Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Lammers en leeus

Die leeu is meermale in die Bybel ‘n baie negatiewe beeld. Terwyl baie kerke en sprekers hulle volgelinge aanmoedig om leeus te wees soos die “Leeu van Juda” is dit glad nie ‘n beeld wat God gereeld vir Homself gebruik nie. Selfs die een plek waar daar na Jesus verwys word as die “Leeu van Juda” is dit net in naam, want selfs daar is Sy beeld nie ‘n leeu nie, maar ‘n lam.

“Die Lam wat geslag is”.

“Die Offerlam”.

“Die Lam wat Homself gegee het aan ‘n ondankbare wêreld”.

“Die Lam wie se keel afgesny is deur ‘n wrede en onregverdige wêreld”.

Wat het dit met my kinders te doen?

Ek moet hulle grootmaak in hierdie einste wêreld wat nie eens die Lam gespaar het nie. G’n wonder dit is so ‘n populêre idee om “leeus” te wees nie … dit is wat die wêreld nog altyd wou wees. Maar ek het ‘n God wat my wys hoe om die lam te wees. Hoe om nederig en sagmoedig te wees, hoe om te vergewe en op te bou.

Die ironie is dat dit natuurlik baie meer krag vra om ‘n lam te wees as ‘n leeu in ‘n wrede wêreld. Dis maklik om ‘n leeu te wees, want dit vra nie opoffering nie – almal wil dit doen. Die Lam vra om soms onreg te dra en ‘n sagte stem te gebruik wanneer ander skree. Om te staan vir die waarheid, selfs al beteken dit dat die leuens oor jou gaan loop.

Om ‘n lam te wees beteken nie dat ek die wêreld gaan regruk en geregtigheid gaan bring vir almal nie. Dit beteken soms dat ek seer harte gaan opbind en vir ander gaan wys dat daar ‘n beter manier is om dinge te doen. Ek wil graag hê dat my kinders nie seerkry nie, maar ek wil ook graag hê dat hulle daardie tipe krag in hul binneste moet hê. Die heilige, Goddelike krag om met liefde, vreugde, vrede en hoop te kan lewe in hierdie stukkende wêreld.

Hoe doen ek dit?

Hoe kan ek hulle so sterk maak? Nie deur hulle te leer kla en skree oor alles wat verkeerd loop nie. Nie deur hulle te leer onvergenoegd te wees met wat hulle het nie. Nie deur hulle te wys dat ons almal moet haat wat ons bedreig nie. Dit gaan ook nie help om hulle bang te probeer praat vir die onsekerheid van môre nie en nog minder om hulle te probeer beskerm teen al die slegte invloede wat moontlik hulle pad kan kruis.

As ek wil hê dat my kinders die krag en standvastigheid van die Lam moet hê, moet ek hulle wys dat ek Hom vertrou met my eie lewe, werk en toekoms. Ek moet hulle wys hoe ek sagter woorde kies eerder as kwaai woorde, want ek weet die Lam vra dit van my. Ek moet hulle wys dat my lewe hier op aarde nie so belangrik is soos my gehoorsaamheid aan die Lam nie. As ek dit kan doen, sal my kinders weet dat die Lam hulle vaste punt in ‘n onseker wêreld is.

As ek dit nie self kan doen nie, sal al my gepreek en baklei en reëls nie help nie. As ek dit nie self leef nie, sal al die kategese van die kerk en al die godsdiens wat party so veg om in die skole te hou nie red nie. Die kerk en die skool en niemand anders sal ooit harder praat in my kinders se lewe as my eie voorbeeld nie.

Ons kinders leef in ‘n rowwe, vinnig veranderende wêreld. Ons kan hulle nie beskerm teen elke aanslag nie, maar ons kan hulle vreeslose Lammers leer wees wat nie skrik vir die jakkalse en leeus nie.

Psalm 34:11-15

“Selfs leeus ly gebrek en kry honger, maar wie die Here se hulp vra, kom niks kort van al die goeie dinge nie. Kom, kinders, luister na my! Ek wil julle leer hoe om die Here te dien. As iemand die lewe liefhet en ‘n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!”

Foto verskaf: Ds Francois Lamprecht, sameroeper van die JONK Netwerk.
116 | Maatskaplike NOODLYN