Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Enige waardering vir die vroue se stilte?

Die oënskynlik oorspronklike einde van die Markus-evangelie bly ’n tergende vraag. Hoekom sou hierdie evangelie, gedagtig aan alles wat dit voorafgegaan het, eindig met dié woorde: “Hulle het uitgegaan en van die graf af weggehardloop, want bewing en verbystering het hulle beetgepak. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle was bang” (Markus 16:8, 2020-vertaling). Vroeër moes die Messiaanse geheim gehou word, maar nou is die opdrag aan die vroue pertinent in die voorafgaande verse, “Moenie ontsteld wees nie. … [G]aan sê vir sy dissipels en vir Petrus, ‘Hy gaan voor julle uit na Galilea. Daar sal julle Hom sien, soos Hy vir julle gesê het’” (Markus 16:6-7).

Daar is verskeie maniere om met hierdie tergende vraag om te gaan. Enersyds sou ’n mens kon argumenteer dit is nie die oorspronklike einde nie, en daarom is daar aan die teks bly skryf vir ’n meer sinvolle alternatiewe einde. Andersyds sou ’n mens by hierdie oorspronklike afbakening moes hou, dan doelbewus eerder fokus op die ander frase in die man met die wit klere se woorde, naamlik: “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is opgewek! Hy is nie hier nie. Kyk, hier is die plek waar hulle Hom neergelê het. …” (Markus 16:6). Natuurlik kan ’n mens wegkom deur enige van bogenoemde te doen en so uiting te gee aan die evangelie en sy verkondiging, maar ek wonder tog of so ’n doelbewuste blinde oog en voortgesette swye oor die vroue se stilte en vrese nie ons verstaan van die evangelie verskraal nie. Kortom, dit is maklik – selfs teen bogenoemde agtergrond verleidelik – om te hardloop en te hou by die woorde van “die jong man met die lang wit stola” (Markus 16:5) en slegs dít te vier, maar is daar nie ook iets goeds te hore insake daardie oorspronklike einde met sy dawerende stilte en vrese waarmee ons as hoorders van die evangelie gelaat word nie?

Padlangs gestel: Ons is goed met die viering van die triomf en oorwinning, maar wat as dit sonder enige waardering en insig geskied van wat in werklikheid daarop gevolg het? Dit is maklik om vinnig die antwoorde te gee, maar wat daarvan om ’n bietjie meer in te leef in die vrae? Dalk is dit weer tyd om opnuut ’n lans van waardering vir hierdie vreemde einde te breek en so nog meer van die goeie nuus oor die evangelie te hoor!

Eerstens, dit is eintlik misleidend om hierbo te hamer op ’n “dawerende stilte en swye” waarmee die verhaal oënskynlik eindig. Letterlik eindig dit met swye, maar die retoriese effek is juis om dit te deurbreek. Ek sou die bedoeling van die teks weerspreek as ek slegs wil sinspeel op “dit is waarmee ons as lesers gelaat word”. Die punt is, kort en kragtig, om ironies genoeg juis die stilte te verbreek en ons as hoorders by die verhaal in te trek. Hierdie einde is nie soseer stomp en verkeerd nie, maar juis gesofistikeerd en oop! Helaas word ons as lesers van die teks nie ten slotte in stilte gelaat nie, maar veel eerder ingetrek in die geheim wat nou sin maak en op ons wag in Galilea om te gebeur.

Markus, soos enige van die ander skrywers van die Bybelse verhale, sien homself nie soseer as ondersoekende joernalis wat slegs feitlike verslae aan sy lesers moet lewer nie, maar dalk veel eerder as ’n kreatiewe dramaturg van apokaliptiese retoriek wat werk met die logika en verbeelding van kruis-en-opstanding. Die stilte is nie net in die mond van die vroue nie, maar ook doelbewus in die hand van die skrywer van hierdie evangelie, en ons word doelbewus (by die verkondiging van die geheim en goeie nuus) ingetrek. Trouens, die punt is eintlik dat die stilte juis ook in die oor en mond van gesofistikeerde lesers/hoorders van hierdie teks sal tuiskom. 

Tweedens, voor ons nou op hol gaan met die storie, is daar iets aan die stilte en vrees wat ons liefs nie moet verloor in die verkondiging hiervan nie. Dit is ’n groot uitlek van die storie (Messiaanse geheim) wat hier plaasvind – ’n “great scoop” wat ons ontvang as gelowiges – maar die bewende vrese en dawerende stilte in die noutes van die graf moet liefs nie te gou vergete raak in die ooptes wat hierna mag volg nie. Oppervlakkig en sensasioneel is die nuus nie, en daarom is die boodskapper ook nie voortvarend en arrogant nie. Kortom, wie hierdie ruimte betree waarby ons ingetrek word, ontdek dat dít wat hulle die eerste sou snap, voorwaar nog vantevore vir ons ondenkbaar was. Die vroue was as’t ware nog te naby aan die sentrum om die geheim te snap, en daarom bevind ons onsself dikwels in die verkondiging van die verhaal in die teenwoordigheid van hoogs onwaarskynlike (dog verbeeldingryke) karakters soos die “centurio, wat reg oorkant Hom gestaan het, Hom sy asem so sien uitblaas, en sê: ‘Hierdie man was werklik die Seun van God!’” (Markus 15:39). Wie dít snap en dan verkondig, besef voorwaar ook dit is ’n radikale en verbysterende aangeleentheid.

Maar dalk is dit ’n eenmalige en geïsoleerde voorval wat hier aan die voet van die kruis plaasvind? Nee, dit is allermins die geval. Dit is veel eerder eens-en-vir-altyd radikaal hoe die evangelie die buitestanders inlaat in die voortgaande wendings van die verhaal.  Die jong man met die stola wat die nuus aan die vroue bekendmaak in die graf (Markus 16:5), is toe al die tyd niemand anders nie as hy van wie ons vlugtig vroeër gehoor het, “Ook ’n sekere jong man met net ’n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg. Hulle het hom ook gegryp, maar hy het die linnedoek laat los en nakend weggevlug” (Markus 14:51-52). Die Messiaanse geheim is uit, sonder om daarmee te kenne te gee dat nóg die geheim, nóg die Messias, verlore en vergete sou raak. Só is ons in die verhaal ingetrek; ja, selfs aangetrek.

Daar is voorwaar iets te sê vir die vroue se vrese en swye … en só op loop te gaan met die verkondiging dié Vrouemaand.

116 | Maatskaplike NOODLYN