Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ons Digitale Bedieningsnetwerk

– ’n bron van onontbeerlike en betroubare hulpmiddels wat ons kan help om dieper en wyer oor die inhoud van die Christelike geloof na te dink –

Die meeste van ons het deesdae ’n slimfoon of skootrekenaar waarmee ons daagliks op hoogte bly van wat wêreldwyd aan die gebeur is. Om al hierdie inligting egter sinvol te verwerk en die kaf van die koring te probeer skei, is nie altyd so maklik nie.

Daarom is ons Sinode Vrystaat gelukkig om die Digitale Bedieningsnetwerk tot ons beskikking te hê;  ’n bediening wat deur middel van elektroniese tegnologie in diens van die kerk en haar teologie wil staan.

Een van dié netwerk se belangrikste hulpbronne tot ons beskikking is die Joernaal vir Sistematiese Teologie (JST) – ’n tydskrif wat akademiese artikels oor sistematiese teologie en die verbande wat dit met filosofie, hermeneutiek, letterkunde en die kunste het, publiseer.  Beide die JST en ’n YouTube-kanaal wat verskeie lesings en onderhoude aanbied, is verlede jaar in die lewe geroep – onontbeerlike en betroubare hulpmiddels wat ons kan help om dieper en wyer oor die inhoud van die Christelike geloof na te dink.

So, wat behels die JST en waarom is dit van belang vir die kerk?

Op hierdie vraag antwoord prof Henco van der Westhuizen, sameroeper van die Sinode Vrystaat se Digitale Bedieningsnetwerk, as volg: “In sy Annie Kinkead Warfield Lectures (1963-1964) het Hendrikus Berkhof alreeds van ‘n analfabetisering van die Christelike geloof gepraat. Die analfabetisering het nie net daarmee te make, soos Berkhof bedoel het, dat die inhoud van die geloof (dit waarin geglo word) minder belangrik was of is of geword het as ‘n geloofsgevoel nie. Dit het ook daarmee te make dat daar nie verder of dieper of wyer oor die inhoud van die Christelike geloof gedink word nie.

“’n Teologiestudent is gewoonlik maar net een maal ’n student wat dikwels, na legitimering, nie juis verder teologiese navorsingstudies lees nie – die boeke oor God is reeds toegemaak. Sy of hy het darem nog ’n beeld van wat tóé, tydens sy of haar studentedae, in die lig van die Bybelse tradisies oor God geskryf is. God is vasgevang in dié of daardie handboek, dié of daardie belydenis – of eerder – die bepaalde interpretasie van daardie handboek en belydenis.”

Van der Westhuizen verduidelik verder: “Dis in hiérdie milieu wat die Joernaal vir Sistematiese Teologie ‘n oop boek wil wees en word – of dalk eerder ’n biblioteek. ’Oop’ in die sin dat dit op die internet beskikbaar is vir wie ook al dit wil aflaai. ‘Oop’ in die sin dat daar nie finaliteit in is nie; dit is ’n joernaal, soos in die Franse woord, journal, wat ‘daagliks’ beteken. En die ‘daagliks’ herinner natuurlik weer aan herhaling, ‘weer en weer’, maar tog ook opnuut, en so ook nooit maar net nie, maar ‘oop’ met die bedoeling dat dit gesprek wil open – op só ’n manier dat dit dalk selfs ‘openbaar’. Die joernaal wil so ook ‘onthul’ – bedoelende dat die skynbaar geslote of onontginde verhaal van teologie in meer detail vertel moet word.”

Die vier afdelings van die JST

Van der Westhuizen verduidelik: “Die eerste deel wil die leser verwelkom in die grammatika van die Christelike geloof. Dit wil lesers inlei in ’n nuwe taal, want ook die teologie praat in tale. Daarom is daar hierdie inleiding tot die teologie. As ek na julle toe kom en ongewone tale of klanke gebruik, van watter nut sal ek vir julle wees? Ek sal vir julle net van nut wees as ek ‘n openbaring of kennis of profesie of lering aan julle meedeel. (1 Korinthiërs 14:6)

“Die tweede deel heet die leser welkom deur middel van die resepsiegeskiedenis van ’n bepaalde tema – elders én in Suid-Afrika voor 1994. Waarom 1994? Want dit was die jaar wat John W de Gruchy en Charles Villa-Vicencio hulle Doing theology in Context gepubliseer het.

“Die derde deel is ’n innodiging en nooi die leser in tot die Suid-Afrikaanse resepsie van die temas tot en met vandag. Vandag, soos in hiérdie dag, soos in ’n joernaal. Want die lewende God is lewend, vandag!

“Die vierde en laaste deel is ’n uitnodiging, en nooi die leser uit tot gesprek. Dit handel oor die doen van teologie in Suid-Afrika vandag – teologie waarin alle gelowiges handel; teologie wat almal willens of wetens doen. Die ‘doen’ van teologie is meersinnig. Dit verwys na die beoefening van teologie; dit wat elke gelowige wat in die Drie-enige God glo, doen.”

Van der Westhuizen verduidelik verder: “Maar die dóén, die in- en beoefening van teologie, is ook die uitoefening van die teologie. En ook dáárom is dit so belangrik vir die kerk. Met ander woorde, dié projek is vir die kerk – die mense van God, die liggaam van Christus, die tempel van die Gees – belangrik, omdat God vir die kerk belangrik is. Die vraag is uiteraard nie bloot óf die mense in God glo nie. Die vraag is Wie hierdie God is; wat dit beteken om deel van hierdie God, geopenbaar in Jesus Christus se liggaam, te wees. Wie is dié God wat vir ons as God se tempel beskryf.”

Wat is in 2022 gedoen en wat is die visie vir 2023?

Van der Westhuizen verduidelik: “Die Joernaal van Sistematiese Teologie is in 2022 bekendgestel en verskeie artikels is daarin gepubliseer oor onderwerpe soos hermeneutiek, die taak van teologie, die Drie-enige God, die skeppingsleer, die verlossingsleer, politieke teologie, filosofiese teologie, ekoteologie, teologie en die wetenskap, asook teologie en literatuur. Hierdie artikels is beskikbaar by www.journalofsystematictheology.com

“Ons beplan om vanjaar onder meer artikels te publiseer oor die Bybel, die Christologie, die pneumatologie, die sondeleer, die Doop, die Nagmaal, teologie en belydenis, teologie en ervarings, en teologie en film.”

Buiten die JST is daar ook ’n YouTube-kanaal begin waar ’n reeks lesings deur prof Bernard Lategan oor die hermeneutiek reeds beskikbaar is.

Nog ’n bonus is die Reader in Trinitarian Theology wat gratis vir gemeentes beskikbaar is. 

Kontak prof Henco van der Westhuizen by hvdw@ufs.ac.za of WhatsApp hom by 072 180 8181 vir meer inligting.

116 | Maatskaplike NOODLYN