uitvoerende amptenaar van Bedieningsbegeleiding
Verander jou ingesteldheid en jou lewe verander!
Dink jouself gelukkig – Pieter van Jaarsveld
Almal wil gelukkig wees. Geluk beteken beter gesondheid, goeie verhoudings, sukses en selfs ’n langer lewe.
Die internasionaal bekende kenner Pieter van Jaarsveld neem jou met hierdie boek op ’n ontdekkingsreis van wat dit beteken om werklik gelukkig te wees.
Aan die hand van Edith Eger se ervaring in die Auschwitz-konsentrasiekamp en Dawid en Goliat se storie illustreer hy hoe jy geluk prakties deel van jou lewe kan maak.
Hierdie boek sal jou help om:
- ’n positiewe ingesteldheid te ontwikkel
- jou gedagte aan te pas deur jou brein te herbedraad
- vriendeliker met jouself te praat
- dankbaarheid te kweek
- aangeleerde hulpeloosheid raak te sien en te verander, en om
- jou volle arsenaal van geluk in te span.
Pieter skryf oor dankbaarheid (bl 155):
Dankbaarheid verloop in vier fases. Eerstens, jy erken dat dit goed gaan met jou omdat jy iets ontvang het wat jou gelukkig maak. Tweedens, jy besef jy ervaar hierdie geluk omdat iemand anders vir jou ’n geskenk gegee het, of dit nou ’n ander mens, God of selfs ’n troeteldier is. Dankbaarheid is daarom meer as ’n gevoel; dit is ’n erkenning dat iemand anders doelbewus vir jou iets gegee het om jou bly te maak. Derdens, jy besef hoe jy voel oor die geskenk wat jy ontvang het. Vierdens, jy dink na oor hoe jy jou dankbaarheid en waardering kan wys.
’n Belangrike aspek van dankbaarheid is die besef dat jy nie geregtig is op wat jy ontvang het nie. Jy het iets ontvang wat jy nie verwag of verdien het nie, of jy het meer gekry as wat jy verdien het. Dit bring ons by genade. Genade is iets wat jy ontvang sonder dat jy dit verdien; dit is ’n geskenk. Jy kan wel dankbaar wees oor ’n prestasie wat jy behaal het, soos wanneer jy ’n medalje gewen het, maar jy sal steeds besef jou talent is ’n gawe van God. Jy het dit nie verdien nie; dit bly ’n geskenk waarvoor jy dankbaar kan wees.
Hoe hartseer dat ons mindset nie van nature op dankbaarheid ingestel is nie. Ons neem soveel gawes en ervarings as vanselfsprekend aan. Ons dink ons ontvang dit deur ons eie toedoen, omdat ons so oulik en goed is. En dan bly dankbaarheid in die slag.
Een van my vriende, ’n onderwyser, wou vir haar leerders leer hoe belangrik ’n goeie ontbyt is. Sy vra toe vir elkeen wat hulle vir ontbyt geëet het. Een leerder het geantwoord: “Soet water.” Natuurlik het sy nie verstaan wat soet water is nie en het die leerder verder uitgevra. “Dit is water met suiker in, want daar was niks anders om te eet nie.” ’n Ander een het geantwoord: “Dit was nie vanoggend my beurt om ontbyt te eet nie.” Verstaan jy hoe baie jy het om voor dankbaar te wees? Ek het onlangs 17 mans by ’n verkeerslig met hul vingers in die lug sien staan, op soek na ’n piece job. Ek het gewonder hoeveel van hulle daardie dag werk sou kry en hoeveel vir hul kinders sou moes sê: “Ek het nie vandag werk gekry nie. Ons het nie vanaand iets om te eet nie.” Soms moet ons net rondom ons kyk en besef wat ons alles het om voor dankbaar te wees.
Pieter van Jaarsveld is DV op 30 September en 1 Oktober 2025 in Bloemfontein. Merk solank die datum. Verdere besonderhede volg.
