uitvoerende amptenaar van Bedieningsbegeleiding
Een van die interessante gebruike wat ek in my eerste gemeente teëgekom het, was dat confetti verbode was!
Ek het nog grootgeword met die gebruik dat die bruidspaar, wanneer hulle uit die kerkgebou uitstap, van alle kante met gekleurde confetti bestrooi word. Dikwels is dit ook elders gebruik: soos in my motor se luggate, of in die bruidspaar se kleretasse. Maande later is ’n onverwagse flentertjie papier steeds getuie van die heuglike dag.
Nou waarom dan die confetti verban? Die antwoord lê in die confetti se nagevolge: alles word bemors! Confetti maak mooi foto’s, maar maak moeilik skoon. Die koster sukkel met die confetti op die kerk se matte, net so ook met roosblare. Daarom is dit summier verbied.
Dalk is dit tyd vir die kerk om ’n ander gebruik ook summier te verbied: die loslaat van ballonne by troues en begrafnisse. Die probleem met confetti was een van ongerief – ballonne het ’n ekologiese impak. Anders as die klein, dun stukkie papier wat bio-afbreekbaar is, vergaan ’n plastiekballon nie sommer nie.
Gewone latex ballonne neem maande om te vergaan, terwyl die foelie-tipe byna nooit vergaan nie, die plastiek breek net af in ál kleiner stukkies. Terwyl die ballon in die lug is, kan dit kilometers ver dryf voordat dit bars en op die grond val. Daar waar dit val, word dit ’n probleem. Nie alleen is dit besoedeling van die omgewing nie, maar die plastiek word dikwels deur diere en visse aangesien as kos en beland dan in hulle ingewande waar dit hulle kan doodmaak. Naas plastieksakke en plastiekbottels, is ballonne nou die derde grootste besoedelaar.
Dalk is dit tyd om anders te begin dink oor ballonne.