Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

’n Opstandingsruiker vir Anneke

“Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Op Opstandingsondag 9 April het ek ’n hartsvriendin verloor: Anneke Lamont, uitnemende pianis, maar in my persoonlike lewe veral ’n geestelike kragbron. Sy was beide my opvolger en my voorganger as sameroeper van die Spiritualiteit Netwerk van NG Kerk Vrystaat se portefeulje Bedieningsbegeleiding. Ek kom nou eers, na al die mooi huldeblyke reeds gebring is, tot verhaal oor die verlies in my eie lewe.

Ek onthou Anneke in fases. Die eerste was toe ek en my man as jong predikantspaar in die gemeente Lyttelton-Oos in Verwoerdburg aangeland het. Oorkant die militêre pad was die buurgemeente Kloofsig, met ds Jannie van Heerden (wat later baanbrekerswerk gedoen het as predikant onder die dowes in Pretoria) en mev Lou van Heerden, begaafde klavieronderwyseres. En dan die vier talentvolle dogters, Anneke en haar susters.

Heelwat later was daar die Adoramusdienste, die stilword-dienste in die kapel van die Stellastraat-kerk in Pretoria, waar Anneke met fyn aanvoeling die klavierbegeleiding waargeneem het. In die kerk het sy die orrelbegeleiding gedoen – in pienk balletskoene. In daardie tyd het ek in haar Vier Windrigtings-koor gesing, ’n koor wat sy telkens vir spesiale geleenthede in die kerklike jaar letterlik uit die vier windrigtings bymekaargemaak het om wonderlike musiek te sing. Almal was welkom en kon deel in die gloed van die musiek onder haar entoesiastiese leiding.

Toe ek na Philippolis verhuis, het ek onder aansporing van dr Carin van Schalkwyk, nog ’n hartsvriendin wat ons ontval het, ingeskryf vir die kursus in Spirituele Begeleiding onder leiding van Willem Nicol en sy span in Pretoria. Daarvoor moes ek elke twee maande vir ’n vierdag-studieblok Pretoria toe ry. Ek moes ook gereeld ’n gesprek met ’n spirituele begeleier hê, verkieslik iemand in Pretoria op die kursuslys. Dit was in die dae voor Covid en Zoom, en hoe gesels ek nou met ’n begeleier in Pretoria as ek in die verre Suid-Vrystaat bly? Geen probleem nie, Anneke is nou in Bloemfontein, sy sal instaan – sy was een van die eerste opgeleides toe die kursus in die dekade van 2000 in Pretoria begin is.

En so breek ’n ryk tyd aan van deel op ’n besondere diep vlak. Anneke as begeleier was met haar hele wese teenwoordig, sy kon intens luister, sy was gemaklik met stilte … sy kon lank nadink en dan met ’n oorwoë en verrassende insig na vore kom. Sy was ’n sentrale element in my proses om die trauma van ’n gewelddadige aanval op Philippolis te verwerk. Haar geloof was met haar totale bestaan verweef. Sy het gelag (daardie wonderlike lag!) en vertel toe sy as musiekstudent in Kaapstad aanland, het haar medestudente gesê: Ag Anneke, al waarvan jy weet is Bach en die Bybel.

Toe ek ná drie jaar weer na die noorde moes verhuis, moes ek die Spiritualiteit Netwerk oorgee – aan wie? Ek het Anneke met huiwering genader, en – besige program as dosent en uitvoerende kunstenaar ten spyt – het sy oorgeneem met haar kenmerkende blydskap en entoesiasme. Ons het mekaar steeds gereeld gesien, en ek het met skok verneem dat haar siekte weer posgevat het. Op ’n stadium het sy gesê sy kan nie meer voortgaan met die netwerk nie, en ek het weer oorgeneem.

Kort voor haar uitvoering van die Mozart-klavierkonsert no 20 saam met die Vrystaat-simfonieorkes onder die stok van Gérard Korsten verlede jaar in die lente kon ek op ’n Sondag nog heerlik saam met haar en Arnold hoender braai en kuier op die stoep van hul Gariepdam-huis, met botterblomme wat in geil polle op al die sypaadjies blom. Die uitvoering op 3 September in die Sand du Plessis-teater was ’n kragtoer – bittersoet, want sy toe al baie siek.

Oor die afgelope Pase was daar ’n bewustheid dat die einde nader. Ek het besluit om die naweek in algehele afsondering en stilte deur te bring. Om my hande besig te hou, het ek ’n gerf wit kosmos in die veld gaan pluk en met ’n skildery in waterverf en ink begin. Teen vyfuur die Sondagmiddag, toe my skildery klaar was, het die boodskap gekom dat Anneke verhuis het. Haar plek was gereed.

Foto’s verskaf:

Links: Die skildery

Middel: Die gerf kosmos

Regs: Anneke op ’n mistige Januariemiddag in die tuin van die Hermitage van St Franciskus van Assisi. Foto vriendelik beskikbaar gestel deur Elmarie van der Vyver; baie dankie!

116 | Maatskaplike NOODLYN