Dit is Donderdagaand, ná ‘n vol dag. Langs die vuur by ons weeklikse familiekuier by Oupa Hendrik Smith in Striata, flits my selfoon se liggie. ‘n WhatsApp: “Ek is veilig tuis” – Leon Foot, ons skriba, uit Welkom. Weer flits die foon: “Lankal tuis”, Virginia. Nóg ‘n keer: “’n Paar draaie gery, maar is nou ook veilig tuis”. Ek is verlig: Dis Adri Potgieter uit Senekal. Nóg een: “Veilig tuis”, Viljoenskroon. “Veilig tuis. Dankie vir ‘n mooi vergadering”, Vaalrivier. Zastron. Betlehem. Bultfontein. “Ek het besluit om oor te slaap, Harrismith lê ver.” “Veilig in Koppies. Lekker slaap.” Een ná die ander laat weet. Ek is dankbaar: Om in hierdie dae ná ‘n lang vergadering huis toe te moet ry oor sommige Vrystaatse paaie, is gevaarlik. ‘n Gewaarwording kom lê in my hart: Ons is aan mekaar verbind, hierdie sewe-en-twintig mense in die Moderamen. “Dankie vir die gebede vir my Ma”, laat weet Dawie Botes, ondervoorsitter. Ons het mekaar nie gekies nie; die Vrystaatse Sinode het ons aan mekaar gegee, met ‘n versoek. Ons is nie dieselfde nie, maar ons het leer luister…
Wat het ons tweede vergadering van die termyn – op Lentedag 2022! – “mooi” gemaak?
Een ouderling reageer die volgende oggend: “Die Here versamel vir Hom kinders oor die hele aarde en ons moet maar net getrou wees aan die roeping daar waar ons werksaam is.” Dít was waarby ons vergadering onder die groot ou bome op Mooigenoeg verlede week begin het: Roeping. Die Mpundu-boom by Magwero, in die noorde van Zambië, waar op 5 Julie 1899 die Evangelie die eerste keer deur twee Vrystaatse sendelinge bedien is. In sy opening van ons vergadering vertel dr. Gideon van der Watt oor die bediening, invloed en nalatenskap van dr. Andrew Murray in die Vrystaat, in kerk en onderwys; in die verhoudinge tussen Boer en Basutho en Brit. Dit is vanjaar twee eeue sedert die Murray-familie in die Kaap aangekom en ‘n bedieningswyse hier in Suider-Afrika kom vestig het. ‘n Eie spiritualiteit: Eg en warm, vredevol, roepingsbewus, “innig verbonde aan Jesus, die ware Wingerdstok” (Johannes 15:5). Ons open ons vergadering met ‘n lied uit daardie Skots-evangeliese tradisie:
“Ek weet verseker: Jesus is Heer” (Lied 514).
Dit is ook die lied waarmee ons in die voetspore van Murray-nasate groete namens die NG Kerk Vrystaat aan die pas afgelope sinode van die Reformed Church in Zambia gaan oordra het: “Blessed assurance”, het dit toe meevoerend in die skoolsaal in Katete opgeklink:
“This is my story, this is my song,
praising my Saviour all the day long;
this is my story, this is my song,
praising my Saviour all the day long.”
Ons het in die vergadering gehoor hoe dit in die gemeentes en gemeenskappe in die Vrystaat gaan. Daar klínk ‘n loflied in ons kerke op, dankbaar ná Covid, eredienste het begin herstel. Maar die uitdagings van lewe in ons landstreek en groeiende bedieningsbehoeftes spreek ook uit ons sakelys. Ons praat oor gemeentes wat treur. Ons soek ‘n welwillende weg met mekaar. Die Sinodale Taakspan Kerkorde se advies word bespreek. Die nuwe Kerkorde – 302 bladsye! – is klaar en word ontvang. Daar dien ‘n brief oor die eer van God se Naam. Teologiese opleiding kom ter sprake; die nuwe ooreenkoms wat met die Universiteit van die Vrystaat onderteken is; die vrae van besorgde leraars oor die konfessionele vorming van ons studente. Verslae van elke bediening word voorgelê. Daar kom ‘n werkswinkel vir Ringskommissies. Die nuwe Barmhartigheidsbediening kom op dreef. Die gesprek met Engo verloop goed. Studentebediening word herbedink. Die finansiële state vir 2021/2022 is goedgekeur; daar was ‘n beleggingsopbrengs van 7,71%. Voorstelle word bespreek om gemeentes met agterstallige pro rata’s te help…
Wat laat ‘n dominee amper 300 km ver terug ry huis toe en die volgende oggend in ‘n opgewonde stemboodskap aan sy gemeente getuig oor wat hy in ‘n vergadering van die Moderamen gehoor het? Oor ‘n verbintenis aan mekaar en aan ‘n roeping? Oor ons ou-ou leuse: “Lig in die Duisternis, hier vir God, mekaar en die wêreld”? Oor ‘n lied vol blye sekerheid en tóg ‘n diep afhanklikheid? Oor ‘n Skrifwoord waarby ons begin en geëindig het:
“Ten slotte, geliefdes, wees altyd bly, streef na vervolmaking, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede – en die God van liefde en vrede sal met julle wees.” (2 Korintiërs 13:11)
Die belewenis van kerkverband en kerkwees, eenvoudig en prakties, daagliks, daar waar jy skadu onder ‘n boom mag vind en bewus word jy behoort nie aan jouself nie, maar na liggaam en gees aan die Here en dit is goed so.
Die woorde en melodie draal nou nog in my: “Blye verseek’ring…”