Deur Mariëtte Odendaal
Die meeste van ons het al begin om ’n denneboom, hetsy van ’n kwekery of een van plastiek uit ’n winkel, in die een hoek van ons woonvertrek te versier. Aanhangers van Koos du Plessis se ‘Somerkersfees’ het waarskynlik ’n garing- of doringboompie volgens eg-Suid-Afrikaanse tradisie in die hoek.
Ná weke van flikkerende liggies, blink engeltjietou en vrolike en kleurvolle figuurtjies aan die takke, is dit helaas tyd om die versierings af te haal en vir volgende jaar te bêre. Die kinders en kleinkinders is weg, die vrolike samesyn is iets van die verlede en dis tyd om die Kersfeesboom uit die stil huis na die komposhoop te sleep. Dis ’n treurige affêre.
Maar dit hoef nie so te wees nie.
’n Britse maatskappy, The London Christmas Tree Rental, verhuur Kersfeesbome in plaas daarvan om dit te verkoop. Die idee is dat jy dit na Kersfees weer terugbring en hulle dit dan vir die volgende twaalf maande sal versorg totdat jy dit weer vir Kersfees nodig het. Jy kan selfs weer dieselfde boom huur as jy wil en op hierdie manier sorg dat ‘jou’ boom elke Kersfees in dieselfde huis en met dieselfde familie feesvier.
So word jou boom dan jaarliks tussen Kersfeestye versorg totdat dit sy ‘aftree’-hoogte van 7 voet (2,13 m) bereik het en dit in ’n woud herplant word.
Wat ’n blink gedagte wat in ’n fantastiese projek omskep is – en wat keer ons hier in Suid-Afrika om dieselfde te doen?