Ek het die eerste maal in my lewe bewus geword van die examen toe ek ‘n pastorale kursus gedoen het. Dit was lewensveranderend. Dit het my genoeg geprikkel om meer daarvan te leer. Soms is die lewe, soos hy maar loop, so erg intimiderend dat ‘n mens stom voel. Om agtergrond te gee, was St Ignatius van Loyola, as gevolg van ‘n besering, gedwing om vir ‘n tyd lank in sy familie-kasteel te herstel. Dan was daar baie tye waar hy kon dink aan die dinge wat hy reeds behaal het, maar ervaar dat dit baie meer vervullend is om te droom oor hoe dit sal voel om ‘n “Jesus-follower” te wees. Hy was ’n soldaat en baie lief vir vroue. Hy was uitsonderlik in die sin dat hy die eerste heilige met ‘n polisierekord was. Hy was dus ook ‘n gewone mens.
Die examen is ‘n metode van bid waartydens jy jou dag herroep in die teenwoordigheid van God. Dit is eintlik ‘n ingesteldheid waar jy dankbaar na die teenwoordigheid van God in jou daaglikse lewe kyk. Jy ondersoek nie net jou alledaagse bestaan nie, maar ondersoek en weeg jou dade en gedagtes om ten einde laaste in die voetspore van Koning Jesus te volg. Dit help met die besef dat God nie daar ver is nie, maar hier by jou waar jy kos maak of in ‘n zoom-vergadering sit. . . of dat Hy ook in jou hartseer, frustrerende, omgekrapte dag ook is. Die besef dat daar niks in ons lewe is wat vir God onbelangrik is nie, maak my rustig. Ek vergeet dit soms as angs en onsekerheid my oorweldig. Die doel van die examen is om ‘n gebalanseerde, akkurate weergawe van jou daaglikse lewe te gee tot God se eer. Waar ek kortkom, bewus te word waar ek kan verander sodat God meer en meer in my te voorskyn sal kom. Dit is nie die enigste manier om te bid nie, maar dit is sinvol, helend en versterkend wanneer ek dit doen.