Rikus van Zyl, predikant van die NG Gemeente Edenburg, deel met ons hoe die twee brande van die afgelope jaar hul omgewing geraak het. Hy vertel: ”Op 18 Junie 2021 verhuis ons uit Bloemfontein na Edenburg (op die N1 so 70 km suid van Bloemfontein) waarheen ek ’n beroep as deeltydse leraar aanvaar het. Ek het vanaf 2002 tot 2006 die voorreg gehad om gemeenteleraar in die gemeente te kon wees, dus is die voordeel daarvan om ’n tweede keer in dieselfde gemeente te werk (en dit boonop in die Covid-19-tyd) dat ek die meeste mense reeds ken en onthou.
Ek is dadelik op die WhatsApp-groep van die Edenburg Boerevereniging geplaas. Een van die gereelde plasings gaan steeds oor brande wat geblus moet word, ten minste een keer per week.
Op Maandag 12 Julie 2021 waai daar ’n sterk westewind en die boere is op hulle senuwees oor ’n moontlike brand. Om 12:45 kom die eerste boodskap deur: ’Dit brand net buite die distrik, maar die wind jaag die brand aan na Edenburg-distrik. Die brand beweeg teen ongeveer 20 km per uur. Kom help asseblief!’ En dan die woorde: ’Ek maak vol en is op pad’ – die algemene reaksie van die boere. Na 24 uur se vuur spuit is die laaste deel van die brand geblus. Een boer se reaksie: ’Ek het al baie brande meegemaak. Maar nog nooit het ek só iets gesien nie!’
”Daar is baie skade en baie genade”, vertel Rikus verder. Een boer en sy werkers word vasgekeer deur die brand. Sy woorde: ’Hoe ons daar uitgekom het, is net genade. Dit is ’n wonderwerk van God.’
Baie van die boere het groot skade aan voertuie gekry soos wat hulle moes vlug voor die brand. Sommige boere se veld het 90% afgebrand. Ander het skade aan vee wat doodgebrand het – een boer het 250 ooie verloor. Verliese is groot en een boer sê die slegste van die brand is dat die reënseisoen so ver is. Dieselfde boer se woorde op 14 Augustus: ’Vanoggend staan ons op tussen 25 – 30 mm reën in die distrik oor die brandveld. Skuldgevoel van ongeloof maar met ‘n hart vol dankbaarheid.’ Sy woorde beskryf die dankbaarheid van die boere oor die reën en die hulp vanoor die hele land. Ongelukkig was daar verliese van pasgebore lammers (een boer het oor die honderd lammers verloor) as gevolg van die reën en die koue.
Hulp kom van orals. Uit Williston se wêreld, waar dit nog baie droog is, kom die volgende boodskap: ’geen noemenswaardige reën … seker 90% van die distrik het feitlik geen weiding nie en ouens het baie skaap verkoop. Ons byt nog vas, maar dinge loop afdraand.’ Geld word oorbetaal aan die Boerevereniging om van die boere te help. Daar kom ook baie hulp van medeboere van die Edenburg-omgewing. So sou ek nog vele verhale kon vertel.
Ek het opnuut bewus geword van die talle uitdagings wat veeboere moet trotseer: Brande, droogtes, veediefstal, koue en ongediertes wat vee vang. Oor ongediertes: In net drie maande is 41 rooijakkalse en 28 rooikatte in die Edenburg-distrik van kant gemaak.
“Ons is dankbaar vir ons boere wat aanhou. Soms is dit nodig om sommer net by hulle te gaan sit en luister sonder om te veel antwoorde te probeer gee. Kom ons doen voorbidding vir hulle en dank die Here vir hulle aanhou.”