Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Aardedag

Deur Mariëtte Odendaal

Of jy nou besluit om minder plastiek te gebruik, ’n boom te plant, water te bespaar, of bloot ’n oomblik te neem om God te loof vir die wonder van die skepping – elke klein aksie dra by tot ’n groter, gesonder toekoms vir ons planeet en vir geslagte wat ná ons kom.

Op Dinsdag 22 April word daar wêreldwyd Aardedag gevier: ’n belangrike geleentheid wat mense regoor die wêreld jaarliks inspireer om hul verbondenheid met die skepping te herontdek en te herbevestig.

Die eerste Aardedag is in 1970 gevier; iets wat sedertdien ontwikkel het tot die grootste omgewingsbeweging ter wêreld. Vandag werk dit saam met meer as 75 000 vennote in meer as 190 lande om aksies te dryf wat ’n blywende positiewe impak op ons planeet het.

 Die doel van Aardedag

Dit is om diversiteit te bevorder, opvoeding te versterk en mense wêreldwyd te inspireer om as rentmeesters van die skepping op te tree.

Dit is ’n dag waarop ons as gemeenskappe, instellings en individue opnuut moet nadink oor ons verantwoordelikheid teenoor die natuur en maniere vind om ’n verskil te maak – al is dit net deur klein, doelbewuste veranderinge in ons daaglikse gewoontes te begin aanbring.

 Ons plig as Christene

As Christene word ons roeping tot omgewingsbewaring gegrond in ons geloof. Genesis herinner ons daaraan dat God die hele skepping as “goed” verklaar het, en ons het die opdrag om dit met respek en verantwoordelikheid te bestuur. Ons mag oor die aarde is nie ’n lisensie om te vernietig of uit te buit nie, maar eerder om met ’n heilige roeping te sorg vir die wêreld wat aan ons toevertrou is.

Elkeen van ons speel ’n rol in die ekologiese uitdagings wat ons wêreld in die gesig staar. Daarom is dit noodsaaklik dat geloofsgemeenskappe aktief betrokke sal raak by die bewaring van die skepping.

Of jy nou besluit om minder plastiek te gebruik, ’n boom te plant, water te bespaar, of bloot ’n oomblik te neem om God te loof vir die wonder van die skepping – elke klein aksie dra by tot ’n groter, gesonder toekoms vir ons planeet en vir geslagte wat ná ons kom.

Laat ons saamwerk om ’n nalatenskap van omgee en hoop vir die skepping te bou!