Dis Vrouemaand. Alhoewel mens hier sou kon kyk na Bybeltekste wat na vroue verwys, of eietydse uitdagings wat vroue-liturge beleef, is hierdie skryfstuk geΪnspireer deur ’n vrou wat die afgelope maand ’n indruk op my gelaat het. Ek dink vir ’n oomblik terug aan Saterdag, 20 Julie toe talle rugbyliefhebbers, met die wedstryd in Bloemfontein tussen die Springbokke en Portugal, gesien het hoe die eerste vroueskeidsregter, Hollie Davidson, in ’n Springboktoets blaas.
Alhoewel die liturgie van ’n sportwedstryd ook die liturgie waaraan ons op ’n Sondag in die erediens deelneem reflekteer, en daar ook in iets soos ’n sportwedstryd liturgiese elemente nagespeur en geïdentifiseer kan word, kan die verband tussen liturgie en ’n sportwedstryd ook in ’n metaforiese sin verstaan word. In sy werk Dancing with Deity: Re-imagining the beauty of worship (2018) help Johan Cilliers ons om te sien hoe die beeld van ’n wedstryd, ’n spel, ons kan help om dit wat ons Sondae tydens die erediens doen, verder te verstaan.
Vir Cillilers (110) kan die ontmoetingsgebeure tussen God en sy gemeente wat op Sondag tydens die erediens plaasvind, gesien word as ’n spel, ’n soort voorspel. ’n Oomblik waar mens die kans kry om te speel voor God en saam met God. Die verstaan van die erediens as ’n soort speelgrond om met en saam met God te speel, is om te leef met die verstaan dat ’n mens nie nodig het om ’n “wenner” te wees om deel te neem nie. Die spanning tussen die “alreeds” en die “nog nie” laat ons toe om die “spel” waaraan ons deelneem tydens die erediens as ’n soort “voorspel” te sien. Ons mag saam deelneem aan die “voorspel” terwyl ons met afwagting wag vir dit wat kom, of eerder die Een wat (weer) kom (120).
Cilliers (116) beskryf die funksionaliteit in die disfunksionele verstaan van ’n speletjie, of dan “om te speel”, deur te stel:
In this game we know: The person who does not play is a barbarian. But we also know: We do not play for a pleasure that spoils the pleasure of other players – that would also be barbaric. This game is not a competition, like a soccer match between Brazil and Argentina, [or a rugby match between South Africa and Portugal]. The purpose is not to win at all costs – this play with dancing, sound, colour, form and language is something different from the play for the sole purpose of victory. The “purpose” here is the glory of God.
Dit is juis die verstaan van die erediens as ’n spel, ’n voorspel, wat ons help om al meer in die menslike te leef. Wat ons nooi om met ons skete en pyne, ons tekortkominge, saam te speel, want in die erediens gaan dit van begin tot einde net om God se eer. Soos Marva Dawn dit ook stel:
To worship the Lord is – in the world’s eyes – a waste of time. It is, indeed, a royal waste of time, but a waste nonetheless. By engaging in it, we don’t accomplish anything useful in our society’s terms. Worship ought not to be construed in a utilitarian way. Its purpose is not to gain numbers nor for our churches to be seen as successful. Rather, the entire reason for our worship is that God deserves it …