My naam is Elandré. Ek is die jongste predikant in my ring en verseker die kortste! Maar soos wat hulle sê: “Klein botteltjies, groot gif.” Dit was altyd die sê-ding oor my gewees in my skooljare. Ek was altyd die kortste een op die rugbyveld, maar altyd die een wat die grootste (“vetste”) outjie gesoek het om te tackle. So was dit ook met my ander sporte, naamlik atletiek en swem. Niemand moes my size onderskat nie.
So, sê ander mense, is dit ook met my in die bediening. Tog voel dit nie vir my so nie, maar dis wat baie mense sê. Hulle sê ek is nie bang om die waarheid uit God se Woord te preek nie. Hulle sê ek is nie bang vir wat mense gaan sê nie. Hulle sê dat ek nie mense se ore te streel nie, maar om mense se oë te help oopgaan en om in ‘n intieme verhouding met God te staan soos wat Hy graag met ons wil hê.
As ek so luister na wat hulle oor my sê, kan ek nie stry nie. Dit is dan seker waar dat daar groot gif in hierdie klein botteltjie is. Dit is seker ‘n goeie kwaliteit om nie grootkoppig te wees oor my geestelike volwassenheid nie. Dis seker God se manier om nie dit aan jou bekend te maak hoe volwasse jy in die geloof is nie, want dit hou jou nederig.
Maar as daar een ding is waaroor ek wel kan brag, is dit NG Gemeente Clocolan se YouTube-dienste. Ek dink ons YouTube-dienste is seker een van die beste wat daar is. Gelukkig het ek ‘n redelike agtergrond van video editing, so ek was vir die afgelope paar maande die rekenaartegnikus.
Ons het meeste van ons preke in die buitelug opgeneem. Die Oos-Vrystaat het so baie prag met al sy berge, bome, riviere, watervalle en natuurskoon, dat mens nie anders kan as om daar te preek en so in God se teenwoordigheid te wees nie. Dis asof die preke sommer self ook lewe kry. Dis daarom wat ek sê dat dit seker een van die beste dienste sal wees wat jy in die Sentrale Ring, néé die Vrystaat, néé in Suid-Afrika kan kry.
Dit was ook die gemeentelede se gevoel gewees. Hulle het die preke baie geniet, veral die nuwe soort preke wat nie gebind was tot die kerkgebou nie. Dis asof hulle saam met my op reis was deur God se natuur.
Natuurlik kan ek ook nie my kamera- en klankman ignoreer nie. Pietie Eksteen, ons gemeentevoorsitter, was by elke preekopname betrokke en ek dank en eer hom ook vir sy tyd en moeite wat hy ingesit het om my te help. Die tydjie wat ons preke opgeneem het sal ek altyd koester en nooit vergeet nie. Dit was so ‘n spesiale tyd. Om net stil te raak in God se natuur, koffie te drink en na Sy stem te luister.
Wat die preke in die natuur my geleer het, was om tyd te maak vir God. Gaan een dag saam met jou gesin en gaan klim ‘n berg uit, sit by die dam, loop in ‘n woud saam, hou piekniek saam met jou geliefdes, en beleef God se teenwoordigheid by jou. Laat Hy vir jou perspektief gee op jou lewe!