke belang dat ons leerstellings wat nie Skriftuurlik gegrond is nie, verwerp, soos die leer van die vagevuur en aflate in die Middeleeuse kerk. Ons geloof moet altyd gebou wees op die waarheid van die Skrif.
Die sendingsbewegings van die verlede het die boodskap van hoop en genade oor verskillende kulture heen versprei. Andrew Murray se prediking en skryfwerk het herlewings geïnspireer, met ‘n sterk fokus op gebed en sending. Die impak van sy werk is steeds merkbaar in die kerk vandag en spoor gelowiges aan om met dieselfde passie en liefde die Goeie Nuus plaaslik en internasionaal te deel.
Gebed het nog altyd ‘n sleutelrol in geestelike herlewings gespeel. Tydens die Great Awakening het gelowiges in massa-byeenkomste saamgebid vir herlewing en bekering. Hierdie volgehoue gebed het predikers soos Jonathan Edwards en George Whitefield in staat gestel om mense se harte aan te raak met die kragtige boodskap van verlossing. Die gebedsbewegings het diep geestelike ontwaking teweeggebring en gemeenskappe vernuwe. Dit herinner ons aan die krag van volgehoue gebed om gemeenskappe te verander en, belangriker nog, ons toewyding aan God te vernuwe.
Die ryk geskiedenis van die Kerk van ons Here Jesus Christus is nie net ’n versameling ou verhale nie, maar ’n riglyn vir ons as hedendaagse gelowiges. Ons word geïnspireer deur mense wat alles opgeoffer het vir God en sy Evangelie. Volgens OpenDoors se waaklys was daar vanjaar al 4 998 gelowiges wat hulle lewens opgeoffer het ter wille van hul geloof, en 365 miljoen gelowiges wêreldwyd ervaar steeds vervolging of diskriminasie. Mag ons, soos ons voorgangers, met volharding en geloof voortgaan en ons roeping met dieselfde toewyding uitleef.
| verskaf deur: Ethan Kleynhans