Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Kroniese Kronieke – narratiewe van ’n nuwe normaal Skuldig

Deur dr Suzanne van der Merwe,

besigheidshoof en woordvoerder van Kroniese Kronieke

Wanneer kroniese moegheid ’n vonnis word 

Hierdie artikel bring Kroniese Kronieke se voortgaande navorsing oor kroniese siekte in gesprek met die persoonlike ervaring van aanhoudende moegheid en sosiale vooroordeel. Die fokus val op selfbestuur, ondersteuning deur versorgers en professionele persone, asook die werks- en gemeenskapsruimtes waarin mense met kroniese siekte uitdagings leef. Vanuit ’n waardegedrewe raamwerk wat ook binne geloofskringe resoneer, word wetenskaplike kennis en persoonlike verhale saamgelees: die een bied begrensing en meetbaarheid; die ander gee menslikheid en erkenning. 

Dr Suzanne van der Merwe (Navorsingshoof en woordvoerder van Kroniese Kronieke), in gesprek met M.H. Swan (Digter en navorsingsdeelgenoot).

“Baie siek. 

Min werk. 

Swakkeling.” 

Drie kort reëls. Byna soos drie houe van ’n regter se hamer. In haar gedig ‘Skuldig’, gepubliseer in Lamentoso: Ervarings van pyn (2025), skryf M.H. Swan oor die ervaring dat kroniese siekwees nie slegs pyn, moegheid en beperking bring nie, maar ook ’n aanklag. Die liggaam kan minder doen; sommige tipes werk raak meer uitdagend en selfs onmoontlik; en uit dié sigbare verskil word ’n oordeel oor die mens gemaak. 

Hierdie artikel volg op ‘Ek is moeg om moeg te wees’, gepubliseer in Vrypos, uitgawe 13: Koninkrykstyd (4 September 2026), waarin Swan se aanhoudende, nie-herstellende moegheid binne haar rumatoïede outo-immuunsiekte beskryf is. Nou verskuif die vraag: Wat gebeur wanneer verminderde energie en gepaardgaande kroniese moegheid nie as ’n funksionele beperking verstaan word nie, maar as gebrekkige toewyding, wilskrag en ʼn negatiewe identiteitsmerker? 

Vier onderskeibare bronne word hier saamgelees. Swan se gedig ‘Skuldig’ is die primêre literêre teks. Haar gepaardgaande gepubliseerde skryfprikkel bied bevestigde persoonlike konteks. Van der Merwe se gepubliseerde refleksie is ’n interpretatiewe parateks en nie Swan se eie verklaring nie. Die breër gevolgtrekkings oor werk, ondersteuning en betekenisvorming is Kroniese Kronieke se teoretiese en praktiese afleidings. Hierdie onderskeid beskerm Swan se stem teen toeëiening. 

Wanneer beperking ’n vonnis word 

Swan se gedig plaas die persoonlike ervaring binne die konteks van die juridiese stelsel waar ʼn uitspraak sonder behoorlike ondersoek en verhoor tot ʼn skuldigbevinding lei.  

“Skuldig bevind. Sonder ’n verhoor.” 

Die aanklag word saamgepers tot ’n wrede produktiwiteitsom: baie siek, min werk, swakkeling. Wat die persoon kan lewer, word die maatstaf van wat sy werd is. 

Medies is hierdie gevolgtrekking onverantwoordbaar. Moegheid by inflammatoriese rumatiese siektes is ’n komplekse ervaring waarin biologiese, psigologiese en sosiale faktore kan saamwerk. Dit kan wissel van persoon tot persoon en kan liggaamlike, verstandelike en emosionele vermoë beïnvloed. Om minder te kan doen, is nie bewys dat iemand minder wil doen nie. Moegheid wat stremmend is vir werksuitset is nie ʼn aanduiding van swakheid nie. Kroniese siekwees en selfbestuur van energie regverdig nie ʼn vonnis nie. 

 

Vir Swan is die onderskeid eenvoudig, maar ingrypend: “Ek kan nie” is nie dieselfde as “ek wil nie” nie. Tog kan ’n werksomgewing hoofsaaklik sigbare uitset raaksien. Die ure wat gewerk word, take wat voltooi word en verantwoordelikhede wat aanvaar word, word maklik as getuienis van toewyding gebruik. Sy sou graag werksverantwoordelikhede vinniger en met groter gemak wou afhandel, maar die onsigbare koste van voorbereiding, pyn, konsentrasie, herstel en die voortdurende bestuur van beperkte energie bly buite die verslag. 

Die vonnis word geïnternaliseer 

Die oordeel wat soms oor ʼn persoon uitgespreek word, bly nie altyd buite die mens nie. Herhaalde vrae – “Wat is tog nou weer fout?” of “Wat wil jy nou weer makeer?” – kan deel word van die manier waarop ’n mens na jouself begin kyk. Van der Merwe skryf in haar refleksie, gepubliseer in Lamentoso (2025): “Skuldgevoelens bekruip ’n mens onverhoeds, dit lê my lam.” Dit is haar interpretatiewe verwoording van hoe onsigbaarheid van energieverlies, onderskatting van kroniese moegheid en onsensitiwiteit ’n verdere las kan word. 

Die beweging is subtiel en vir Swan word dit ʼn nuwe identiteitsmerker: “Ek kon vandag nie alles doen nie” verander in “Ek het nie genoeg gedoen nie” en later in “Ek is nie (goed) genoeg nie.” ’n Funksionele beperking word eers ’n skuldgevoel en daarna ’n aantasting van identiteit en waardigheid. 

In Swan se skryfprikkel van haar gedig verskyn maskering as ’n beskermingshandeling. Om ’n masker van gesond wees te dra, kan help om beskuldigende vrae en optrede te vermy. In hierdie konteks is maskering nie noodwendig oneerlikheid nie; dit kan ’n poging wees om veiligheid, werkverhoudings en menswaardigheid te beskerm, maar die beskerming het ’n prys: die werklike behoefte bly onsigbaar, ondersteuning word minder moontlik en die persoon gebruik nóg meer energie om gesond te lyk. 

’n Teengetuienis 

Die antwoord is nie om alle verantwoordelikheid te ontken of elke werkseis as onredelik te verklaar nie. Dit is om die getuienis vollediger te lees. Funksionering ontstaan nie net uit wilskrag nie, maar uit die wisselwerking tussen ’n gesondheidstoestand, persoonlike vermoë en die omgewing waarin deelname verwag word. 

Selfbestuur kan vir Swan beteken dat sy haar beskikbare energie eerlik beoordeel, prioriteite bepaal, grense stel, rus inbou en hulp vra. Hierdie handelinge is nie ’n bekentenis van swakheid nie. Dit is verantwoordelike sorg vir volhoubare deelname. Ondersteuning begin wanneer ander nie vooraf besluit wat sy behoort te kan doen nie, maar in gesprek vra: “Wat is vandag moontlik?” en “Watter aanpassing sal jou vandag help?” 

Daarmee verander die rol van die buitestaander: van regter na luisterende getuie. ’n Regter vergelyk uitset met ’n vaste norm en spreek ’n oordeel uit. ’n Luisterende getuie neem die persoon se beleefde werklikheid ernstig op sonder om alles volledig te verstaan of namens haar oor te neem. 

Hier raak geloof en waardes konkreet. ’n Mens se waardigheid rus nie op ononderbroke produktiwiteit, ’n gesonde voorkoms, verwagte dankbaarheid of geestelike prestasie nie. Hoop hoef ook nie te beteken dat die moegheid verdwyn of dat Swan alles weer sal kan doen nie. Hoop kan begin waar die verkeerde vonnis teengestaan word: minder energie beteken nie minder toewyding nie; stadiger en meer moeitevolle uitset beteken nie minder menswaardigheid nie. 

“Skuldig en jy mag nie appelleer,” skryf Swan oor haar ervaring van sosiale oordeel. Kroniese Kronieke staan dit teen met ʼn teengetuienis: “Ons sien jou!” Ons kyk nie slegs na die hoeveelheid werk wat oënskynlik onvermoeid en binne tydsbeperkende raamwerke voltooi is nie. Ons probeer ook sien wat deelname kos, wat onsigbaar gedra word en waarom ʼn kroniese siek persoon se woorde “Ek kan nie nou nie,” – “Ek het ʼn bietjie meer tyd nodig,” en “Dit is net nie vir my moontlik nie” – geglo kan word. 

Kroniese Kronieke meen nie dat die groot skaduwee van moegheid deur erkenning verdwyn nie, maar erkenning neem die regter se hamer uit ons hand en maak ruimte vir ’n mens om sonder skande te sê: “Vandag kan ek minder. Ek bly steeds waardig. Ek bly steeds ek.”

Oorweeg jy dit om jou verhaal met Kroniese Kronieke te deel?

Kontak dr Suzanne van der Merwe by suzanne@kroniesekroniekeonline.com

Besoek Kroniese Kronieke se webblad vir meer inligting oor outo-immuunsiektes.

Volg hulle op Facebook (@kroniesekronieke) en YouTube (@KronieseKronieke).

Kry die Kroniese Kronieke-boek, Lamentoso, te koop op dié aanlyn-winkel.