Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

In die loop van veertig dae … (in die Vrystaat)

Deur ds Jan Lubbe, voorsitter van die Moderamen van NG Kerk Vrystaat

Die evangelis Lukas begin sy tweede deel van die groot geskiedverhaal – “Lukas” en “Handelinge” – met ’n mededeling dat “in die loop van veertig dae” (Handelinge 1:2), die Opgestane Jesus aan sy verbaasde dissipels verskyn en getoon het dat Hy werklik lewe; herkenbaar, en tóg anders. ’n Kontinuïteit met vroeër toe hulle saam in Galilea was en vóór daardie Laaste Week in Jerusalem en die onvoorstelbare gebeure by die Pasga, maar ook ’n diskontinuïteit; die tyd van vroeër was verby; hulle het met nuwe oë na Jesus gekyk; Hý was nou ánders. Van “Rabbi” met “dissipels”, na “Here”, en hulle, “apostels”, gestuurdes. Sy boodskap egter steeds: “die koninkryk van God is naby” (Handelinge 1:3, Lukas 4:43). En Jesus se opdrag vir daardie veertig dae, “die tydperk” tussen Paassondag en Hemelvaartsdonderdag: “… bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het” (Handelinge 1:4). Wag. Die gebedshouding en -vertroue vir gelowiges in hierdie veertig dae van April na Mei 2025.

In die Vrystaat is hierdie veertig dae ons Herfs, vanjaar ’n baie nat en dalk kort Herfs – daar was onverwags al sneeu op die Maluti’s aan ons oostekant. Die afgelope twee maande, die natste násomer in jare, en dít ook nog ná die warmste en droogste Desember en Januarie wat ons landstreek in dekades beleef het! Ekstreme toestande, uitermate uitdagend vir ons landbougemeenskap en álmal in ons provinsie. Gister by ons vergadering, het die Interimkomitee geluister na berigte oor hoe dit in die Vrystaat gaan en na versoeke wat ons ook hiervoor ontvang het, en besluit om alle gemeentes uit te nooi om Sondag 11 Mei 2025 as ’n Dag van Dank en Voorbidding in te rig, in eredienste of ander byeenkomste, in jul saamwees as gemeenskap van gelowiges. God se sorg is vir ons goed, oorvloedig, maar ons bly afhanklik van Sy nabyheid in tye wanneer daar teëspoed is en die weg vorentoe, steil …

Hierdie veertig dae is vanjaar om nóg ’n rede vir ons as NG Kerk in die Vrystaat, van heugelike belang: Op 13 Mei, sal dit 160 jaar wees sedert daardie eerste elf gemeentes tussen die Gariep en die Vaalrivier byeengekom het om ’n selfstandige Sinode te vorm (1865). En kyk mens terug op die pad waarlangs “in die loop van (4 x) veertig jaar” daardie elf gemeentes uitgegroei het na meer as 150; ry mens deur ons dorpe en jy sien die kerktorings staan en heenwys na die hemel en na hoop; dink mens oor die voetspoor van ons kerk regdeur die Vrystaat en die uitsteek van hande wat steeds help en troos … dan kom daar ’n diepe dankbaarheid vir God se genade en sorg, vir inspirasie en lewe in jou op. Dís ’n rede om van Sondag 11 Mei se eredienste, ’n feesgeleentheid te maak, dankie te sê en te bid oor ons gemeentes se roeping in die Vrystaat. Die profetiese visioen in Esegiël 37:1-14, vol belofte, het ons as Interimkomitee aangegryp, en ons wil leraars, kerkrade en gemeentes uitnooi om rondom hierdie teks te vergader en te wag op die leiding van die Heilige Gees. Volgende week sal daar ’n liturgiese voorstel, preekskets en gebede aan alle kollegas en gemeentes gestuur word vir gebruik op Sondag, 11 Mei. Dit is ook Moedersdag; laat ons oor “ons moeder” bly wees en vir haar bid! Die herdenking van hierdie 160 jaar behels in die volgende weke onder andere ’n musiekaand in die Planetarium in Bloemfontein (22 Mei); die Moderamenvergadering te Smithfield waar die eerste Sinode byeengekom het (26 Mei); ’n uitstalling en gedenkvideo deur die Argief en artikels oor ons verlede in VRYPOS – hou dus ons kommunikasielyne dop …

“In die loop van veertig dae” is natuurlik ook elders in die Bybel ’n betekenisvolle uitdrukking: die veertig dae van vloedreëns in Genesis 7; die veertig dae van Jesus in die woestyn (Lukas 4). En dan daardie staptog – eintlik ’n vlug – van die vermoeide profeet Elia na die berg Horeb (1 Konings 19), veertig dae, ’n engel met water en roosterkoek, afsondering in ’n grot teen die berghang, storm en stilte … en die Stem van God. NG Kerk Vrystaat nooi alle predikante, teologiestudente, dosente, bedienaars, diensleraars en emeriti uit na die wildplaas Amanzi vir ’n driedaagse Stilwordkans, 10 tot 12 Junie 2025. Dis die week ná Pinkster: kom rus, kom stap, kom bid, kom luister na teoloë soos Tom Smith, Dolf Britz en Mzwandile Molo; boere soos Willie Nel en Cobus van Coller; begeleiers Marelé Venter, Louwrens Scheepers en Hanneke Lubbe; jong en entoesiastiese dominees soos Adri Potgieter, Sanré Benade en Schalk van Heerden. Lag (en huil) saam met kunstenaars soos Christof van den Berg en Frank Opperman! En ons lees 1 Konings 19, diep en stadig en luisterend – ons “wag op die belofte van die Vader”. Hou jou posbus dop en bespreek jóu plek vóór Vrydag 23 Mei 2025.

“In die loop van …” beteken ten slotte óók dat ons saam met mekaar op weg is, as “mense van die Weg” (Handelinge 9:2). In die Moderamen en saam met ringsverteenwoordigers is ons besig met ’n groot strategiese gesprek oor die pad vorentoe vir die NG Kerk Vrystaat (onderweg na en anderkant Sinode 2026). Oor hoe die bediening in gemeentes ondersteun en volhoubaar gemaak kan word; oor die strukturering van ons sinodale werksaamhede; oor die funksionering van die Moderamen self vorentoe. Kollegas, broers en susters: laat ons in hierdie dae mooi met mekaar op weg gaan; laat ons mekaar liefhê, respekteer en by die waarheid oor mekaar hou – dié waarheid wat sal seëvier (oor onsself, oor die Kerk, oor die deurmekaar wêreld waarin ons leef), is die Waarheid van Christus, Hysélf. Ons Verlosser, in lewe en sterwe, na liggaam en gees, in die woorde van Nicea en Heidelberg. Laat ons dan wegdraai van “halwe waarhede”, van verdagmaking en oordele oor mekaar: ons leef álmal sola uit en deur en in Sý genade.

’n Geseënde veertig dae wagtyd jul toegebid!

Ds Jan Lubbe

Voorsitter: Moderamen van die NG Kerk Vrystaat

 | verskaf: Menuha, waar vier diensleraarstudente die afgelope week ’n retreat van die Seminarium bygewoon het.